Begin van ‘n legende
NIE te lank gelede nie het Fred Schnetler oor die Borgward Isabella, wat 50 jaar gelede die eerste keer in Bremen van die produksielyn gerol het, geskryf. Daar kan egter nog ‘n paar feite oor die maatskappy se geskiedenis en betrokkenheid in Suid-Afrika vermeld word.
Die meeste Suid-Afrikaners glo dat Borgward – of van sy filiale – eers na die Tweede Wêreldoorlog hul opwagting hier gemaak het en dat dit begin het met Apie le Roux (van Van Roux Motors) en Gerald Wolman wat in 1955 Isabellas begin invoer het. Fred Schnetler het egter reeds geskryf dat ‘n aantal Goliath-driewielvoertuie in 1951 deur ‘n Johannesburgse firma ingevoer is.
Borgward, wat tot 1938 Hansa- en Lloydvoertuie gebou het, het egter reeds vóór die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog van sy voertuie plaaslik bemark. Reeds so vroeg as 1936 is Hansa-Lloyd dieselvragmotors deur Diesel Motors van Broad Street 36, Durban, hier bemark.
In ‘n advertensie in Der Deutsch Afrikaner van 2 Desember 1936 het die maatskappy die deugde van hierdie dieselvragmotor as ‘n “Meesterstuk” besing met sy “eenvoudige, robuuste ontwerp wat die mees moderne tegnologie benut”. Indien enigiemand sou twyfel, vra net die eienaar van so ‘n Hansa-Lloyd se mening!
Die Durbanse maatskappy moes goeie sake met hul vragmotors gedoen het, want in 1937 het hulle ook die Hansa 1 100-sedanmotors bemark. Die volgende jaar het hulle reeds handelaars in Pietermaritzburg, Lourenço Marques, Somerset-Wes en Paarl gehad. Die goeie verkope van die Hansamotors was moontlik gemaak deur hul relatief goedkoop pryse omdat die Duits-Suid-Afrikaanse handelsverdrag van 1935 Duitse motors op die plaaslike mark bevoordeel het. Volgens hierdie verdrag — die sogenaamde “wol vir motors” ooreenkoms — was Duitsland bereid om die totale opbrengs van ons wolproduksie oor te neem in ruil vir Duitse motors en produkte. (Dit verklaar dan ook die aankoop van Junkers-vliegtuie deur SAL in die jare dertig ).
Indien Suid-Afrikaners moontlik nog nie ‘n Borgward-Hansa vóór 1939 gesien het nie, het ons soldate in NoordAfrika ten minste moontlik tydens of ná skermutselinge met Rommel se AfrikaKorps met Borgward HL troepdraers te doen gekry.
Die HL het gedeeltelik van rusper-aandrywing gebruik gemaak, maar het voor normale wiele gehad om mee te stuur. Soos die Volkswagen Kübelwagen het die Borgward HL hom in die Russiese moerasse én Noord-Afrikaanse woestyn onderskei.
Maar nader aan die tuisfront: Een van die vooroorlogse Hansa-motors was die pas-afgestudeerde jong predikant, Beyers Naudé, se eerste motor.
‘n Mens kan bespiegel dat dit sy skoonpa, eerwaarde Weder van Genadendal, se motor was wat laasgenoemde by die agentskap op Somerset-Wes gekoop het.
Onder die Hansareeks wat ingevoer was, was daar ook enkele Borgward 2000 en 2300modelle wat eers in 1939 vervaardig is.
Een van hierdie motors is deur Apie le Roux vir publisiteitsredes gekoop en is langs Isabellas uitgestal. ‘n Foto van die 1939 Borgward het ook in sy Vanrouxnuus verskyn. Le Roux het ‘n uitgawe van hierdie koerant aan Carl Borgward in Bremen gestuur en laasgenoemde het hom in ‘n brief bedank vir hierdie publikasie. Borgward het dit met sy handtekening (in kenmerkende rooi ink) bevestig.
