Toyota se verbeterde RAV4 sit ‘n trotse tradisie voort
Die bekendstelling van Toyota se oorspronklike RAV4 so twee dekades gelede het in die jare daarná selfs dié vervaardiger se stoutste verwagtinge oortref. En sonder twyfel gaan die nuutste en vierde generasie RAV met sy vyf verskillende modelle ‘n nuwe hoofstuk byvoeg tot hierdie suksesverhaal en sal sy mededingers in die gewilde SUV-marksegment hulle sokkies moet optrek.
Dit sal sekerlik ook nie ‘n té vergesogde stelling wees nie om te sê dat met die bekendstelling van die eerste driedeur-variasie van die RAV ‘n nuwe segment in die motormark geopen is wat die meeste ander motorvervaardigers ietwat onkant betrap het. Ironies genoeg is dit juis in hierdie marksegment, wat Toyota se RAV destyds geskep het, waar hy nou stewige mededinging ondervind.
Met die verloop van die jare ná sy bekendstelling het die RAV4 deur ‘n proses van evolusie wegbeweeg van die eertydse beeld van hoofsaaklik ‘n veldvoertuig na dié van ‘n meer familie-georiënteerde voertuig. In pas daarmee het Toyota dan ook die nodige stilistiese veranderinge en aanpassings aangebring wat moes pas by die RAV se nuwe beeld van ‘n meer elegante stadsvoertuig hoewel aggressiewe lyne behou is wat die veeldoeligheid van die RAV verder beklemtoon.
Die model wat oor die loop van ‘n paar dae op sowel teer- as grondpaaie toetsbestuur is, was die RAV 2.2 liter diesel GX AWD en by nadere kennismaking was dit gou duidelik dat Toyota se RAV4 steeds opwindende en avontuurlike rygenot met die nuutste meganika en luukshede kombineer. Die 2.2 liter turbo-diesel enjin lewer oorgenoeg krag en as gevolg van verbeterde insolasie is enjin- en padgeraas teen hoё spoed amper heeltemal afwesig terwyl die gladde en gerieflik geplaasde handratwisseling onverbeterlik was.
Die RAV4 bied stewige vering wat bydry tot uitstekende padgedrag op sowel teer- as grondoppervlaktes. Die tegnies hoogsontwikkelde stuurstelsel is op sodanige wyse geїntegreer met die vierwielaandrywing dat dit verdere veiligheid en beheer verskaf oor die voertuig soos wat spoed vermeerder.
Wat die buiteaansig betref is daar stilistiese verandering aan die LED-hoofligtegroep sowel as aan die agterligte asook aan die sierrooster en die voorste buffer aangebring wat die bekende Toyota voorkoms reflekteer en verder beklemtoon en wat die RAV4 se voorkoms in pas bring met dié van die Auris en Yaris modelle. Die agteraansig van die RAV4 is ook aangepas met subtiele veranderinge aan die afwerking van die deur van die bagasieruim, die agterste buffer, herontwerpte misligte en ‘n astrante haaivinvormige antenna wat alles bydra tot ‘n meer vaartbelynde voorkoms.
Die binneruim van die RAV is ook opgegradeer en verbeter deur beter binnebeligting, ‘n seweduim multimedia aanraakskerm en menige ander kenmerke om gemak te verseker. Ook die uitleg rondom die rathefboomarea is hersien en bied nou meer stoorplek vir bekers terwyl ‘n stoorplek vir jou sonbril geïnkorporeer is met die oorhoofse beligtingsgroep.
Verder bied die RAV4 se binneruim ook die gerief van Bluetooth-aansluiting, ‘n agteruitsigkamera, ‘n aanboordrekenaar om toginligting te verskaf asook klimaatbeheer. Aansluitingspunte vir iPods en MP3-spelers via USB of Bluetooth is ook beskikbaar en die uitstekende kwaliteit van die klankstelsel tesame met luukse sitgerief maak die langpad ‘n plesier.
Nuwe en verbeterde veiligheidskenmerke van die RAV sluit in outomatiese deursluiting wanneer die voertuig ‘n spesifieke spoed bereik, veiligheidsgordels vir die agterste middelsitplek wat outomaties sluit en terugtrek, sewe lugsakke en ‘n reeks van aktiewe veiligheidskenmerke soos ABS-remme met EBD, VSC (voertuigstabiliseringsbeheer) en traksiebeheer (TRC of Traction Control).
Kraglewering by die vyf verskillende opgegradeerde RAV4 modelle bestaan uit die 107 kW, 187 Nm 2.0 liter petrolenjin van die twee tweewielaangedrewe variante met ‘n sesspoed handratkas of dan die Multidrive S outomatiese transmissie, ‘n 110 kW, 340Nm 2.2 liter D-4D turbo-dieselenjin wat ook die geval is met die petrolvariant sover dit kraglewering betref (onderskeidelik die GX en VX AWD modelle) wat ook die keuse bied van ‘n sesspoed outomatiese of handratkas en dan die top in die reeks, die132 kW, 233 Nm, 2.5 liter VVT-i petrolenjin met ‘n sesspoed outomatiese ratkas, ook met vierwielaandrywing.
Toyota se nuwe generasie RAV’s se pryse wissel vanaf N$334 300 vir die 2 liter GX tweewielaandrywing intreemodel tot by die topmodel, die 2.5 VX outomaties se prys van N$466 100. Dit vergelyk goed met sy mededingers in hierdie segment wat insluit Ford se Kuga, Volkswagen se Tiguan, die Kia Sportage, Hyundai se iX35, die Chev Captiva en Mazda se CX-5.
Die volledige pryslys is:
RAV 2 liter GX 2WD N$334 300
RAV 2 liter GX CVT 2WD N$345 600
RAV 2.2 liter GX AWD (Diesel) N$416 100
RAV 2.2 liter A/T AWD (Diesel) N$497 100
RAV 2.5 VX A/T AWD N$466 100
Die RAV kom met die gebruiklike Toyota waarborg van 3 jaar/100 km en ‘n diensplan van 5 jaar/90 000 km wat beide verleng kan word.