Bekendstelling: Peugeot 2008

Die leeu word al beter en beter…

Peugeot is besig om sy sake in Suid-Afrika reg te ruk met die bekendstelling van die splinternuwe 2008 op die plaaslike mark; ‘n mark waar die kompakte “kruismodelle” (crossovers) vinnig aan die groei is en die kompetisie besonder taai is.

Talle lesers mag onseker wees oor wat kruismodelle nou eintlik is. ‘n Kort verklaring mag wees dat dit die nuwe term is vir die tipe stasiewaens wat vroeër die rowwe grondpaaie van Afrika mak gemaak het; modelle soos die 403 en 404-stasiewaens hier by ons en dan spesifiek ook my eie kompakte 204-stasiewa waarmee ek destyds Malawi en Mosambiek se bospaadjies plat gery het. Die eerste vereiste vir hierdie soort voertuie is dat hulle ‘n goeie grondvryhoogte moet hê en dat die bakwerk solied moet wees om die esktra stremmings van rowwe paaie te weerstaan. En dan natuurlik ook betroubare meganika. Vir my persoonlik is die nuwe 2008 die logiese opvolger van my ou 204 grondpadverkenner en het ons nou weer ‘n Peugeot wat vir Afrika toestande ontwerp is!

Die 208 deel dieselfde platform (onderstel) met die baie gewilde 208 wat ‘n jaar of wat gelede sy buiging by ons gemaak het en in Europa reeds ‘n weghol sukses is. Plus natuurlik moderne lyne van voor tot agter wat sy ruim binnemaat kamoefleer. In tipiese Peugeot-tradisie van vorige kanniedood modelle, is die wiele op die uithoeke van die motor geplaas wat die asafstand rek en hom uiters stabiel op beide teer- en grondpaaie maak. Die bekendstelling, wat in die Oos-Kaap op alle soorte padoppervlaktes plaasgevind het, het die uitmuntende suspensie van die 2008 terdeë beproef en sy uitstekende hantering teen hoë spoed beaam.

Die binneruimte en sitplekke weerspieël die tradisionele gemak en funksionele uitleg van instrumente en hefbome en word die binne-afwerking gekenmerk deur ‘n kombinasie van leer en kunsstof. Verder is daar Bluetooth-aanpasbaarheid, USB en addisionele klank-optelpunte en ‘n goeie radio met verskeie luidsprekers. Opvallend is die groot raakskerm wat ook navigasie insluit; deesdae ‘n al hoe meer belangrike deel van instrumentasie in ‘n land waar dorp en straatname vinniger verander as wat daar nuwe strate gemaak word!

Op die oomblik is slegs die Allure model by ons beskikbaar (vanaf Mei) waar die 1,6-liter enjin met ‘n vyfgang-handratkas gebruik word om die krag na die voorwiele oor te dra. Verrigting van die enjin met sy 4-kleppe per silinder en wisselende klepbeheer is uitstekend met sy 88 kW wat teen 6 000 rpm ontwikkel word en 160 Nm wat teen ‘n effens hoë 4 250 rpm beskikbaar is. Om optimale verrigting te verkry, soos om van 0-100 km/h binne 9,5 sekondes te versnel, en die naald by 196 km/h te laat draai, moet die ratkas vryelik gebruik word. Desondanks kan ‘n gemiddelde brandstofverbruik van slegs 5,9 liters/100 km verwag word en is die uitlaatgasse 135 g/km.

Die één eienskap wat 2008 miskien van sy goedkoper mededingers onderskei, is die sogenaamde Peugeot Grip Control wat die aandrywing na die voorwiele beheer deur middel van die ABS en EBS-stelsels aan boord. Die stelsel word deur middel van ‘n draaiknop beheer waardeur opsies vir modder, sand, sneeu en ander tipes van padoppervlaktes gekies kan word. Dit verhinder dat wieltol voortydig voorkom en die voertuig sy trekvermoë onder taai omstandighede radikaal verbeter. Ongelukkig was daar nie hierdie tipe van terrein waar die funksie prakties getoets kon word nie, veral nie sneeu nie!

Praktiese toerusting is die wegtrek-hulp wat die motor vir ‘n sekonde of twee laat stilstaan teen ‘n bult voordat weggetrek word en ook spoedbeheer. So ook die wisselbare pakruimte wat normaalweg 350 liter is maar vergroot kan word na 1 172 liter as die agterste sitplekke platgeslaan is.

Vanselfsprekend is al die nuutste veiligheidseienskappe aanwesig; ABS remme met EBS beheer en lugsakke as die ergste sou gebeur.

Die mees waarskynlike teikenmark vir die 2008 is die jonger, professionele groep wat styl waardeer, moontlik reeds kinders het maar wat ook spasie soek vir die bergfiets binne in die laairuimte. Dames is ook nie uitgesluit nie; daar is ‘n reeks van helder kleurstroke wat opsioneel is en aan die motor aangebring kan word om die eienaar se persoonlikheid “kleur” te gee (sitrus groen, oranje en rooskleurig). Hoe gewild hierdie opsie is, sal die tyd wel leer.

Van die talle opsionele ekstras wat beskikbaar is, is die verskeidenheid van dakrakke waarop ‘n fiets monteer kan word as asook die fiets-drarak agter die motor. Praktiese dinge wat vir avontuurlike families belangrik is.

Peugeot is vinnig besig om sy goeie reputasie as vervaardiger van kwaliteitsmotors in Suid-Afrika weer op te eis. Deel van hierdie proses kan toegeskryf word aan die bekwame leiding van Francis Harnie, die hoof van Peugeot in Suid-Afrika wat die 5-jaar of 60 000 km diensplan vir nuwe Peugeots ingestel het. Hierdie diensplan getuig van die vertroue wat die maatskappy in sy produkte het. Die fabriekswaarborg van 3-jaar of 100 000 km is deur die Peugeot Premium Plan aan die diensplan gekoppel

Wat kos hierdie plesierige leeutjie? Vir N$269 900 kan hierdie klein avonturier joune wees.

Leave a Comment