DR (H.C.) CARL FRIEDRICH WILHELM BORGWARD (10.11.1890-28.7.1963)
‘n Paar dekades gelede het die bekende motorjoernalis, Fred Schnetler, ‘n boek geskryf met die selfverklarende titel: Motors en hul Makers. Hierin het hy ook die geskiedenis van Carl Borgward en sy verskillende motormaatskappye, opgeteken.
Die naam Carl Borgward was tot 1954 in Suid-Afrika onbekend. Dit was eers na die aankoms van die eerste Borgward vragmotors en Isabella’s in die Kaapse hawe wat ons kennis geneem het van ‘n besonderse mens wat uitsonderlike voertuie gebou het.
Carl Friedrich Wilhelm Borgward is in 1890 in Altona naby Hamburg gebore, die seun van ‘n koleverkoper. Maar die name wat hy ontvang het, was alles behalwe gewone, middelklasname. Die “Carl” het gekom van Karel die Grote, die “Friedrich” van Frederik die Grote en “Wilhelm” van die gewilde keiser van Duitsland.
Met hierdie name het sy ouers onbewustelik sy loopbaan gekarteer; hy het die betekenis van sy name met trots gestand gedoen toe hy bo sy nederige agtergrond uitgestyg het en sy familienaam in Duitsland – en rondom die aardbol – bekend geraak het. Ook in Afrika, vanaf Addis Ababa in Ethiopië waar keiser Haile Selassie spesiale Borgward lykwaens uit Duitsland bestel het tot by Keller se Garage in Uniondale waar my pa sy Zephyr in 1958 op ‘n nuwe Isabella stasiewa ingeruil het.
Borgward was nie maar net ‘n motor nie. Anders as in die geval van Peugeot, Renault, Ford en Chevrolet, was die oorspronklike makers al dekades lank al dood. Maar in die geval van Borgward, was die maker nog self aktief betrokke by die ontwerp van nuwe modelle. En oor hom as mens is daar baie geskryf en gesels. So het ek as hoërskoolseun alles verslind wat oor die sportiewe, tweedeur Isabella geskryf was. En natuurlik ook oor Carl Borgward self.
Op die ou einde het ek ‘n brief aan Carl Borgward self geskryf en hom vertel dat ek een van sy groot aanhangers suid van die ewenaar was. Ek was beloon met ‘n foto met sy handtekening daarop. Carl Borgward was my skoolheld terwyl ander manne rugbyspelers se handtekeninge gejag het.
Ná skool het ek in die Ingenieursbiblioteek op Stellenbosch toegang gekry tot méér as die gewone inligting oor Borgward; daar was beskrywings en foto’s van modelle waarvan ek nooit geweet het nie; sy miniatuur Goliath tenk wat met afstandbeheer dinamietladings kon gaan “aflaai” op die gevegsfront, sy groot HL-reeks vragmotors wat op die Oos-Front diens gedoen het asook die artillerievoertuie en troepedraers met rusperbande wat onder lisensie tydens die oorlog gebou was. Ook die na-oorlogse Borgward-Hansa motors met hulle eenheidskonstruksie en nuwe voorkoms waar die modderskerms in die bakwerk ingesluit is; die eerste werklike nuwe Duitse ontwerpe ná 1939.
Carl Borgward se eerste skrede in die vervaardigingsbedryf was in die twintigerjare met die bou van klein driewiel afleweringsvoertuie onder die naam “Blitzkarren”, gevolg deur Goliath’s met dieselfde driewieluitleg maar met ‘n kajuit wat die bestuurder teen wind en weer beskerm het.
Die dertigerjare het die verskyning van sy Hansa sportmodelle met enjins tussen 1100 en 1700 cc gesien en enkeles van hulle is ook in Suid-Afrika landswyd bemark, onder deur ‘n handelaar in Somerset-Wes. Dit was ook in hierdie tyd wat ‘n Hansa, met die Borgward naam vir die eerste keer, Suid-Afrika bereik het. Verder was daar ‘n agentskap in Durban wat reeds sedert 1936 Hansa-Lloyd dieselvragmotors bemark het.
