Beide Honda en die X-Raid Mini JCW spanne het die jaar hul tweede agtereenvolgende Dakar tydren oorwinning geneem. Waar Honda laas jaar die 13-jaar onoorwonne streek van KTM gebreek het met Ricky Brabec, het Kevin Benavides hierdie jaar die title geneem, terwyl Stephane Peterhansel sy driemalige Dakar-wenner spanmaat, Carlos Sainz, afgelos het. Dit is dan ook Peterhansel se 14de algehele Dakar oorwinning; by verre meer as enige ander individu.
In beide die motorfiets- en voertuig kategorie, was die oorwinnings egter nie maklik behaal nie.
Die ikoniese Dakar tydren het in 2020 met ‘n derde hoofstuk begin; naamlik om oor te skuif na ‘n derde kontinent. Die resies, wat wêreldwyd erkenning gekry het nadat Margaret Thatcher se seun, Mark, in die Algeriese woestyn verdwaal het, het oorspronklik (vanaf 1978-2008) in die Noordelike gebied van die Afrika kontinent plaasgevind. Terrorisme het daarna gelei dat die Dakar geskuif is na die Suid-Amerikaanse kontinent, waarna die Dakar laasjaar na die middeooste geneem is.
Motorfietse
Met KTM uiteindelik op hul plek gesit in 2020, het die Monster Energy Honda span die tweede middeooste Dakar met groot ambisie aangepak. Terselfdetyd was Husqvarna en Yamaha ook in die midde, maar kon KTM op die ou end die enigste werklike kompetisie bied.
Meesterlike beplanning en noukerige strategiese uitvoering het Honda werklik die jaar die ware oorwinners gemaak. Met vier bitter sterk ryers het die span toegelaat dat ten minste een ryer elke dag op die aanval is, terwyl die ander drie nabby in die top 10 bly. Hierdie het toegelaat dat die Honda ryers mekaar op ‘n daaglikse basis afgelos het om die pad vir die ander oop die maak.
Tot en met die derde laaste trajek, het dit gelyk of Honda selfs elk van die drie plekke op die podium sal kan neem, maar stelselmatig het die tydren selfs hierdie span laat vou. Jose Ignacio Cornejo Florimo het tot op die 10de sneltrajek dit reggekry om selfs vir Toby Price (KTM) ore aan te sit, maar moes self ongelukkig die tydren verlaat na ‘n ongeluk. Soortgelyk het Joan Barreda Bort ook ‘n sterk vertoning gelewer, maar moes hy ook op die 11de sneltrajek die tydren verlaat nada thy kop beserings opgedoen het en uit brandstof gehardloop het.
Hierdie het Benavides uiteindelik na die voorpunt geneem, met Brabec, wat ongelukkig in die eerste week gesukkel het en moes gelukkig wees met die derde plek.
Yamaha was nog ‘n vervaardiger, wat geweldig verloor het. Met ‘n baie sterk vyf-man span, was hulle gereed om die Dakar aan te pak. Die resies het ongelukkig in die eerste week twee van die Yamaha-ryers hul tasse laat pak, terwyl Franco Caimi se Yamaha op die negende trajek die gees gegee het.
Ross Branch het ‘n uitstekende tydren in die eerste week gesien en was vir die grootste gedeelte van die Dakar, die Yamaha voorlooper. Drie slegte ongelukke op die 8ste trajek het hom egter na 15de plek algeheel laat val, waarna hy onmiddelik in die volgende sege weer twee plekke gespring het nadat sy spanmaat Adrien van Beveren met navigasie gesukkel het en Xavier de Soultrait geval het. Een sege na Caimi se verlating, het dieselfde probleme vir Branch aangepak. Met net 200km oor van die Dakar, is daar verwag dat die vervaardiger ten minste een van hul kompeteerders in die top 10 sou sien, maar kort na die begin van die laaste trajek, het Van Beveren ook gestop met meganiese probleme.
In slegs sy derde Dakar tydren, kon ons vir Branch op die podium gesien het of selfs met die algehele oorwinning?
Artikel: Franco Theron
Fotos: Red Bull Content Pool / Dakar A.S.O
KTM was egter die slegste verloorders hierdie jaar. Met 13 agtereenvolgende oorwinnings voor 2020 is daar verwag dat die vervaardiger weer op die aanval sou wees na Honda se oorwinning in 2020.
Meganiese probleme en navigasie kopsere het vir Mattias Walkner vroeg in die eerste week ore aangesit, terwyl Daniel Sanders in slegs sy eerste Dakar, bitter goed gedoen het om konstant in die top 10 te veg, maar uiteindelik nie die algehele oorwinning kon neem nie.
