Peugeot 404: ‘n Staatmaker word Vyftig
Peugeot van Suid-Afrika het vergeet om ons te nooi na die bekendstelling van hulle jongste model in Suid-Afrika. Maar dis nie die ergste nie; sover het ek nog nie van hulle gehoor dat hulle vir die kanniedood Peugeot 404 vanjaar ‘n 50-jarige partytjie gaan geen nie. Hierdie model, wat in 1960 bekendgestel is, het in Suid-Afrika (en Oos-Afrika) baie diep spore getrap.
In die Bolandse Peugeot Klub, onder die leiding van Dawid Botha en die Loubser broers, Johan en Ian, word daar gesorg dat daar nog prag-eksemplare van hierdie legendariese en gewilde motors daagliks op ons paaie te sien is en op skoue hulle verskyning maak.
Peugeot het hulle spore verdien met hulle baie suksesvolle deelnames aan die Oos-Afrika Safari vanaf die vroeë vyftigs. Die eerste van hierdie taai tydrenne was aanvanklik bekend as die East African Coronation Safari omdat hulle daarmee die inhuldiging van Elizabet ll as konining van Engeland herdenk het. Soos die politieke klimaat verander het, het die koninklike Britse konnotasie ook verdwyn en ook die motormark in die voormalige kolonies waar Austins en Jaguars voorkeurbehandeling ontvan het. Maar met die suksesse van die Franse Peugeots, Duitse Volkswagens, DKW’s en Mercedese, het dit ook die einde van die Britse motormark ingelui. Selfs die ergste, stywe bo-lip Britse setlaars het hulle tot die “opposisie” gewend en met hul Peugeot sedan of stasiewa Somerset-Wes toe vertrek toe dinge in daardie deel van die wêreld te warm begin raak het.
Hier plaaslik het die 404 hom nie eintlik as ‘n tydrenmotor onderskei nie hoewel daar in die laat sestigerjare ‘n maatskappy was wat dubbelvergassers op die 1618 cc enjin gesit het en die ronde luginlaat gebruik het om ‘n netjiese Smith’s toereteller te monteer! Nee, die kopers was gewone gesinsmense en die handelsreisigers met hulle tasse vol samples wat hulle aan handelaars op die platteland gewys het. Dit was die tyd dat die Chrysler Valiant die land se topverkoper was en Peugeot sewende op die ranglys gelê het en handelaars soos Laurie Claassen al die pad bank toe gelag het….
Vir die groter gesinne was die stasiewa die aangewese voertuig en Bun Booyens vertel hoe hy die land leer ken het in sy pa 404 stasiewa. As ek reg onthou was dit so ‘n vaal-bruine want sy pa het vir my klas gegee en die stasiewa het altyd in die koelte gestaan voor die Geskeidenisgebou. En dan was daar ook die ander avonturiers soos Chris Steyn van Somerset-Wes wat lank voordat ek die kans kon kry, Angola plat gery het met sy sedan. Die enigste toebehore wat hy gebruik het, wat eintlik in die enkelvoud was, was ‘n reuse kollig op die buffer wat herinner aan ‘n Tweede Wêreldoorlogse soeklig waarmee hulle in die nag vliegtuie gesoek het!
Toe Zimbabwe nog Rhodesië was, en sanksies hoogty gevier het, het die plaaslike Peugeot handelaars daar ‘n klein monteeraanleg in Umtali (nou Mutare) begin waar 404’s gemonteer is. (Hierdie onderneming was een van die ruiltransaksies waar die Rhodesiese tabak-oes letterlik in Europa verruil is vir verbruikersgoedere en dit verklaar dan ook die montering van die BMW Cheetah daar. By ons het hulle hierdie model die 1800 en later die 2004 genoem. Maar die BMW storie is ‘n ander-dag se storie).
Die produksie van Peugeots in Zimbabwe, gekoppel aan hulle eenvoud van konstruksie en onderhoud, het waarskynlik bygedra tot die reputasie wat die 404 daar sedert UDI dae in 1965 geniet het. Ian Smith, die eerste minister, het so ‘n wit 404 as ampsvoertuig benut. Ongeag ras of politieke oortuiging, bly die 404 steeds die mees gewilde gebruikte motor in Zimbabwe en het menige Suid-Afrikaner wat oor die grens noorde toe was, op die eerste dag al ten minste twintig aanbiedings ontvang om sy 404 vir ‘n ongehoorde bedrag in kontant te verkoop.
So vertel ‘n nefie onlangs hoe hulle met ‘n antieke Diesel 404 sedan, waarvan die aansitter nie gewerk het nie, oor die noordgrens is. Kort voor lank was daar ‘n kontantaanbod; die foutiewe aansitter ten spyt. Die koper het hom verseker dat hy al lankal gewoond is aan running start Peugeots en dat dit nie die prys nadelig sou affekteer nie!
Wat my laat dink; ek was ‘n bobbejaan die dag wat ek my 404 Injection, direk ingevoer uit Frankyk via Zambië, gaan inruil het op ‘n nuwer vuurwa!
Viva la 404!