Suzuki SX4 – by uitstek vir ons grondpaaie
Suzuki is bekend dat hulle klein maar goeie 4×4 voertuie maak. Die Jimny, Vitara en Grand Vitara is staatmakers – ook in Suid-Afrika. Suzuki SA het verlede week die nuwe opgekikkerde SX4 met ‘n paar klein, maar belangrike, veranderings in Suid-Afrika bekend gestel.
Die SX4 val in die meerdoel/SNV klas wat al meer gewild word. Eerstens is die 2 liter enjin se kraglewering effe opgestoot en ‘n 4×4 weergawe is tot die reeks bygevoeg wat die SX4 AWD (All wheel Drive) genoem word. Volgens Suzuki bring die hoër kraglewering nie net beter werkverigting nie, maar dit verbeter ook die brandstofverbruik met verminderde skadelike uitlaatgasse.
Die volledige modelreeks vir SX4, is die SX4 4×2 handrat, SX4 4×2 outomaties met CVT (voortdurend veranderende ratverhoudings) en die SX4 AWD handrat – 4×4.
Al die modelle is nou toegerus met die nuwe 2 liter enjin wat 112 kW by 6 200 r/min en 190 Nm by 4 000 r/min. (Die vorige SX4 het 107kW en 184Nm onderskeidelik ontwikkel.). Die handrat modelle is nou ook toegerus met ‘n sesgang-ratkas.
Van buite is die mees ooglopende verandering aan die voorkant, waar ’n nuwe sierrooster met ’n deftige maasontwerp die aandag trek. Dit sorg vir ’n meer swierige, elegante vooraansig. Die SX4 word nou met aantreklike, vyfspeek-allooiwiele van 16 duim toegerus en al die SX4–modelle ry op 205/60R16 bande.
Van binne is die uitleg meer gebruikersvriendelik gemaak en het nogal ‘n aantal luukshede as standaardtoerusting soos die instrumentepaneel wat van ligstraaldiodes gebruik maak. Die paneelinstrumente is herontwerp, met nuwe gesigte wat nie net méér elegant vertoon nie, maar ook duideliker leesbaar is. ’n Nuwe uitleespaneel kan met die druk van ’n skakelaar onder meer die syferhorlosietyd, buitetemperatuur, brandstofvlak, en reikafstand vertoon. Die CVT- model het ook ’n ratposisie-aanwyser.
Die klankstelsel bied ’n CD-speler, radio en die vermoë om MP3-musiekleêrs te speel. Dit beskik oor altesame 9 luidsprekers wat in die motor versprei is en snelheidsgerigte volumebeheer is standaard.
Die kattebak van die SX4 kan 253dm² bagasie hanteer en wanneer die agterste sitplekke vorentoe gevou is, vergroot dit tot 992dm².
Met 4×4 aandrywing durf Suzuki nou ook die SNV klas aan. Die 4×4-weergawe van die SX4 kan op drie maniere gebruik word. Normaalweg trek die voertuig in sy voorwiele. Wanneer jy by rowwe terrein kom kan jy, terwyl jy ry, die outomatiese modus kies. Krag na die agterwiele kom in werking sodra die voorwiele begin tol. Dan is daar die derde opsie wat jou in staat stel om onder 60km/h al vier wiele permanent in te skakel wanneer jy by voorbeeld op baie modderige of sanderige paaie ry.
Alhoewel die nuwe SX4 nie regtig as ‘n veldvoertuig beskryf kan word nie, voldoen hy aan die behoeftes van iemand wat dikwels grondpaaie moet ry maar nie kans sien vir die hoë kostes van die meeste groter fabrikate nie.
Die pers het die geleentheid gehad om al die nuwe SX4 modelle op ‘n verskeidenheid van paaie te toets. Wat beïndruk het is die padgedrag van die SX4. Nooit is daar gevoel dat jy nie ten volle in beheer van die voertuig is nie. Die bakwerk is stewig en die enjin is baie gewillig. Die sesgangratkas werk glad, alhoewel ek soms effe gesukkel het om presies te weet waar die sesde rat is. Met die CVT model het jy twee keuses; heel outomaties of die opsie van ses kammaratte wat sekwensieël deur die bestuurder geskakel kan word by die rathefboom of op die stuurwiel. Beide opsies werk goed in die spesifieke omstandighede. Die sekwensieële ratkakeling werk baie maklik en is in meeste omstandighede die een om te kies. Maar in stedelike stop/ry – verkeer is die vol outmaties beslis die beste keuse.
Inligting oor die werkverrigting is nie verskaf nie, maar as dit met padtoetse van die vorige weergawe (CAR) vergelyk word, behoort die maksimum spoed in die omgewing van 175km/h te wees en dit sal van 0 tot 100 km/h versnel in ongeveer 10 sekondes.
Volgens Suzuki het die veranderinge aan die enjin die brandstofverbruik aansienlik verbeter. Die handrat-model het verbeter van 8,4 liter/100km tot 7,3 liter/100km terwyl die outomatiese model ‘n verbetering van 9,5 liter/100km na 7,6 liter/100km. Terselfdertyd het die uitlaatgasvlakke met tussen 15% en 20% gedaal. Ook die nuwe AWD-weergawe het ‘n uitstekende brandstofverbruik van 7,6 liter/100 km.
Wat veiligheid betref is die SX4 AWD is toegerus met ESP-stabiliteitsbeheer en ABS-sluitweerbeheer. Verder het dit 6 lugsakke om die passasiers te beskerm.
Suzuki gee ‘n 3 jaar of 100 000 km waarborg, ‘n 3 jaar (onbeperkte km) AA padhulp en ‘n 6 jaar of 90 000 km diensplan met diensintervalle elke 15 000km. Die Suzuki SX4 2.0-handrat gaan jou N$209 500 uit die sak jaag, die SX4 2.0 CVT N$224 500 en die SX4 2.0 AWD-handrat N$229 500. In geheel het die SX4 my beïndruk ten opsigte van krag, hantering en waarde vir geld – en natuurlik ook Suzuki se reputasie vir betroubaarheid.