Bekendstelling: Volkswagen se nuwe Touaregs

Vir Ernstige Pret tussen Noorweë en Kaap Agulhas

Volkswagen van Suid-Afrika het so-pas sy nuwe reeks Touaregs aan die pers bekend gestel. Hiermee het hulle weereens bevestig dat hierdie vuurwa die beste van die bestes in rowwe terrein en modder, snelweë en sand in die skande kan steek. Die naam Touareg roep immers beelde van wilde woestyn-Arabiere op kamele in die Sahara se sandduine op.

Deel van die aanbieding oor die deugde en eienskappe van die nuwe Touareg, was die rekordrit wat ‘n Duitse entoesias, Rainer Zietlow, van Kaap Agulhas na Noord Kaap in Noorweë, en omgekeerd, onderneem het. Rytyd vir die 17 000 km was minder as nege dae. Toegegee, hulle was darem drie in die voertuig wat dit effens makliker gemaak het. (Die idee van die Twee-Kaap rekordrit is darem nie nuut nie; in die 1950s het ‘n Engelse avonturier met ‘n Austin Westminster dit man-alleen gedoen maar dié trippie het weke geduur).

Wat is nuut aan die Touareg? ‘n Mens torring nie aan ‘n goeie resep nie en die nuwighede in die nuwe Touareg kan hoofsaaklik as kosmeties beskryf word. Volgens Volkswagen self het die nuwe Touareg ‘n “skerper” voorkoms met ‘n herontwerpte neus met meer chroom en bi-xenon ligte en ‘n herontwerpte agterstewe. Van die kant af gesien maak die allooivellings en bande die wielboë mooi vol met 17” vellings en is daar ook 18” en 20” wiele beskikbaar; laasgenoemde as standaardtoerusting in die “R” reeks wat al die jongste oop-en-toemaak toerusting bevat. Handig ook is die USB-poort om die jonger generasie se elektroniese speelgoed te hanteer. So ook die groter inligtingskerm wat ‘n veel groter GPS-kaart vir navigasie toelaat; veral handig vir die van ons wat nie meer so lekker klein goetertjies kan raaksien nie! Met hierdie toerusting ding die Touareg nou op gelyke vlak mee met die heel bestes uit Engeland, Japan en Duitsland. ‘n Nuwigheid is die na-botsing remstelsel – ‘n stelsel wat ons gelukkig nie beproef het nie!

Baie handig is die kameras en radar-tipe toerusting wat jou waarsku as daar voertuie in jou blindekol kom en dan ook die kameras wat jou wys wat rondom jou aangaan as jy op moeilike terrein beweeg waar jou uitsig beperk is. Dit werk.

Die beproefde reeks petrol en dieselenjins is onveranderd en bestaan uit die 3,6 liter V6 FSI petrolenjin wat 206 kW ontwikkel, die 3,0 liter V6 TDI met 180 kW voor hande en die 4,2 V8 met 250 kW. Hoewel indrukwekkend is dit veral die wringkragkurwe wat op rowwe terrein saakmaak en die oog vang: Vir die petrolmodel is dit 360 Nm teen 3 200 rpm, die sessilinder diesel is dit 550 Nm tussen 2 000 en 2 250 rpm en die agtsilinder ‘n almintige 800 Nm tussen 1 750 tot 2 750 rpm. Met hierdie krag teen net effens meer as luierspoed is hy so kragtig soos ‘n Caterpillar op ‘n warm dag! Al hierdie enjins is gekoppel aan ‘n baie doeltreffende 6-gang outomatiese ratkas wat die krag na al vier wiele oordra. En anders as die Caterpillar, kan die verskillende weergawes ‘n maksimum snelheid behaal van tussen 218 km/h tot 242 km/h vir die V8 TDI; boonop draf hy van nul tot 100 km/h in minder as ses sekondes.

Verstellings vir die tipe pad of terrein word deur draaiknoppe en deur die druk van elektriese knoppies beheer. Maklik.

Vir die hardebaard veldverkenners is daar die opsionele lugvering beskikbaar wat die Touareg nog ‘n ekstra 300 mm lig. Dit het ook die voordeel dat hy natuurlik deur dieper water kan gaan as van sy mededingers en kan hy deur ‘n drif gaan waar die water 580 mm diep is sonder dat water by die lugfilter inkom. Teen snelhede van meer as 140 km/h skakel hierdie funksie vanself af om padhouvermoë te verbeter.

Hoe maak hy op die ooppad? Die roete was deur die Langkloof, ‘n pad wat ek in 1960 met my dunwiel Raleigh fiets deurkruis het en toe nou moes uitvind dat hy nog nie weer geteer was sedert daardie tyd nie! Die rit, wat aan die vinnige kant was, was verbasend goed op die smallerige pad met sy hoëspoed “dippe” – soos ons kleintyd in die Klein Karoo gesê het. Vir hantering op hierdie soort pad kry hy tien uit tien.

Die Touareg is klaargemaak, alleen mense wat van ekstra tierlantyntjies hou om hulle vuurwaens anders te laat lyk as die buurman s’n, sal ekstra’s wil laat aansit; dit nou behalwe die lugvering wat ware bosbrekers as opsie gaan bestel. So ook bande met ‘n hoër profiel vir meer gemak op regtig slegte grondpaaie.

Maar wat kos hierdie tegniese wonderwerke? Die “intree” 3.6 V6 FSI petrolmodel verkoop teen N$709 100, die diesel 3-liter teen N$796 500 en die kragtige 4,2 diesel N$990 600. Daarmee saam kom ‘n 5 jaar/100 000 km Automotion onderhoudsplan en 3 jaar of 120 000 fabriekswaarborg en 12 jaar anti-roes waarborg. Diensintervalle is 15 000 km.

‘n Laaste woord: Geniet die reis/safari!

Leave a Comment