Geskiedenis: General Motors

Die Generaal se tweede Asem!

Toe almal gedink het dat Generaal de la Rey se lot in vergete in geskiedenisboeke weggesteek is, kom daar toe ‘n man met die lekker naam van Bok van Blerk wat nuwe lewe inblaas in ‘n legende. Met General Motors is dit deesdae dieselfde storie.

Almal weet dat daar vir die motorwêreld ‘n rowwe jaar of twee agter die rug is. Maar dit het veel wyer gestrek as net die lot van vervaardigers; mense het hulle werk verloor en ‘n uitsiglose toekoms in die gesig gestaar. Vra maar, ek was self al daar. Maar op die ou einde gebeur daar dinge wat weer sin gee aan die lewe. En gelowiges sê altyd dat dit met ‘n doel gebeur het.

By General Motors was dit ook ‘n tyd van besin en besuinig en diep dink. Maar wat uit hierdie smeltkroes gekom het, is ‘n nuwe en sterker maatskappy wat die toekoms met vertroue tegemoet gaan. Wat sê die spreekwoord? Vertroue wek vertroue.

In die proses het die Hummer van die toneel verdwyn maar daar is ‘n paar nuwe modelle, inluitende ‘n Opel wat op die horison wag. Ongelukkig moet ek tot September wag om een van die nuwe knape op die Autobahn in Duitsland te kan toets.

Van die Duitse vervaardigers of modelle op ons Suid-Afrikaanse mark, is Opel seker dié een wat die langste en mees suksesvolle motor was. Opel was in elk geval die eerste Duitse motor wat in Suid-Afrika gemonteer was, die ander was almal laatkommers.

Dan is daar natuurlik ook die Opel bakkies wat in sy segment loshande voor loop met verkope. Die jongste NAAMSA syfers (dié van die vereniging van motorfabrikante se afkorting) toon dat daar ‘n “teleurstellende” min Opel Corsa bakkies in Junie verkoop is. Maar teen hierdie tyd weet almal seker reeds dat hierdie “foutjie” nie regtig ‘n drukfout is nie; die befaamde Corsa heet nou Chevrolet – soos dit al die jare ook in Brasilië bekend is. Die Corsa bakkie is juis in die Suid-Amerikaanse General Motors fabriek ontwikkel omdat die toestande, ook marktoestande, so eenders is as ons eie toestande; ‘n mengsel van eerste en derde wêreld. En waar mense nie omgee om agter op ‘n bakkie te sit in wind en weer nie! Dit is dus geen wonder dat die Duitsers nie regtig bakkie-mense is nie.

Die Brasiliërs was egter nie die eerstes om ‘n Opel bakkie te ontikkel nie. Hierdie eer kom die mense van General Motors in Port Elizabeth toe.

In ‘n CAR tydskrif van 1958  verskyn daar op die agterblad ‘n foto van die plaaslik-ontwikkelde Opel Olympia Rekord bakkie wat ‘n gewilde uitvoerproduk na Oos-Afrika toe was. En van CAR gepraat. Hierdie toonaangewende motortydskrif was diep by General Motors in die skuld toe hulle eerste uitgawe in Februarie 1957 op die winkelrakke verskyn het. General Motors het onderneem om gereeld voorbladadvertensies te koop sodat daar op die voorblad van die eerste CAR dan ook ‘n Opel Kapitän afgebeeld was; so ‘n metaalkleurige blou een met met nie minder nie as vyf mooi modelle in lang rokke wat net ogies het vir die Opel!

Wat die Port Elizabeth Opel bakkies betref: Die eerste een was gebaseer op die nuwe Amerikaanse vierkantige modelle van daardie tyd met hulle “panorama”-windskerms wat so ‘n skerp boog aan die onderkant gemaak het om uitsig te verbeter. Al probleem was dat ‘n mens geduring jou knieë daarteen gestamp het en die Amerikaners hierdie tipe voorruit later as “knee-jerkers” bestempel het. Met die volgende model in 1963; effens smaller en met gewone voorruite, het Opel nie net in Suid- en Oos-Afrika groot sukses behaal nie, maar ook ‘n uitvoermark in Europa gevind.

Wat merkwaardig was van die Tipe 2 Suid-Afrikaanse Opel bakkies, was die feit dat hulle veral in Denemarke aftrek gekry het en dat hulle in afgetakelde vorm (CKD) in groot kratte soontoe uitgevoer is om deur die plaaslike General Motors agentskap daar gemonteer te word. En dit op ‘n stadium wat die Skandinawiese lande met hulle handelsboikotte teen Suid-Afrika begin het! As ‘n ryding goed is, is hy goed.

Die Tipe 3 Opel bakkie het op die hakke van die regop Opels gevolg; die nuwe model was weereens meer vierkantig en het dubbele ligte ook hulle verskyning gemaak. Behalwe bakkies, het daar ook paneelwaens gevolg. Hierdie was egter die laaste van die befaamde Opel bakkies en het die Ranger op die toneel verskyn; ons eie motor wat ‘n kombinasie van Opel en Vauxhall komponente was.

En nou is die Corsa General Motors se nuwe uitvoerproduk na ons buurlande en het hy reeds onder die jongklomp ikoonstatus verwerf. Vra maar vir enige jong meisie ager watter soort bakkie se stuur sy graag gesien wil wees. Die kanse is tien teen een dat dit ‘n nuwe Chevrolet Corsa sal wees.

Leave a Comment