Sam Sunderland het van die begin af ‘n taktiek gevolg om nie vir trajek oorwinnings te veg en as volg die pad op die volgende dag oop te maak nie. Die uiteinde van die 2021 Dakar kon baie anders gelyk het, sou Sunderland moontlik ‘n ander strategie gevolg het.
Eerder het Price van die begin af sterk aangeval. Met die voorlopers, wat elke dag verander het, het Price altyd sy tye naby aan die top 3 gehou. Aan die einde van die sewende trajek het slegs ‘n enkele sekonde tussen Price en Cornejo Florimo gestaan, waarna Price op die 8ste trajek net meer as ‘n minuut moes afstaan weens ‘n gesnyde band.
Die opvolgende trajek sou egter ‘n erge val vanaf die tweemalige wenner sien, menende dat net Sunderland en Sanders werklik vir die oorwinning daarna kon veg. Met die oopmaak van die laaste trajek, het Sunderland ongelukkig geweldig tyd verloor en moes klaarkom met ‘n laaste plek op die podium.
Honda, nou met hul tweede-agtereenvolgende oorwinning het werklik ‘n donker wolk oor KTM en Yamaha gebring.
Dalk sien ons in 2022 ‘n nuwe span benadering tot die tydren vanaf KTM en Yamaha, soortgelyk aan Honda se uitmuntende vertoning die jaar.
Voertuie
Oor die afgelope paar jare, is daar vele veranderinge gebring aan die “buggy” kategorie, nadat dit waargeneem is dat hierdie voertuie veel vinniger oor enige terein kan jaag as die vierwieltrek Toyota’s.
Kort voor die wegspring op 3 Januarie is daar besluit om die top spoed van die motor kategorie af te bring na 180km/h om seker te maak dat die tweewiel trek “buggies” met veel beter suspensie en ‘n groter wiel omtrek, nie weghol met die oorwinning nie.
Na die 10de sneltrajek, het Nasser Al-Attiyah (Toyota Gazoo Racing) egter bevestig dat dit steeds bitter moeilik is om beter as die “buggies” te doen, siende dat beter suspensie en groter wiele nie net help dat dit vinniger oor enige terein kan jaag nie, maar ook minder pap bande kry.
Terwyl Carlos Sainz (Mini), sowel as Sebastien Loeb (BRX) vroeg tyd verloor, en gekla het oor navigasie, het Giniel de Villiers en Shameer Variawa tyd verloor as gevolg van pap bande. Henk Lategan (Toyota Gazoo Racing), in slegs sy eerste tydren, het ongelooflik gevaar en selfs met sy veel meer ervare spanmaar, Al-Attiyah, geveg vir trajek oorwinnings. Die Suid-Afrikaner, moes ongelukkig sy eerste Dakar verlaat met ‘n gebreekte sleutelbeen, nadat hy op die vyfde trajek ‘n knik in die pad getref het teen spoed en die Hilux gerol het.
Met sterk kompetisie in die eerste week, het beide Al-Attiyah en Peterhansel ‘n kalm kop op hul skouers gehou, met die twee, wat mekaar met enkele sekondes op elke trajek verskil.
Met dieselfde oortuiging as Sunderland, het Peterhansel ook strategies gejaag. Met die oogpunt om nie trajekte oop te maak nie, het Al-Attiyah ‘n totale ander benadering gevolg. Die Toyota voorlooper in ruil, het 8 trajekte in totaal gewen, teenoor net een vir Peterhansel.
Konstant minder as 5 minute tussen die twee, het Al-Attiyah en Peterhansel strategie op strategie teen mekaar gespeel en ons almal op ons tone gehou.
Ongelukkig sou dit sneltrajek nege wees, wat die uiteinde van die Dakar sou besluit. Met meer as 12 minute verloor as gevolg van pap bande, sou Peterhansel hier sy 14de kroon neem.
De Villiers in ruil het dit reg gekry om sy 18de Dakar klaar te maak en staan tans as een van die enigste renjaers om elk van die Dakar’s, waarin hy deelgeneem het, klaar te maak. Sewentien hiervan het hy in die top 10 klaargemaak, waarvan dertien in die top 5 was.
Shameer Variawa, in sy tweede Dakar deelname, het ook net-net uitgemis op ‘n top-20 plek.
In beide die motorfiets en kar kategorieë, was die kompetisie ongelooflik naby, met etlike sekondes, wat die voorlopers skei oor sneltrajekte van 500km en meer. In die motorfiets kategorie self het die resies vir die eerste 8 dae ‘n verskillende voorlooper gesien, met die top drie, wat eers meer as 10 minute tussen hulle gesien het op die 10de dag.
Hierdie is waarom motorsport liefhebbers elke Januarie vasgenael is aan hul sosiale media en tv’s.