Padtoets: 2010 Toyota Prado TX

Afrika Kroonprins

Die Prado VX is waarskynlik die koning van voertuie in Afrika. Dié van ons wat al regtig rowwe paaie en wilde riviere deurkruis het op pad Kongo toe, kan daarvan getuig. Soos ‘n paar jaar gelede wat ons met groot bravado ‘n rivier in volle vaart deur is sodat die voorste GP nommerplaat losgeruk het en vandag iewers in die Atlantiese Oseaan dobber; dit terwyl die man in sy VX rustig halfpad deur gesto het om sy voertuig ‘n slag weer te was!

Toyota Suid-Afrika het nou twee nuwe modelle, met TX-spesifikasievlak, by die Prado-reeks gevoeg om sodoende die luukse topvlak-VX-spesifikasievlak aan te vul.

Die nuwe modelle, soos die geval met die Prado VX, gee gerieflike sitplek aan sewe insittendes en is beskikbaar met ‘n keuse van ‘n 4-liter V6-petrolenjin of ‘n 3-liter turbodiesel. Die TX-modelle wat onder die VX-modelle inskuif, is steeds toegerus met die gebruiks- en gerieflikheidstoerusting as grootbroer.

Die Prado 4.0 TX petrolmodel is toegerus met die uitmuntende 1GR-FE 4,0-liter V6-enjin met 24 kleppe en dubbele bo-nokasse Hierdie vol-aluminium-enjin is doelontwerp vir 4×4 sportnutsvoertuig gebruik.

Die kragbron lewer maksimum krag van 202 kW teen 5 600 rpm en die maksimum wringkrag van 381 Nm is beskikbaar vanaf 4 400 rpm. Dubbele VVT-i-klepreëling (intelligente wisselende klepreëling), in- en uitlaatpoorte wat hoogs doeltreffend is, komponente met lae wrywingskwaliteite en ‘n 10,0:1 drukverhouding dra by tot hierdie swaargewig-enjin (met ‘n lae massa) se verrigting.

Deur dubbele VVT-i te gebruik, word die enjin se in- en uitlaat-nokasse deurlopend verstel om die optimale verrigting te bied na gelang van die enjin se belasting. Dit sorg vir beter kraglewering en brandstofverbruik, terwyl skadelike uitlaatgasse ook verminder word. Die uitlaatkatalisators word boonop in die uitlaatspruitstuk geïntegreer om doeltreffendheid te verbeter en gewig te bespaar. Die uitlaatgasvloei is geoptimaliseer om drukverlies te verminder en dit dra by tot beter verrigting.

Die Prado 3.0 TX Diesel is toegerus met die 1KD-FTV-enjin met direkte drukbuisinspuiting. Die viersilinderkragbron van drie liter spog met 16 kleppe, turbo-aanjaer en tussenkoeler. Die maksimum-krag van 120 kW word by 3 400 rpm gelewer en die top-wringkrag van 400 Nm is tussen 1 600 en 2 800 rpm beskikbaar. Dit is hierdie wrigngkurwe wat vir Afrika toestande onontbeerlik is.

‘n Besonder doeltreffende turboaanjaer met ‘n wisselende-spuitstuk en aangedryf deur ‘n elektriese GS-motor word gebruik. Verbeterings aan die inlaat- en brandstofinspuitstelsel verhoog wringkrag by lae enjintoere en help om uitlaatgasse te verminder.

Die elektronies beheerde drukbuis-brandstofinspuitstelsel bied buitengewoon goeie brandstofbeheer, met ‘n mikrorekenaar wat die inspuitdruk, inspuittydreëling en die volume van die brandstoflading beheer.

Beide enjins is gekoppel aan ‘n elektronies beheerde outomatiese vyfgang-ratkas. Die ratkas het ‘n uitstekende verrigting, is besonder brandstofdoeltreffend en spog met gladde ratwisseling en lae geraasvlakke.

Die Prado is toegerus met ‘n heeltydse vierwielaandrywing met ‘n Torsen-tipe wringkragbespeurende beperkte glip-middelewenaar (soos in die eerste Audi Quattro). ‘n 4WD-beheerskakelaar vervang die tradisionele vloergemonteerde oordraskakelhefboom in die vorige modelle en maak die bedryf van die stelsel heelwat eenvoudiger. Hierdie draai-tipe beheerskakelaar word in die sentrale konsole gehuisves.

Van die spesiale eienskappe van die Land Cruiser Prado TX is die Veelterrein-ABS-remstelsel met elektroniese remhulp en elektroniese remkragverspreiding. Hierby kom nog ook die nuttige opdraende-wegtrekhulp en afdraende-spoedbeheer

Die Prado TX lyk ook soos ‘n Afrika kroonprins moet met sy volgrootte-noodwiel wat op die agterdeur monteer is. En 17” wiele lykindrukwekkend. En anders as een van die duur mededingers is ‘n volgrootte spaarwiel standaardtoerusting!

Al die elektroneise veiligheidseienskappe is standaardtoerusting; noem maar op van lugsakke tot ‘n veilige kinderstoel met klanktoerusting wat Bach en Beethoven in die oerwoud ‘n besondere ervaring maak.

Met die dieselweergawe gee die 87 liter hooftenk, en ‘n spaartenk van 63 liter ‘n reikafstand wat die opposisie maar net kan begeer.

Maar wat kos so ‘n  kroonprins? Die TX 4.0 V6 petrolmodel kos N$558 500 en die TX 3.0 DT turbodiesel effens minder teen N$546 400 (Laasgenoemde is my keuse). Ingesluit by die prys is ‘n 5 jaar / 90 000 km ToyotaCare diensplan. Koop hom nou en laat sy neus noord kyk en ry. Met al die Toyota konings op pad Kairo toe is daar genoeg Toyota diensstasies en onderdele om nou daardie langgekoesterde rit te onderneem.

Leave a Comment