Bekendstelling: Toyota Hilux reeks [2011]

Toyota brei sy Hilux reeks uit

Sedert die eerste verskyning van Toyota se Hilux bakkies in Suid-Afrika in 1969 het hierdie handelsnaam byna ikoniese status bereik; ook in Namibië.  Weg was die groot en swaar Amerikaanse 6- en 8-silinder dorstige bakkies en het hierdie 1.5 liter met die kort wielbasis die meer ekonomiese alternatief in veral die landboubedryf geword.

Dit het dan ook net omtrent ‘n jaar vir die Hilux gevat om in 1970 die markleier in hierdie segment te word en in die daaropvolgende 34 jaar was daar net vier jaar wat die Hilux nie hierdie prestasie kon gestand doen nie.  Die laaste jaar was in 1998 en tot op hede is dit net die Corolla in die Toyota-stal wat die Hilux in die tweede plek hou as die mees populêre voertuig uit hierdie vervaardiger se aanleg in Suid-Afrika.

In 1984 het Toyota sy vierde generasie Hilux bekend gestel en daarmee ook die eerste dubbelkajuit 4×4 plaaslik beskikbaar gestel. Twee jaar later het Toyota die eerste vervaardiger geword wat ‘n eenton-bakkie met ‘n vyfgang transmissie toegerus het en in 1989 is die reeks uitgebrei met die eerste diesel 4×4 eentonner. In 1997 is die kersie op die koek geplaas toe 500 000 eenhede van hierdie gewilde bakkie in Suid-Afrika alleen verkoop is.

In Augustus vanjaar is hierdie suksesstorie verder uitgebrei met die bekendstelling van ‘n groter reeks Hilux Xtra Cab-voertuie wat plaaslik vervaardig word en wat die ideale voertuig bied wat aan die markvereistes vir ontspannings- sowel as werkgebruik kan voldoen.

Dit gaan beslis Toyota se posisie as markleier in hierdie segment nog verder verstewig. Die huidige platform is in 2005 in gebruik geneem en meer as 5,5 miljoen weergawes van hierdie taai werkesel is sedertdien dwarsoor die wêreld verkoop.

Die Xtra Cab-weergawe pronk met ’n uitgebreide produkreeks wat nou die keuse van ’n 4×2 2.5 D-4D SRX-weergawe bied wat hom by die twee 3.0 D-4D-diesel-weergawes met 4×2- en 4×4-aandrywing voeg.  Die uiters gewilde dubbelkajuit-reeks gee kopers nou verskillende enjin-, ratkas- en dryfstelsel-keuses, waaronder die 2.5 D-4D- en 3.0 D-4D-turbodiesel-enjins, sowel as die welbeproefde 2.7 VVT-i- en kragtige 4.0 V6-petrol-enjins.

Die reeks enjins is gekoppel aan óf ’n vyfgang-handratkas óf ’n outomatiese viergang-transmissie met Toyota se All-Shift-beheer wat die ratkas se wisselpatrone by die bestuurder se styl en die padtoestande aanpas.

Die vooraansig gee die eerste aanduiding van sy taai geaardheid. Die nuwe enjinkap, wat met ’n groot kragbult pronk, sorg vir ’n gespierde voorkoms. Die enjinlyn vloei regdeur na die nuwe sierrooster wat ’n fokuspunt vir al die nuwe Hilux-modelle is en in die geval van die SRX-en Raider-modelle verchroom is.

Van die kant gesien pronk die nuwe Hilux met verskeie nuwe ontwerpkenmerke. Dit sluit nuwe modderskermstukke vir die Raider-weergawes in om hulle nóg breër te laat lyk en wat by die vloeiende karakterlyne van die agterkant inpas. Die Raider- en SRX-weergawes pronk verder ook met nuwe buite-truspieëls met ingeboude flikkerligte.

Sodra jy in die nuwe Hilux klim, word jy deur ’n string versierings- en gemaksgeöriënteerde nuwighede begroet. Die eerste opvallende nuwe kenmerk is die herontwerpte instrumentehuisie, wat nou weggedoen het met die silindriese uitleg van die vorige reeks en vervang is met een wat meer hoekige afskortings het.  Die ontwerpers het ook ’n nuwe oorhoofse middelkonsole ontwerp met gerieflikheids-liggies, oorhoofse bergruimte en ’n ingeboude mikrofoon en luidspreker vir selfoonstelsels.

Skuif ’n mens oor na die vlagskip-model in die reeks, die Hilux Raider-dubbelkajuite, sal die bestuurder ’n hoogteverstelbare bestuurdersitplek en outomatiese kopligte aantref. Die 3.0 D-4D- en 4.0 V6-modelle pronk ook met voertuig-stabilitietsbeheer (VSC) om die noodremhulp en elektroniese remkragverdeling aan te vul.

Die V6 van 4,0 liter (wat die toetsvoertuig was) gebruik ’n dubbele bonokas met 24 kleppe.  Dié enjin lewer 175 kW teen 5 200 r/min met wringkrag van 376 Nm teen 3 800 r/min.

Die V6 Hilux met sy 4.0 liter het ‘n tenkinhoud van 80 liter en is uit die aard van die saak nie die mees ekonomiese voertuig op die mark nie, maar ding ook nie in hierdie kategorie mee nie.  Wat die meeste 4×4 geesdriftiges in so ‘n voertuig soek is alles en nog baie meer te vind in hierdie nuwe Hilux bakkie in soverre dit gerief, krag, luukse en veiligheid aangaan en kan Toyota verseker  wees dat die Hilux evolusionêre suksesstorie volstoom voortrol.

Al die Hilux-modelle word met ’n fabriekswaarborg van 3 jaar / 100 000 km en ’n diensplan van 5 jaar / 90 000 km verkoop.

PETROL ENKELKAJUIT
Hilux 4.0 V6 4X4 Raider AT    N$445 900
Hilux 2.7 VVTi RB Raider    N$312 600
Hilux 4.0 V6 RB Raider AT    N$375 500

DIESEL DUBBELKAJUIT
Hilux 3.0 D-4D 4X4 Raider    N$412 500
Hilux 3.0 D-4D 4X4 Raider AT    N$424 100
Hilux 2.5 D-4D RB Raider    N$331 000
Hilux 3.0 D-4D RB Raider    N$363 800
Hilux 3.0 D-4D RB Raider AT    N$375 400
Hilux 2.5 D-4D 4X4 SRX    N$337 500

HILUX Xtra CAB
Hilux 2.5D-4D SRX    N$247 300
Hilux 3.0D-4D RB 4X4 Raider    N$359 000
Hilux 3.0D-4D RB Raider    N$311 000

Leave a Comment