Borgward Saamtrek

Die Borgward Saamtrek by Gariepdam in April

Die Britte het iets geweet waarvan Suid-Afrikaners nie geweet het nie, en tot ons nadeel! Reeds vanaf 1952 was Borgwards op die Koninklike Eiland te koop. Dit was veral die diesel vierdeur sedan en stasiewaens wat die aandag daar getrek het omdat brandstof na afloop van die oorlog nog steeds gerantsoeneer was en brandstofverbruik vir vervaardigers baie punte getel het.

Die eerste Borgwards wat in 1954 in Kaapstad vanaf Bremen geland het, was dan ook inderdaad dieselvragmotors; van hierdie besending is ‘n hele paar deur die Parow munisipaliteit aangekoop op ‘n stadium wat motors in Parow nog CA nommers gebruik het. Dit was eers later in die dieselfde jaar wat die legendariese Borgward Isabella sy verskyning op ons paaie gemaak het.

Borgward is deur verskeie verspreiders ingevoer; in die destydse Kaapland was dit Gerald Wolman, in die Vrystaat Banie Human en Transvaal Apie le Roux met sy Vanroux Groep.

Hoewel feitlik die volle reeks voertuie van die Borgward Groep, wat Goliath en Lloyd ingesluit het, ingevoer was, was dit by uitstek die Isabella wat die blitsverkoper was en ‘n legende binne sy eie tyd geword het. Almal het hom gery, Natte en Sappe, maar dit was veral die leierskap in Afrikaner geledere wat Isabellas gery het, manne soos Dr Verwoerd en Advokaat John Vorster.

En ook my Broederbond-pa en sy kultuurvriende in die Klein Karoo en die Langkloof! Maar op Uniondale het selfs die poskantoortegnikus, ‘n Engelsman Holmes uit die Oos-Kaap, ‘n tweedehandse Isabella gekoop en liggies op die voorste modderskerms gesit om hom soos die blitsvinnige TS-weergawe te laat lyk.

As die manne in die Transvaal politieke taktieke gebruik het om hulle motors te laat verkoop, was die Kapenaars waarskynlik meer beïndruk met die verrigting van die Isabellas op Killarney waar die baie professionele “Team Wolman Motors” in hulle grys
en maroen spankleure die Volvo’s laat les opsê het – en wyd en syd kopers getrek het. ‘n Kaapse Borgward was dus nie reg “aangetrek” as hy nie met ‘n dubbelpyp Abarth uitlaatstelsel en Michelin bande toegerus was nie!

In die jaar wat die Borgward-fabriek sy deure moes sluit, het die Borgwardklub in die Kaap die lig gesien. As student het ek deelgeneem aan een van die eerste tydrenne wat die klub gereël het en het nog ‘n foto van die geleentheid. Ongelukkig was my neef Wim, wat genavigeer het, doof en het die swak verbale kommunikasie tussen ons, ons onder die laastes laat eindig!

Vanaf 1960 het die Borgward Klub van krag tot krag gegaan en is takke ook in die noordelike provinsies gestig. En hoe minder die Borgwards begin raak het, hoe meer het die manne tyd aan hulle motors spandeer om hulle in hulle oorspronklike toestand te hou. Onder andere het hulle begin om self onderdele soos agterligte te giet, en as ek dit nie mis het nie, selfs uitgevoer na Duitsland. ‘n Boer maak ‘n plan.

Dit is nou al meer as twintig jaar wat die Borgward-klubs van die Noorde en Suide by die Gariepdam saamtrek en notas en inligting en onderdele uitruil. En foto’s neem en gesels en die lof van die maker van hulle motors, Carl Borgward, met ‘n eredoktorsgraad in ingenieurswese, besing. As die man wat begin het om in Bremen verkoelers te bou nou maar net so ‘n bietjie van daar Bo af kon kyk, sou sy bors seker swel en ‘n paar trane stort van waardering!

Hierdie jaar, met die saamtrek by die Gariepdam, was die vyftigjarige bestaan van die klub gevier en het daar veertig Borgward-entoesiaste uit Duitsland die geleentheid kom bywoon om daarna die land ‘n bietjie op hulle eie te verken. Die Suid-Afrikaanse Borgwardklub is immers die oudste bestaande klub ter wêreld. Verder spog hulle met 110 entoesiastiese lede wat elke naweek hulle Isabellas, Combis, Coupés, bussies, Goliaths en klein Lloyds vertroetel en ‘n brekfislopies onderneem.

Die beoordeling van die voertuie was op Vrydag 8 April deur drie besoekende Duitse Borgward-kenners gedoen.

Die Borgward-maatskappy het in 1961 gesneuwel; maar lank lewe die Suid-Afrikaanse Borgwards! En manne soos Laurie Claassen van die Strand en die talle ander Borgward entoesiaste in die Boland.

Van die eerste Borgward vragmotors wat in 1954 ingevoer was, B4500 weergawes, was deur die Parow Munisipaliteit gekoop.
Bron: Die Gees van Vooruitgang, 1958 

Leave a Comment