Waarom sal ‘n reeds suksesvolle ontwerp konstant verander word?
Die Ford Ecosport is een van die mees gewilde voertuie op Suid-Afrikaanse paaie en na ons onlangse toets met die 1.5 Ambiente eenheid, kon ons wel nie veel van ‘n verskil agterkom nie.
Ons is wel toevertrou met die Ambiente eenheid, die sogenaamde intreevlak model. Die eerste opmerking is dus die swart staal wiele met plastiek wieldop oortreksels, materiaal bekleedte sitplekke en plastiek handvatsels.

Ford het egter ISOFix punte in die tweede ry sitplekke geplaas, en self trurat sensors (sonder ‘n kamera) ingewerk. Tweedens kry kopers ‘n volle spaarwiel, siende dat dit aan die agterdeur hang en nie in ‘n kleiner spasie onder die vloer van die 333 liter stoorspasie (wat tot 705 liter kan rek) hoef in te neem nie. Verder is die instrument paneel (4.2 duim) aan die binneruim veel meer basies as die duurder opsies, maar word kopers toegerus met ‘n multi funksionele stuurwiel (ongelukkig sonder spoed beheer).

Die Ambiente word ook toegerus met ‘n informasie sisteem, wat die SYNC3 sisteem integreer en dus met ‘n selfoon kan konnekteer (hoewel dit nie Apple CarPlay of Android Auto het nie) sowel as Bluetooth het. Terselfdetyd het die Ambiente ook twee voorste USB punte, klimaat beheer, en ‘n funksionele kabel handrem (ons verkies darem nog hierdie “oudtydse tegnologie” vir verskeie redes).

Die bekende 1.5 (nie-turbo) petrol enjin skop 91kW en 150Nm, Gepaard met die nuwe en bekostigbare 6-spoed outomatiese ratkas, is die Ecosport dalk nie die vinnigste voertuig op die oop pad nie, maar bied dit darem ‘n gemaklike rit in die stad self. Ford is ook vinnig om te noem dat die Ambiente ‘n brandstof verbruik onder 7 liter per 100km sal lewer, hoewel ons egter hierdie getal net onder 8 liter per 100km gevind het.

Ons kan wel bevestig dat die EcoSport gemaklik hanteer, hoewel die vering effe hard is met tye. Die stuur aksie is onmiddelik, direk en voel verbasend goed op die oop pad. Verder word insittendes toegerus met veiligheid soos ABS (met EBD), rem bystand, en elektroniese stabiliteits beheer.

Hoewel die EcoSport se klein en praktiese natuur help om deur knap stedelike spasies te rits sowel as om twee spoor paaie baas te raak, kan dit effens beknop wees aan die binneruim met lang persone, wat sal sukkel om gemaklik in die tweede ry te sit.

Hoewel Ford nie van plan is om die wêreld rekordboeke te herskryf met die Ambiente nie, is die einste model ingebring vir ‘n jonger mark, wat al meer soek na ‘n bekostigbare SUV. Met die Ecosport, wat reeds so baie sukses behaal het in Suider-Afrika, is dit dan geen wonder dat hierdie so ‘n sterk oorweging vir vele is nie.

Die Ambiente word teen R316 500 verkoop. Dit sluit ‘n 4-jaar / 120 000km waarborg en 4-jaar / 60 000km diensplan in.