Geskiedenis: Renault Clio

Familiemotor en ook vierwiel Mirage

Dit is nou 20 jaar wat die Renault Clio in ons midde is en nog steeds die koppe laat draai. Die opvolger van die befaamde Renault 5, wat in die sewentigs en tagtigs by uitstek die motor van dames met styl was, en ook vurige jong mans wat met die TS modelle die pad aan die brand gery het, het ‘n hele paar jaar later by ons sy opwagting gemaak; dit nadat hy in Frankryk reeds diep spore getrap het.

Van die begin af het die Renault met sy nuwe belyning en voorkoms ‘n indruk gemaak en die standaard gestel vir hoe klein motors in die B-segment moet lyk. Soos die Citroën van 1955 was hy sy maters ‘n dekade of wat vooruit as dit by stilering kom. Geen wonder dat hy in 1991 as die Europese motor van die Jaar bekroon is nie en daar reeds meer as 10 miljoen Clio’s wêreldwyd verkoop is.

Met die koms van die (tweede geslag) Clio in Suid-Afrika in 1999, het hy dadelik die standaard gestel wat betref volledige toerusting en was ‘n wenner wat gemak betref, teen N$67 000 was die intreemodel toegerus met elektriese ruite en kragstuur. Die meer gevorderde weergawes het oor belangrike veiligheidseienskappe soos ABS-remme en ook lugsakke beskik, eienskappe waaroor slegs heelwat groter en duurder motors beskik het. Hierdie eienskappe het die Clio dan ook plaaslik die status as Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar in 2000 laat verwerf.

Soos die legendariese Renault 5 was die Clio in beide 2- en 4-deur weergawes beskikbaar en verskillende kragbronne om te pas by die bestuurder se smake! En om te toon dat die Clio nie net bedoel was vir stylvolle vroue nie, is die 2.0 16v Renault Sport met sy 124 kW tot die reeks bygevoeg om ander warm buksies die stryd in 2001 aan te sê.

In 2002 het die Clio ‘n optiese verandering ondergaan en het die reeks uit 1.2, 1.4, 1.6 en 2-liter weergawes bestaan; te kus en te keur. En om te wys dat hulle regtig warm kan wees, het ‘n 3-liter gevolg met 172 kW waar die enjin agter gemonteer was. Die toppunt was bereik met ‘n nog warmer weergawe in 2005 wat 188 kW uitgespoeg het!

Aan die ander kant van die kragmonsters was daar ook die baie ekonomiese maar ook wakker 1.5 dCi model wat in 2004 sy opwagting hier gemaak het.

Die Clio lll het in 2006 ons kus bereik nadat hy in Europa weereens die gesogte titel van Europese Motor van die Jaar gewen het.

Met ‘n beleid van gedurige veiligheidsnavorsing en verbetering, het die Clio in 2000 vier sterre in die strawwe  EuroNCAP botsingstoets ontvang. Die Clio lll was hy die eerste in sy klas om vyf-ster status in 2005 te verkry. Hiermee het hy die norm vir veiligheid in kleiner motors gestel.

Gedurende 2009 het daar weer ‘n optiese verbeterde Clio die lig gesien en is die hoë-spesifikasie 1.6 Dynamique en sportiewe 2.0 Renault Sport (RS) gebore. ‘n Eienskap van hierdie modelle was onder andere die installering van ‘n volledige navigasiestelsel.

Die 1.6 Dynamique met outomatiese ratkas het in Mei 2010 gevolg en ook ‘n 1.6 S om in die sportiewe mark te voorsien. Die kersie op die koek is natuurlik die onlangse bekendstelling van die Clio RS in Oktober waar hierdie witwarm-model tydens die Knysna berg-ren sy ware kleure kom wys het.

Die Clio-reeks se pryse begin by N$179 900 vir die standaard  5-deur model tot N$279 900 vir die warm Spesiale Uitgawe Sport 3-deur.

Die Clio-reeks word deur ‘n 5-jaar of 60 000 km diensplan ondersteun wat beteken dat daar geen verborge of ongemaklike verrassings vir die nuwe eienaar gaan wees nie! Viva la France!

Leave a Comment