Op 14 Junie 1954 het Le Roux en Wolman (in die teenwoordigheid van Jan Haak) ‘n verspreidingsooreenkoms met Carl Borgward in Bremen onderteken. Kort hierna was daar ‘n berig in die Britse tydskrif Autocar dat Borgward van plan was om ‘n monteeraanleg in Suid-Afrika op te rig. ‘n Ooreenkoms is in 1958 onderteken om ‘n aanleg aan die Rand op te rig waar Isabellas en vragmotors monteer sou word.
Dat so iets ernstig oorweeg was, was toegeskryf aan die feit dat Suid-Afrika in daardie jaar 22% van die Borgwards wat uitgevoer was, ontvang het — veel meer as wat in die belangrike Amerikaanse mark verkoop was. Hoewel ‘n maatskappy gestig is om hierdie taak te onderneem het dit nooit van die grond af gekom nie. Ná die ineenstorting van die Borgwardgroep in 1961, het Apie le Roux en Gerald Wolman weer gepoog om die bankrot-verklaarde maatskappy hier te hervestig, maar tevergeefs.
Soos in die geval van Diesel Motors vóór die oorlog, was die eerste Borgwards wat in 1954 ingevoer was, vragmotors en nie motors nie.
Van hierdie heel eerste dieselvragmotors is deur Wolman aan die Parow-munisipaliteit van sy Model Garagetak in Hoofweg, Goodwood, verkoop. Ook, soos in die verlede, het Borgward-advertensies gereeld in die enkele plaaslike Duitstalige tydskrifte verskyn.
Die Borgward Isabella het kort na sy bekendstelling in Suid-Afrika bekendheid verwerf as ‘n gedugte mededinger op die renbaan, veral die TS-model.
Hierdie sukses was grootliks toe te skryf aan Wolman wat ‘n hoogs suksesvolle renspan op die been gebring het.
Op 1 Januarie 1958 het die Cape Times as volg oor Gerald Wolman se span berig:
“The smart Wolman Motors team of three Borgwards, a Goliath and a Lloyd drew whistles of admiration at the scrutineering on Monday night.
“Painted in team colours of grey and maroon, they are to take part in the saloon car and other preliminary events this afternoon.”
Hoewel hulle op hierdie betrokke dag nie so waffers gevaar het nie, het Isabellas van 1955 tot 1960 die baan- en tydrenne in Wes-Kaap oorheers.
In die noorde het Le Roux Borgwards op ‘n ander manier bemark en swaar geleun op Afrikaner-sentiment. Met minister Nico Diedericks as direkteur van die maatskappy is dit geen wonder nie dat dr. Verwoerd ‘n Borgward-stasiewa as geskenk ontvang het.
Ook geen wonder dat beide Rembrandt en Braganza (‘n Afrikaner koffie- en teemaatskappy) Borgward Combi’s aangekoop het om hul Chevrolet-paneelwaens te vervang nie.
Op ‘n sakebesoek in Duitsland in 1958 het die flambojante Apie le Roux gereël dat die joernalis Hans Lombard ‘n lang toetsrit met ‘n Lloyd-stasiewa onderneem.
Hierdie rit was nie ‘n gewone een nie.
Hy het eindelik in Moskou gaan draai en foto’s van die Lloyd op die Rooi Plein geneem!
Lombard se reisverhaal, en lof vir die klein Lloyd, het in verskeie aflewerings in Die Brandwag verskyn. Nog ‘n mens wat van Borgward ‘n hoflikheidsmotor in Europa ontvang het -maar met ernstige gevolge – was die olimpiese hekkiesatleet, Gert Potgieter.
Hy was met ‘n Isabella in ‘n motorongeluk en het daarmee ‘n moontlike goue medalje verloor.
Om egter nie by Wolman af te steek nie, het Le Roux die renjaers Boet Ferreira en Buddy Fuller aangesê om met ‘n Isabella TS ‘n rekord te probeer opstel vir die rit Johannesburg -Kaapstad – Johannesburg.
In Maart 1960 het die twee toe wel die bestaande rekord verbreek deur die afstand binne 23 uur en 53 minute af te lê. Dis ‘n prestasie wat vandag nog respek afdwing.
En in die verbeelding van talle Borgward eienaars en entoesiaste bly hierdie beelde van seëvierende Isabellas hulle steeds by!