Geskiedenis: 50 jaar Bokser enjin!

Goliath en die berg Fuji – Subaru vier 50 jaar van die waterverkoelde bokserenjin.

Hierdie is nie ‘n Bybelse storie met ‘n snaakse nadraai nie; dis ‘n doodgewone mouterstorie. Dit kom uit die dae toe motors in Duitsland nog buitengewone name gehad het en die berg Fuji in Japan ook die naam geword het van ‘n maatskappy wat skepe, vliegtuie en later motors begin maak het.

Onlangs kry ek ‘n inligtingstuk oor Subaru wat 50 jaar herdenk wat hulle waterverkoelde bokserenjins in hulle motors vervaardig. Geluk! Maar my gedagtes gaan toe terug na die jare van my jonkheid en dink toe aan die voorganger van die Subaru se legendariese sukses met sy vóórgemonteerde bokserenjin en die gebruik van vier dryfasse van dieselfde lengte om elke wiel aan te dryf.



Subaru het nie hierdie konsep so op hulle eie ontdek nie; hulle het bloot ‘n bestaande voorbeeld uit die vyftigerjare geneem en dit ontleed, die swak punte verbeter, ‘n stroombelynde bakwerk gegee en ‘n produk geskep wat wêreldwyd gerespekteer word.

Hierdie manne wéét hoe om goeie motors te maak. Die Japannese maatskappy (wat in die Tweede Wêreldoorlog vliegtuie gebou het) het toe na daai oorlog die nuwe naam Fuji geregistreer om vliegtuie en veral skepe te bou.

Nie lank daarna, in die vyftigerjare, het dwergmotors gevolg en in die vroeë sestigerjare dan ook groter voorwielaangedrewe motors. Dit was ‘n tyd toe die res in Japan nog die tradisionele agterwielaandrywingswyse gevolg het.

Die groot deurbraak het in 1965 gekom toe Subaru ‘n model met ‘n waterverkoelde bokserenjin (viersilinder) met voorwielaandrywing in Tokio aan die pers bekend gestel het.

Die Subaru 1000 sedan het op 14 Mei 1966 op die mark verskyn en ‘n vierdeur-stasiewa kort op sy hakke in 1967. Die Subaru ingenieurs het vanaf 1960 waarskynlik by Porsche, VW en Chevrolet se bokserenjins na idees gesoek. Die lugverkoeling was blykbaar nie vir hulle aantreklik nie en het hul besluit om waterverkoeling te gebruik.

Die konsep van ‘n permanente vierwieldryf Subaru, nevermaaind die bokserenjin, was toe alreeds deeglik beproef en deur niemand anders as die na-oorlogse Wes-Duitse leër wat in 1954 gestig is nie.

Die voertuig wat hulle onder die vergrootglas geplaas het, was geen ander as die legendariese Goliath veldwa. Die nuutgestigte Bundeswehr het aanvanklik Britse Land Rovers gebruik wat in Duitsland monteer was.

Maar weens ‘n gebrek aan buitelandse valuta, was daar besluit dat die Wes-Duitsers hulle eie ligte 4×4 moes bou. NAVO het spesifikasies vir ‘n kwart-ton 4×4 opgestel en dit aan die Duitse motorvervaardigers oorgelaat om prototipes te bou vir veeleisende en langdurige toetsing.

Auto Union (DKW), Porsche en Borgward het hierop gereageer en nie lank daarna met ‘n reeks oorspronklike 4×4 veldvoertuie voor die dag gekom. Soos te wagte het die Porsche oor ‘n lugverkoelde bokserenjin (wat agter gemonteer was) beskik en DKW se nuwe veldwa oor ‘n voorgemonteerde driesilinder-tweeslagenjin.

Die nuwe “Goliath” model van Borgward was aanvanklik net met ‘n tweeslinder tweeslag eenheid (en direkte brandstofinspuiting) toegerus. In 1957 is die Borgward Goliath Jagdwagen se tweeslagenjin egter vervang met sy uitsonderlike 1,100 cc viersilinder waterverkoelde bokserenjin.

Dit is juis hierdie uitleg – met sy vierwielaandrywing – wat later so te sê Subaru se “handelsmerk” sou word. Die 1100 Goliath waterverkoelde bokserenjin het iets in gemeen met die Subaru-geskiedenis.



Die bokserenjin is deur die Duitse vliegtuigbouer Heinkel ontwerp en ontwikkel. Dit was ‘n maatskappy wat, soos Fuji-Subaru tydens die Tweede Wêreldoorlog, uitstekende vegvliegtuie ontwikkel en gebou het… wat die Geallieerdes laat les opsê het.

Die Goliath Jagdwagen, soos die vierwieltrek genoem is, het nooit regtig aftrek gekry nie. Of daar ooit enige modelle van dié Borgward veldvoertuig inderdaad uitgevoer is, is onbekend.

Auto Union het die kontrak gekry om die Bundeswehr tot en met 1968 met hulle Munga’s toe te rus. Tog het ek as skoolkind in 1960 met groot opgewondenheid ‘n pamflet, nogal in Afrikaans, vir die Goliath Jagwa by die plaaslike Borgward agent op Uniondale, meneer Dawid Keller, onder die oë gekry!

Apie le Roux, een van die Borgward invoerders, moes ‘n Jagdwagen in Duitsland raakgesien het voordat hy die verkoopspamflette plaaslik laat druk het. Maar dit was eers in 1987 dat ek uiteindelik so ‘n Jagdwagen in “lewende lywe” gesien het – in ‘n private Borgward motor-museum in Duitsland.

Oor die afgelope tyd het ek met verskeie Subaru’s gery en kon nie verstaan hoekom ek iets bekends gehoor het elke keer as ek die kleiner modelle, sonder turboaanjaging, bestuur het nie. Totdat ek weer aan die Goliath 1100 gedink het wat hulle destyds in Keller se Garage op Uniondale in 1960 ge“-rev” het nadat hulle die enjin herbou het…

Dit was een en dieselfde geluid as die Subaru s’n!

Wat my laat dink, Heinkel het die waterverkoelde bokser ontwerp, Borgward het hom ingespan in sy Goliath en later ook sy Arabella en op die ou einde het Subaru hom seker so na aan volmaak gebring as wat ‘n mens seker kan!

Hartlik geluk met die verjaardag en julle prestasie, Subaru!

Leave a Comment