Elizabeth ll, Land Rovers en die Oos-Afrika Safari
Dit is vanjaar sestig jaar wat koningin Elizabeth ll as Britse vorstin regeer en ons het al heelwat oor hierdie mylpaal te hore en te siene gekry; vanaf BBC televisie tot stories in Die Huisgenoot met foto’s oor hierdie merkwaardige vrou en natuurlik ook die troonopvolgers met hulle huwelike, hoogtepunte en laagtepunte.
Met die kroning van Elizabeth in 1953 was die Britse ekonomie nog wankelrig ná afloop van die Tweede Wêreldoorlog en het die Engelse hulle beywer om veral motorvoertuie na hulle kolonies en Statebondslande soos Suid-Afrika en Australië, uit te voer. En natuurlik ook die VSA. Een van die sterre van die na-oorlogse Britse voertuigontwikkeling was die Land Rover wat in 1948 die lig gesien het, en op die slegte paaie, of die gebrek aan paaie, veral in die Britse kolonies diep spore getrap het.
Een van die take van die nuwe vorstin was dan ook om die Land Rover op die wêreldkaart te plaas; ‘n taak wat sy met oorgawe gedoen het. Sy het immers tydens die oorlog opleiding as werktuigkundige ontvang om militêre voertuie te diens en te onderhou en was vertroud met voertuie soortgelyk aan die Land Rover. Telkens waar daar ‘n geleentheid opgeduik het, was sy op ‘n Land Rover afgeneem, nie net by militêre parades nie maar ook by perdewedrenne, en is die foto’s oor die hele wêreld gestuur. Hierdie strategie het so goed gewerk dat driekwart van alle Land Rovers wat gebou is, vir die uitvoermark bestem was!
Prinses Elizabeth as werktuigkundige en perderesies-entoesias voordat sy die troon bestyg het:
Weens haar belangstelling in motorvoertuie het haar hoogheid se lojale onderdane in die Oos-Afrikaanse kolonies, Kenia, Tanganjika en Uganda, dit goed gedink om ná haar troonbestyging ‘n “kroningstydren” te reël. Dit was die ontstaan van die amptelike Coronation Safari soos dit tot en met 1959 geheet het. Hierna was die tydren tot 1974 bekend as die East African Safari Rally totdat dit vanaf 1974 bloot die Safari Rally geword het. Soos te wagte het die naamsveranderinge met politieke korrektheid te doen gehad; die kolonies het intussen onafhanklik geword en daar het later stryd tussen die drie lande ingetree sodat die tydren op die ou einde slegs tot Kenia se slegste paaie beperk was.
Wat die Safari aanvanklik uniek gemaak het, was die feit dat motors volgens prysklas ingedeel was. Maar die eerste Safari het nie ‘n algehele wenner opgelewer nie en op die ou einde is besluit dat die twee inskrywings wat die minste strafpunte teen hulle gehad het, as oorwinnaars gereken was. In die “luiperd-klas” was die oorwinnaars Dix en Larsen met ‘n 1200 cc Volkswagen en die “leeu-klas” die Engelse Standard Vanguard van Airth en Colling. Met die volgende tydren in 1954 was die algehele wenners Preston en Marwaha met ‘n Volkswagen Kewer. Dit sou eers tydens die 1955 tydren wees wat ‘n Britse motor; ‘n Ford Zephyr, bestuur deur die wenners van die vorige tydren, met die louere weggeloop het. Hierdie uitslag was ‘n groot hupstoot vir Britse motors om weer hul “regmatige” plek in Brits- Oos-Afrika in te neem nadat die na-oorlogse “Duits-Franse inval” in Afrika ná 1950 met volle erns begin het. Die tydrenne van 1956 en 1957 is immers deur Duitse DKW’s gewen.
‘n Paar aksiefoto’s uit die vroeë jare van die Oos-Afrika Safari tydrenne:
Die leeuklas is egter weer in 1958 met die nuwe-voorkoms Ford Zephyr gewen en die luiperdklas, weereens, deur DKW. Dit sou eers weer in 1964 wees wat ‘n Britse motor, ‘n Ford Cortina GT, bestuur deur Hughes en Young, die plek op die posium kon inneem. Tydens die Britte se maer jare tot 1964 het die wenners dit elke keer met ‘n Mercedes-Benz, Volkswagen of Peugeot gedoen.
In 1965 het twee Indiërs, die bekende Singh broers van Kenia, met hul boggelrug Volvo PV 544 as wenners uit die stryd getree. Dit was ook die laaste keer dat die tydren met reëlmaat elke keer deur Kenianers gewen is; die volgende twee jaar het Tanzaniese tydrenners, Shankland en Cliff met Peugeot 404’s die botoon gevoer totdat die Kenianers weer oogeneem het; weereens met Peugeots.
Intussen het die tydren, wat op daardie stadium die reputasie gehad het as die taaiste tydren ooit, heelwat fabriekspanne vanaf Brittanje en Europa getrek. Nie één van hierdie spanne kon egter hond haaraf maak nie en daar was later vas geglo dat slegs bestuurders wat elke dag op Oos-Afrikaanse grondpaaie deurgebring het, hierdie tyddren kon wen. Dit was eers in 1970 wat ‘n Datsun SSS, bestuur deur die Keniaan Herrmann, en die Duitser Schüler, die tydren as ‘n “gemengde” span kon wen, ‘n prestasie wat hulle die volgende jaar met ‘n Datsun 240Z herhaal het.
In 1972 het die befaamde tydren verdere internasionale tydrenstatus verwerf toe twee Skandinawiërs, Hannu Mikkola en Gunnar Palm, met ‘n spesiale tydren-voorbereide Ford Escort RS 1600 op die verhoog kon klim; die eerste keer wat daar nie plaaslike jaers in die wenspan was nie. Hiermee het hulle ook bevestig dat Ford die mees-suksesvolle Britse mededinger in die Safari tydrenne was. In 1977 sou Ford weer die louere inpalm; hierdie keer met ‘n Ford RS 1800 bestuur deur die Swede Waldegard en Thorszelius.
Tot op daardie stadium het die Peugeot 404’s die rekord gehou vir die meeste opeenvolgende oorwinnings en kon hulle in 1975 en 1978 weer met 504’s hul oorwinnings vier. Maar vir die Franse vervaardiger was dit die begin van die einde as tydrenwenner in Oos-Afrika. Hierna het die Japannese begin oorneem en het ‘n vloedgolf van warm Datsun, Toyota, Mitsubishi en Subaru tydrenmotors hul segetog begin. Die Duitse motors, wat aanvanklik so goed gevaar het met plaaslike tydrenjaers, moes tot 2011 wag voordat ‘n Porsche die eerste plek kon inneem.
Ná die kroningstydren van 1953 in Brits-Oos-Afrika, het die eens glorieryke Britse Ryk, waar die son nooit onder gegaan het nie, in duie gestort. Gelukkig is daar darem nog dinge wat herkenbaar bly, iets soos die ikoniese bakvorm van die eerste-generasie Land Rovers wat nog in die jongste Defenders herken kan word. Maar daar stop die ooreenkoms ook; Land Rover is lankal nie meer een van die trotse nasionale bates wat die Britte ná die oorlog uit die finansiële knyp moes kry nie.
Hoewel die maatskappy oënskynlik ‘n vrye hand gegee word met nuwe konsepte en ontwerpe, waarvan sommige goed behoort te vertoon in ‘n Safari-tydren, sit die grootbaas in een van die gewese kolonies, Indië!
Advertensies vir beide die Franse en Britse vervaardigers; laasgenoemde vir vonkproppe!