Soos Vinkel en Koljander – met Begeerlikheid daarby
Toe die eerste vinnige Suzuki motorfietse hulle merk op die wêreldkaart gemaak het, was ek amper klaar met skool. In 1973 het ek die eerste J10 Suzuki Jeep in Angola gesien, en kort nadat die bosoorlog begin het, het ‘n paar ondernemende dienspligtiges in 1975 ‘n paar van die linkerhandstuurmodelle as “oorlogsbuit” terug gebring.
Verder het General Motors ook ‘n paar klein “Broodjie-tipe” afleweringsvoertuie ingevoer waarvan ‘n vriend een van hulle tweedehands gekoop het. Dit was nogal snaaks om hierdie baie groot man in die piepklein waentjie te sien ry; soos die Jeepie, het die paneelwaentjie dieselfd 360 cc enjin gedeel.
Met die bekendstelling van die Suzuki SJ 410 Jeepie in 1983 teen N$7 500 was die gort gaar en het verkope die hoogte ingeskiet. Die suksesstorie is opgevolg met die bekendstelling van die Swift-reeks van ligte motors ‘n dekade of drie later. Soos die SJ 410 was sy opvolger, die Jimny, net so suksesvol en kan hulle op regte, rowwe terrein saam met die groot honde blaf – en byt!
‘n Ewe suksesvolle Suzuki in Suidelike Afrika is die gewilde Swift-luikrugreeks wat onlangs visueel aangepas is om die oog te vang met sy nuwe voorkant en sierrooster. Ook is daar ‘n nuwe sestien-klep kragbron van 1 197 cc wat 63 kW teen 6 000 rpm ontwikkel en wat 113 Nm teen 4 500 rpm beskikbaar stel om steiltes met groot selfvertroue te storm! Die krag word deur óf ‘n vyfgang handratkas of ‘n viergang outomatiese ratkas na die voorwiele oorgedra. Laasgenoemde eienskap sal natuurlik by ouer motoriste aanklank vind by wie gemak méér tel as verrigting; al is die Swift in die eerste plek vir die jongmensmark ontwerp.
Verrigting van die nuwe Swift modelle is wat ‘n mens verwag van ‘n vervaardiger wat sy naam op die renbaan gemaak het; die DZire 1.2-handrat versnel in 12,6 sekondes van 0 tot 100 km/h en laat die naald draai by 160 km/h. Brandstofverbruik word deur die vervaardiger aangegee as 5,7 liter/100 km in die gekombineerde siklus en die CO2-uitlaatgasvlakke as 134 g/km. Hoewel ons nie self ‘n verbruikerstoets gedoen hetn ie, het die naald baie, baie stadig gedaal sonder dat daar doelbewus “versigtig” gery is. In hierdie tye van duur brandstof, is die Swift se suinigheid een van sy groot pluspunte.
Vir die DZire outomatiese model gee Suzuki ’n topsnelheid van 160 km/h aan en ‘n verbruiksyfer van 6,3 liter/100 km. Die CO2-uitlaatgassyfer is effens meer teen 149 g/km.
En soos gesê, die voorkoms van die nuwe Swift is nie net kosmeties nie; daar is ‘n nuwe skerpheid wat sê dat hy ‘n kalant is waarmee rekening gehou moet word. Kleinboet het groot geword en kan nou, soos die Jimny, ook saam met die ander groter honde saam baljaar.
Saam met die luikrug is ook die nuwe sedanweergawe, Dzire, aan die pers bekendgestel. Laasgenoemde gebruik dieselfde onderstel as die bekende luikrugmodel maar bied die bykomende voordeel van tradisionele kattebak wat aansienlik meer ruimte vir bagasie skep en, interessant, ook vir die agterste passasiers meer ruimte bied.
Die Dzire word in twee afwerkingvlakke gelewer, die GA- en GL-weergawes. Selfs die basiese GA-model bied ’n uitvoerige lys van ekstra toerusting laat die klem op gehalte, estetiese voorkoms en gebruiksvriendelikheid val. Hy is ook groot genoeg vir vier rugbyspelers, en as dit moet, selfs vyf grotes. Wat die binneafwerking betref, kontrasterend tussen lig en donker, het hy die vroulike medetoetsers se harte sag gemaak. Een kommentaar was, was dat hierdie een die volgende op die kooplys gaan wees!
Afhangend van die spesifieke model, bied die gewone Swift en DZire ekstra veiligheidskenmerke soos dubbele lugsakke voor, afstandbeheerde sentrale sluiting en rukstopgordels voor met lasbeperkers en voorspanners om die impak van die gordel op ‘n vinnig bewegende lyf, te verminder.
Ons het al gewoond geraak aan die sykant-profiel van die Swift. Dit gaan egter ‘n tydjie neem aan die Dzire s’n gewoond te raak met sy kort, vierkantige stertjie. Maar dit is ‘n kwessie van smaak en die dinge wat saak maak is hoe hy ry, en natuurlik ook die ekstra bakspasie van 300 liter. Prakties! So ook die effens hoër grondvryheid waarmee ook grondpaaie sonder vrees en bewing aangepak kan word.
Gepraat van grondpaaie; die kombinasie van McPherson en wringstaaf suspensie is uitstekend vir ‘n knaap van hierdie grootte en knikke word sagweg gedemp. Die antwoord vir ‘n gemaklike rit is dan ook dikwels die profiel van die bande wat gemaklike ritte moontlik maak. Die standaardgrootte bande is 165/80R14-bande op 14” vellings maar daar kan, teen bykomende koste, allooivellings van 15 duim en 185/65R15-bande bestel word. Vir die slegte pad ryers, is laasgenoemde die aangewese keuse.
Die prys van die intree Swift GA handratmodel is N$126 900 en die outomatiese uittreemodel, die GL, is N$151 900. Die tussenmodel GL gaan die koper N$136 900 uit die sak jaag. Die intreemodel Dzire met sy handrat gaan jou beursie met N$128 900 laat krimp en die outomatiese model met N$153 900. Die luukse GL handratmodel verkoop teen N$138 900. My persoonlike keuse? Die DZzire outomaties met sy ekstra pakplek.
By hierdie pryse is ‘n tweejaar/60 000 km diensplan ingesluit asook ‘n fabriekswaarborg van drie jaar/100 000 km asook padbystandsdiens van drie jaar met onbeperkte afstand. Diensintervalle is elke 15 000 km.
Geniet die toetsrit!