Kommentaar: Volkswagen Amarok

Amok in die Hok?

Oor minder as ‘n maand gaan die poppe dans as Volkswagen van Suid-Afrika hulle nuwe Amarok bakkie op die mark plaas. Self nog nie die bakkie gesien en ervaar nie maar van my kollegas het al in Suid-Amerika, waar hy sy oorsprong het, met hom gery en was in die wolke oor sy verrigting – en waar hy orals kan gaan.

Pryse en enjins wat beskikbaar sal wees, is nog nie finaal bepaal nie. En dit is juis hierdie dinge waaroor ons motorjoernaliste onlangs met mekaar gesels het op ‘n bekendstelling van een van sy belangrikste mededingers se produkte. Almal wag al ongeduldig om hom sy passies te laat uitvoer en ‘n oordeel uit te spreek. Ongelukkig sal ek nie self daar kan wees nie omdat pligte juis in die buiteland juis op hierdie datum roep. Dis jammer, want ek weet die boere wat die Vrystaatse landbouskou gaan bywoon het, reeds méér van hom weet as ek self.

Maar, soos dit gaan, het die Amarok nie uit die lug geval nie en die aanloop tot die ontstaan is waarskynlik interessant.
Toyota wou graag met hulle Hilux bakkie die Europese en Oos-Europese mark betree waar hulle gedink het daar ‘n aanvraag vir sulke voertuie sou wees.

Amerika is dan so ‘n groot bakkie-mark – soos by ons ook waar die Toyota Hilux weereens die land se beste verkoper die afgelope maand was. Aan die anderkant wou Volkswagen in Duitsland graag ‘n bakkie hê om in te pas tussen die klein Caddy (Polo) halftonner en die groter Volkswagen een ton bussies/bakkies wat nou ook al ‘n jaar of twee by ons op die mark is.

Die gevolg was dat in die gedenkwaardige jaar vir Europa, 1989, Volkswagen hulle eerste “regte” bakkie op die mark geplaas het; ‘n Toyota Hilux bakkie wat hulle onder lisensie in hulle Hanover handelsvoertuigfabriek gebou het en hom die Volkswagen Taro genoem het.

Die Volkswagen Taro was toegerus met ‘n onaangjegaagde 2.4 liter diesel enjin. In 1994 het ‘n 4×4 weergawe gevolg met ‘n groter kajuit; die soort waarvan die Amerikaners so baie hou. Maar om een of ander rede het die Taro nie waffers gevaar in Wes-Europa nie, Van my ingeligte kollegas het aangevoer dat Volkswagen hom op die Russiese mark toegespits het maar dat die verkope nie na wense was nie.

‘n Ander stukkie inligting, wat moontlik apokratief is, is dat Volkswagen die Taro na Suid-Afrika wou bring om hier met die Toyota Hilux mee te ding. As dit waar is, het die planne egter skipbreuk gelei om onbekende redes. Maar hy sou seker goed verkoop het omdat daar seker geen ander bakkie soos die Toyota Hilux is waarvan onderdele letterlik van die Kaap tot in Kaïro vryelik beskikbaar is!

‘n Steelfoto op die Internet van die eerste prototipe Amaroks wys dat hulle hom soos ‘n Toyota Hilux gekamoefleer het toe hulle hom op die oop pad getoets het. Dit laat mens dink aan hoeveel Volkswagen moontlik by Toyota geleer het oor basiese uitleg, konstruksie en suspensie.

Maar wat volgens berigte soos ‘n paal bo water staan is dat die enjinreeks en toerusting glad nie met die Hilux-reeks ooreenstem nie en dat daar meer moderne elektronika aan boord gaan wees. Die feit dat die Amarok in Suid-Amerika ontwikkel is, waar toestande baie dieselfde is as Suid-Afrika, laat ‘n mens dink dat hy waarskynlik goed op die plaaslike mark gaan vaar.

Dit gaan ook interessant wees om te sien hoe hulle advertensieveldtog gaan lyk om boere en jong jappies (en japies) oortuig gaan word dat Volkswagen ook “regte” bakkies kan bou wat ewe tuis is op die plaas as op die huis-tot-skoolroetes in die voorstedelike gebiede. Om eerlik te wees; die vertroue wat Toyota se Buddy en sy oulike klein nefie met die haasbek op ons televisieskerms inboesem, gaan moeilik wees om te klop!

Ons wag in spanning!

Leave a Comment