Luister!
Elke jaar verskyn daar in die matrieks se Latyn-vraestel die vraag: Noem twee motors met Latynse name. Die antwoord is natuurlik Audi en Volvo. En dan word die betekenis ook gevra. Vir Audi is dit om te hoor; vir Volvo is dit om te rol!
Die eerbiedwaardige handelsnaam Audi stam natuurlik uit die moeilike dertigerjare en depressie toe vier Duitse fabrikante saamgesmelt het om die Auto Union Groep te vorm, vandaar dan ook die vier ringe van die Audi logo. En die Audi gedeelte kom van die naam van die stigter van die een maatskappy, August Horch. En Horch in Duits beteken om te hoor.
Die voorganger van die Audi in Suid-Afrika was die legendariese voor-oorlogse DKW en daarna die Auto Union-DKW’s in die vyftigerjare. En uit die asse het die Audi in die sestigerjare opgestaan toe Volkswagen die handelsnaam oorgeneem het. Plaaslik het die Audi 90 in 1968 op die toneel verskyn met sy ruim bak, voorwielaandrywing en uiters suinige brandstofverbruik vir sy grootte. In beginsel was hy presies die teenoorgestelde van die Volkswagenprodukte van die tyd. Maar op die lange duur het Volkswagen méér van Audi se tegnologie oorgeneem as wat Audi van Volkswagen gekry het! En die antwoord lê seker in die wêreldberoemde slagspreuk van die maatskappy: Vorsprung durch Technik, of overgeset synde, voorsprong deur tegnologie.
Die Audi 90 is gevolg deur die 100 wat op sy tyd die laagste sleursyfer onder sedanmotors gehad het en hom nog suiniger met brandstof gemaak het as sy voorgangers. Daarna het die kleiner Audi ook (kortliks) sy verskyning op die toneel gemaak. Vir ‘n kort periode het ons hier ook kennis gemaak met die Audi Quattro wat in die hande van Sarel van der Merwe nuwe betekenis gegee het aan spoed en balans – en die voordele van permanente viewielaandrywing. Hier was dit beslis ‘n praktiese voorbeeld van voorsprong deur gevorderde tegnologie.
Dit was egter die aankoms van die A4 Audi op die mark wat bordjies verhang het. Tot op daardie stadium het BMW en Mercedes die plaaslike mark vir luukse en kwaliteitmotors heeltemal oorheers. Maar die nuweling van Volkswagen/Audi het met die wegtrek die bekende Duitsers tromp-op geloop en het die A4 Audi begin saamgesels, en verkoop, in die opponente se groep kleiner motors. Die A6, A8 en die blitsige A3 modelle het op hulle terreine ook die kaarte vir die ander manne begin deurmekaar krap. Veral onder die jonges het die A3 kult-status verwerf. Maar dit is die A4 wat die maatskappy se ligpunt bly en die grootste getal aanhangers het.
Dit is dan ook in Duitsland die siening. Die tydskrif Auto Test het onlangs die A4 met ‘n silwermedalje bekroon vir kwaliteit en kliëntetevredenheid. Hierdie toekenning is in die Axel Springer Gebou (op die grens van die destydse Oos-Berlyn) aan Audi gemaak omdat die tydskrif deur die Springer Uitgewers uitgegee word.
Die toekenning het gevolg op die toets van 500 motors wat oor ‘n jaar gedoen is. Dit het onder andere ingesluit versnelling, brandstofverbruik, stop or remafstande, standaard van veiligheidstoerusting en onderhoudskoste. Verder het hulle ook die aantal foute wat in motors van dieselfde fabrikaat voorkom, nagegaan. Die internasionale bekende J.D. Power ondersoek na eienaartevredenheid wat sedert 2002 in Duitsland gedoen word, bevestig die Audi A4 se benydenwaardige status wat hy onder sy eienaars het. Vir die huidige jaar is 16 330 eienaars ondervra en spreek die antwoorde boekdele.
Die gevolg: Luister maar na wat die Audi eienaars sê!