Carl Borgward het waarskynlik vir die eerste keer persoonlik met Suid-Afrikaners te doen gekry toe twee voornemende Borgward handelaars, Apie le Roux van Johannesburg en Gerald Wolman van Kaapstad, in 1954 in Bremen met hom oor verspreidingsregte vir sy reeks voertuie onderhandel het. Hierdie gesprek is in Junie 1955 opgevolg met ‘n tweede besoek waarin die twee ondernemers vergesel was van die politikus-sakeman Jan Haak en ‘n formele verdrag gesluit is. Die res is geskiedenis en die begin van die suksesverhaal van die talle Isabella’s op ons paaie.
Daar was opvolgbesoeke oor die volgende paar jaar na Bremen en Carl Borgward was van plan om in 1958 ‘n monteeraanleg vir Isabella’s en vragmotors in Johannesburg op te rig. Hoewel hy wel ‘n maatskappy gestig het, waarby die destydse minister van ekonomiese sake, Nico Diedericks ook betrokke was, het dit nooit werklikheid geword nie ten spyte van die feit dat Borgward se uitvoere na Suid-Afrika 22% van sy uitvoere verteenwoordig het; heelwat méér as wat na die belangrike VSA-mark versend was.
So het Carl Borgward dan ook die voorblad van die Amerikaanse nuustydskrif Newsweek gehaal met ‘n lang artikel oor hierdie besonder man en sy uitstaande motors. In die lig van sy internasionale aansien, en entoesiasme uit plaaslike geledere, is dit ironies dat Borgward se monteeraanlegte in Indonesië en Argentinië wel tot produksie oorgegaan het terwyl die plaaslike aksies beperk was tot die aansit van bande en kantspieëls om iets van plaaslike inhoud te verteenwoordig!
Die kleurryke, vindingryke ingenieur was egter nie ‘n sakeman nie; om motors te bou was sy passie waar hy uiting kon gee aan sy skeppingsdrang en hy het nie rekening gehou met die finansiële aspekte van die bedryf nie. Die terugroep van sy Arabella modelle vir noodsaaklike aanpassings om die motors waterdig te maak, sy ambisieuse projek om Duitsland se eerste helikopter, die Colibri, te bou, het sy kapitaal uitgeput.
So ook sy vasklou aan drie aparte bemarkingsorganisasies om Borgward, Goliath en Lloyd voertuie van die hand te sit, was teen alle ekonomiese reëls. Skuldeisers het op hom toegesak en die Bremense Senaat moes tot sy redding kom. Besit van sy maatskappy is oorgedra aan ‘n algemene handelsmaatskappy met die Bremense Senaat as die hoofaandeelhouer. En toe dinge weer nie wil vlot nie, vra hulle ‘n man van BMW om die geregtelike bestuur oor te neem! Laasgenoemde het aanbeveel dat die maatskappy bankrot verklaar moes word.
Op die ou einde het al die skuldeisers hulle geld teruggekry; Borgward was nie bankrot nie. Maar die verlies van sy onderneming was vir Carl Borgward te veel, op 28 Julie 1963 is Carl Borgward aan ‘n hartaanval oorlede.
Ná die ineenstorting van die Borgwardgroep in 1961, het Apie le Roux en Gerald Wolman weer gepoog om die bankrot-verklaarde Borgwardmaatskappy hier te hervestig, maar tevergeefs. Uiteindelik is die hele fabriek gedemonteer en in Meksiko heropgerig waar enkele Borgward 2300-modelle vervaardig was en enkele modelle na Duitsland uitgevoer was. Desondanks, die legende duur voort en Carl FW Borgward is vir talle Suid-Afrikaners steeds ‘n man onder die manne.
Fotos uit eie argief


