Alfa Romeo word honderd; baie geluk Fiat!
Die befaamde Italiaanse vervaardiger, Alfa Romeo, het so pas hulle honderdjarige bestaan gevier. Nie net in sy geboortestad en land nie maar ook hier in die Kaap. En die regte plek in die Kaap is natuurlik die Franschhoek Motormuseum wat deur die Rupert familie met hul sin vir geskiedenis en tradisie ‘n paar jaar terug op die been gebring het. Dit was dan ook hier waar die lede van die Kaapse Alfa Romeo Klub op 27 Junie hulle skitterblink vuurwaens kon vertoon.
As ‘n mens oor die geskiedenis praat, word jeugherinneringe belangrik. Hoewel ek as hoërskoolkind en student in hart en siel ‘n vurige Borgward ondersteuner was, het ek altyd heimlik na ‘n Alfa Romeo gehunker as die simbool van eersteklas verrigting, padhouvermoë en op die ou einde die belangrikste; ‘n onverklaarbare passie wat net by die Italianers gekry word. En dan kan ek ook maar die geheim verklap dat ek as (konserwatiewe) Matie-student destyds baie geryloop het en die droom gehad het dat ‘n (liberale) Ikey meisie met ‘n (rooi) Alfa Sprint Veloce my iewers langs die pad gaan oplaai. Dit het nooit gebeur nie!
Maar terug na Alfa en Italië.
Tussen 24 en 27 Junie het Alfa Romeo in Milaan hulde gebring aan die honderd jaar van Alfa Romeo wat gekenmerk is deur ‘n saamtrek van 3 000 motors uit 45 lande. Deel van die program was by die renbaan Monza waar Alfa Romeo’s gereeld onder die wenners getel het en ook die Alfa Romeo motormeuseum by Arese. Tydens die verrigtinge was daar ook ‘n tydren vir die Alfa-ondersteuners, die “Alfisti,” gereël.
Alfa Romeo het amptelik op 24 Junie 1910 tot stand gekom nadat ‘n aantal sakemanne die maatskappy wat die Franse Darracq in Italië vervaardig het, oorgeneem het. Hiermee het die nuwe A.L.F.A. motormaatskappy ontstaan (Anonima Lombarda Fabbrica Automobili). As simbool van die ALFA maatskappy is die rooi kruis op die stadswapen van Milaan, plus die slang wat op die wapen van die Visconti familie voorkom, gekies.
Met die krisis van die Eerste Wêreldoorlog is die maatskappy deur die ingenieur-sakeman Nicola Romeo oorgeneem en het hy sy van by die maatskappy-naam bygevoeg en was dit die geboorte van Alfa Romeo. Maart dit was eers na afloop van die oorlog wat die maatskappy sy naam in motorsport gevestig het toe Alfa’s die Targa Florio in 1923 gewen het en daarna die eerste wêreldmotorrenne met die P2 Gran Premio in 1925 gewen het.
In die dertigerjare het ‘n aantal legendariese renjaers die Alfa naam in die renkringe hoog gehou; manne soos Antonio Ascari, Gastone Brilli Peri, Giuseppe Campari, Enzo Ferrari, Tazio Nuvolari en Achille Varzi.
Die Tweede Wêreldoorlog het weer ontwrigting beteken en krygsproduksie het ‘n einde gebring aan die luukse van sportmotors. Dit was eers weer in 1946 dat daar, soos in Duitsland, met die produksie van voor-oorlogse modelle begin is.
In 1900 is die eerste Alfa met ‘n eenheidskonstruksie bakwerk op die mark geplaas. Maar op die renmotorfront het Alfa met sy Alfa 158, bestuur deur Nino Farina, die Formule 1 kampioenskap gewen. Hierdie prestasie is in 1951 herhaal deur die Argentynse jaer Juan Manuel Fangio met die nuwe Alfa Romeo 159. Alfa se naam was gemaak!
Sekerlik die belangrikste mylpaal was die Giulietta Sprint wat in 1954 die lig gesien het en daarna die sportsedan, die Giulietta Berlina in 1955. ‘n Paar jaar later het die eerste van hierdie modelle, asook die Spider, hulle opwagting in Suid-Afrika gemaak. En hoe! Die Kaapse agent vir Alfa, Wolman, het Alfa’s op die renbane ingeskryf en self deelgeneem. Onder andere was daar destyds by Eersterivier ‘n renbaan waar versnellingsritte onderneem was. In die Cape Times van 30 Junie 1958 was daar ‘n foto van ‘n Alfa Sprint Veloce en ‘n Borgward Isabella met spesiale Bosch brandstofinspuiting wat gelykop in versnellingsren geëindig het. Die was deur A. Wolman bestuur. Maar die beste was egter die Giulietta sedan van Pieterse van Pretoria wat Alfa se roem en faam versprei het. Die motor het ‘n renstreep van voor tot agter op hom gehad en was bekend as Streepmuis of Strepie omdat hy alle ander produksiemotors soos Dinky Toys op die renbaan laat lyk het. Tot vandag toe nog bly die beeld my by toe ek die eerste na-oorlogse Suid-Afrikaanse Grand Prix in 1959 bygewoon het en die Pieterse Alfa méér indrukwekkend was as die Formule 1 motors op die baan. (Natuulik as skoolkind soontoe geryloop).
In 1962 het die Alfa Giulia by ons aangekom en ‘n nuwe tydperk ingelui. Die Giulia het hom in beide baanrenne en tydrenne onderskei en is gevolg deur ‘n reeks cabriolets, coupés en sedans soos die 1750, die Alfetta, die Alfa 33, die Alfasud met sy bokserenjin en die “nuwe” Giulietta. Snaaks genoeg het ek goeie vriende gehad wat elkeen op een of ander stadium van hierdie Alfa’s gehad het. Behalwe een unieke Alfa wat, sover ek weet, net in Suid-Afrika vervaardig was. Onthou u hom? Die Alfa Romeo bakkie wat eintlik maar ‘n Fiat bakkie was met ‘n Alfa sierrooster!
Maar soos dit selfs in die beste families gaan, kom daar ook finansiële teenspoed en in
1986 het Fiat tot die redding van Alfa Romeo gekom. En daarom skuld ons ‘n baie dankie – en ‘n baie geluk ook met die verjaarsdag – aan Fiat wat die (Italiaanse) vlag hoog hou, al het Italië dit hierdie keer toe nie met die sokker reggekry nie.