Dakar 2010

Dakar 2010: Volkswagen doen dit weer!

Ná veertien dae en 9 000 km in Suid-Amerika het Volkswagen met sy renweergawe-Touaregs dit weereens gedoen; hulle het die eerste drie plekke in die wêreld se taaiste tydren gewen!

Eerste oor die endstreep was Carlos Sainz en Lucas Cruz van Spanje wat verlede jaar op ‘n skouspelagtige ongeluk die aftog moes blaas en daardeur die kans aan ons plaaslike man, Giniel de Villiers, die kans gegee het om eerste te eindig.

Die tweede Touareg was dié van Nasser Al-Attiyah van Qatar en Timo Gottschalk van Duitsland wat gevolg is deur die Amerikaner Mark Miller met sy Suid-Afrikaanse navigator Ralph Pitchford in die derde plek. Onse man, Giniel en sy Duitse spanmaat Dirk von Zitzewitz, het vroeg in die tydren elektriese probleme ontwikkel en twee uur verloor. Daarna het hulle die rol vervul van barmhartige Samaritane en belangrike onderdele soos ekstra turbo-eenhede en dryfaste vir hulle spanmmaats wat op die voorpunt was, saamgery. Indien daar probleme met die ander motors sou opduik, sou hulle eers die ander spanlede moes bystaan voordat hulle self weer voluit kon ry om op te maak vir verlore tyd. Met die ekstra gewig, en ook die stadiger ry om die ander spanmaats voor te hou, het hulle nogtans sewende klaar gemaak. Dit is op sigself al ‘n uitstekende prestasie.

Die Volkswagens het egter kwaai kompetisie van die BMW fabriekspan ontvang wat met X3’s deelgeneem het en wat formidabele renjaers ingesluit het, onder andere die legendariese Stephane Peterhansel wat reeds nege keer die Dakar gewen het. Verder het hulle ook strawwe kompetisie van die Mitsubishi-span gekry en ook van ‘n Hummer.

Hiermee kan ‘n mens – soos verlede jaar – weer aan Volkswagen net geluk sê met hulle derde oorwinning met hulle Ren-Touaregs. En aan ons Suid-Afrikaners wat so goed presteer het.

Volkswagen het in 1980 ook die Dakar gewen met ‘n Iltis. Die Iltis was nooit in Suid-Afrika bemark nie maar het ‘n lang geskiedenis wat ook ‘n konneksie met Suid-Afrika het.

In 1958 het die manne van DKW-Auto Union (wat toe nog hier deur Mercedes-Benz besit was) gedink dat hulle ‘n kontrak gaan kry om die Jeep as amptelike voertuig van die destydse Unie Verdedigingsmag met die DKW Munga 4×4 voertuig te vervang. As kind het ek die lang toue DKW-jeeps op die Port-Elizabethse hawehoof gesien staan – geverf in die donker khaki-kleur van die militêre Ford lorries van die tyd. Iewers het dinge verkeerd geloop en is die DKW-jeeps op die ou einde deur die Borgward handelaars in Kaapstad teen ‘n groot afslagprys verkoop. Maar in Duitsland het die DKW-jeep die standaard kwart-ton voertuig van die Bundeswehr geword. Toe hierdie voertuie lank in die tand begin word, en die Wes-Duitsers oor die rookdampe van die tweeslagenjins begin kla het, het Volkswagen – wat intussen Auto Union oorgeneem het – die Iltis as plaasvervanger begin vervaardig.

Maar nog effens verder terug oor die Dakar. Hierdie tydren het sy oorsprong in die Franse koloniale tydperk toe die Algerynse motorklub aan die einde van 1950 die eerste Algiers-Kaapstad gehou het. Onder die deelnemers was fabriekspanne van onder andere Renault wat die klein 4 cv 750 cc modelle ingskryf het, En wie was die wenner in die klas vir onder 1200 cc? ‘n Standaard VW Kewer wat deur ‘n sestigjarige-plus Belgiese dame, mevrou D’Ieperen en haar skoondogter, bestuur was. Die enigste “verandering” wat vir die tydren aangebring was, was ‘n twintig-lilter jerrikan wat op die treeplank langs die kant vasgemaak was!

Miskien moet Mevrou D’Ieperen ook van die glorie van Volkswagen se tydren-suksesse in Afrika deel!

Stertjie: Die D’Ieperen geval is darem  nie so erg onskuldig nie. Haar man was die eienaar van die grootste Volkswagen-agentskap in België en sy sou kon steun op sy hulp as daar sou fout kom iewers in die hartjie van die Kongo. Die firma bestaan steeds en verkoop nog steeds Volkswagens in België!

Leave a Comment