Bekendstelling: Renault Clio 4

Vars uit ‘n Franse Bakoond!

Met sy aanwysing as die een van die top drie mooiste motors op die Paryse Motorskou in 2012, en een van die finaliste vir die prys vir die beste ontwerpte motor vir die jaar vir 2013, is dit geen wonder dat Renault se bemarkingspan oortuig is dat sy nuwe Clio 4 ook ‘n wenner in Suid-Afrika en Namibië gaan wees nie.  Dit was die boodskap met die onlangse bekendstelling van die nuwe Clio 4 aan die pers.

Renault se mikpunt in hierdie verband is dan ook om die Clio 4 sy plek tussen die voorste vyf gunstelinge in die B-segment te laat inneem tussen name soos die Volkswagen Polo Vivo, Ford se gewilde Fiesta en die Hyundai i10.  In Europa is die suksesstorie alreeds geskryf met ‘n tweede plek in algehele verkope (net na die VW Golf) en ‘n 17,5% toename in die verkoopsyfer teen die einde van Februarie 2013.

Of Renault se nuwe Clio 4 dieselfde sukses in Suid-Afrika gaan behaal sal net die tyd leer.  Ná ‘n toetsrit met die topmodel in die reeks, die Dynamique 66 kW turbo, is daar egter min rede vir twyfel dat die nuwe Clio ook hier ‘n beduidende aandeel in sy marksegment gaan behaal.

“Ons verwag ‘n stormloop van Renault geesdriftiges wat hulle kooplanne vir eers uitgestel het tot tyd en wyl hulle ‘n blik op die langverwagte nuwe Clio 4 gekry het” – Aldus ‘n baie versekerde vise-president van Renault Bemarking in Suid-Afrika, Fabien Payzan.

En ja, laat mens die Clio 4 sy eer gee sover dit die nuweling se voorkoms aangaan.  Met sy koepee-silhoeët is die nuwe Clio beslis ‘n motor in sy klas wat mens weer laat kyk.  Handvatsels aan die agterdeure is byvoorbeeld vertikaal in die deur naby die hoë agterligte ingelaat.  Daarby help die laer ryhoogte nie net vir ‘n beter aërodinamiese funksionering nie, maar beklemtoon dit ook die opvallende skouerlyne vir ‘n meer sportiewe voorkoms.

Voor- en agteraansigte is aansienlik opgegradeer om aan die Renault-logo en ligtegroepe ‘n meer prominente voorkoms teen ‘n swart en chroom agtergrond te gee.  LED-dagligritte en vyf deure is standaard by al drie variante van die reeks.

Swart plastiek met chroomomlyning wat misien oormatig aan die binneontwerp aangewend is, sal miskien nie in alle mense se smaak val nie, maar gee tog aan die instrumentepaneel ‘n voorkoms wat goed inpas by die algehele voorkoms van die Clio.  Die ergonomies ontwerpte instrumentepaneel en konsole bied onder andere kenmerke soos ‘n digitale spoedmeter, gestikte sitplekbekleedsels en gemaklike sitplekke.

Ander standaard funksies sluit in spoedkontrole, Bluetooth konneksie, handevry telefoon, USB inprop fasiliteit, aanboordrekenaar, ‘n uitstekende klankstelsel, sleutelkaart en heuwelwegtrek-bystand waar die remme vir ‘n paar sekondes nie ontkoppel nie om wegtrek teen ‘n steilte te vergemaklik.  Beide die middel- en topvlakmodelle, die Expression en Dynamique, is ook toegerus met ‘n navigasiestelsel en reën- sowel as ligsensors.

Vir die fynproewer is daar opsies soos ‘n glassondak (N$8 000), outomatiese klimaatkontrole (N$5 000), tru-parkeerbystand (N$2 000) en handkontrole vir die lugreëling (N$10 000) beskikbaar.  Genoemde opsies geld egter net vir die twee topmodelle.

Renault se Clio-reeks kom in drie variante naamlik die Authentique op intreevlak wat aangedryf word deur ‘n 55 kW enjin en die Expression en die Dynamique op middel- en topvlak.  Laasgenoemde twee modelle is toegerus met driesilinder turbo-aangejaagde enjins wat 66 kW teen 5 250 rpm lewer.  Die turbo-enjins lewer buitengewone werkverrigting as die klein kapasiteit van die enjins in gedagte gehou word.

Die maksimum wringkrag van 135 Nm word alreeds teen 1 650 rpm bereik.  Dit is die gevolg van van verfynde ingenieurswese waar die gegote enjinblok van die vorige generasie met ‘n aluminium een vervang is wat ‘n 15 kg gewigbesparing teweeggebring het.  Renault maak aanspraak op petrolverbruik van ongeveer 5liter / 100 km hoewel verbruik in geslote stadsverkeer miskien ietwat hoër sal wees.

Die Clio 4 bied, tipies Renault, uitstekende veiligheidskenmerke wat by al drie modelle dieselfde is en wat aan die nuwe Clio ‘n vierster en later ‘n vyfster EuroNCAP klassifikasie besorg het.  Die nuwe Renault het dan ook die eerste plek behaal in die drie veiligheidskategoriee naamlik, kinder-, voetganger en volwassebeskerming en klop Clio 4 die Ford Fiesta met 85% teenoor 78,3%.

Renault het die 110 jaar van tegniese ervaring in enjinontwikkeling en sy betrokkenheid met turbo-aanjaging wat vir die eerste keer deur Renault in sy F1-formule motors in 1977 gebruik is, goed oorgedra na die nuwe Clio 4.

Soos in die geval van Renault se algehele produksiereeks word die Clio-modelle ook gedek deur ‘n standaard 5 jaar / 150 000 km meganiese waarborg, ‘n 3 jaar / 45 000 km diensplan en ook ‘n 6 jaar roeswaarborg.

En wat kos hierdie nuwe katelknaap? Die intreemodel 55kW Authentique gaan jou N$149 900 uit die sak jaag; die 66 kW Turbo Expression N$169 900 en die topmodel
66 kW Turbo Dynamique 5-deur N$179 900.

1 thought on “Bekendstelling: Renault Clio 4”

Leave a Comment