Langtermyntoets: 2018 Honda Amaze 1.2 Comfort Handrat

Die naam sê alles.

Deesdae is daar vele vervaardigers wat wonderlike name aan nuwe voertuie gee. Name wat maklik oor die tong rol en ook dalk ‘n wenk mag gee oor hoe wonderlik en fantasties die nuwe voertuig is. Meestal gebeur dit dat die einste voertuie sukkel te voldoen aan hierdie naam. Om dus ‘n voertuig ‘n naam soos “Amaze” te gee, verg redelik baie waagmoed van Honda. In hierdie artikel sal ons kyk of die Japannese vervaardiger in dieselfde gat geval het en hul trots moet sluk, of wel ‘n verassende pakket ontwikkel het.

Met ‘n 1.2 liter , 4 silinder petrol enjin en 66kW/110Nm, het my pessimisme dalk te vinnig kop uit gesteek. Met ‘n gewig van net 900kg is ek vinnig vekeerd bewys en het die Amaze onmiddelik bewys dat daar beslis nie ‘n tekort aan krag is nie.

Sommer vining is daar besluit om die Amaze te toets op een van die Kaap se mees gewilde toeriste roetes. Gelaai met vier persone en hul bagasie vir die naweek, het die Amaze eers die pad vanaf Helderberg na Houtbaai aangedurf. Hier sou ons die algehele brandstofverbruik op die N2 uittoets, waarna daar ook vir die res van die naweek na Kaappunt (oor Chapmans Peak) en Simonstad gery  sou word. Verdere toetse sou grondpadroetes ook behels.

Indien daar haas is om tot by die kruks van die artikel te kom kan ons sommer gou reeds bevestig dat die Amaze, wel, “amazing” is en algehele uitmuntunde gehalte toon vir die prysklas. Die Honda Amaze het sowaar sy kop bo die kompetisie se skouers uitgesteek.

Op die oop pad en selfs met vier persone in die voertuig, het ons ‘n konstante verbruik van tussen 6- en 6.5 liter per 100km gekry, wat baie handig te pas kom as daar in ag geneem word dat die petroltenk net 30 liter bevat.

Om vining te ry is nou wel nie die modus operandi van die Amaze nie. Eerder is die fokus om ‘n gemaklike en genotvolle rit aan die bestuurder of toeris te verskaf. Dit is hier waar die Amaze kop-bo-skouers uitstaan.

Met die 1.2, wat skaars gehoor kan word, teensy dit hoog in die revolusies gestoot word, is die Amaze heel gemaklik op die oop pad. Een nadeel is wel die windgeraas. Meng ‘n lae gewig met die Kaapse winde en die Amaze verg twee hande op die stuur teen enigiets meer as 70km/h.

Op windstil dae is dit weer presies die teenoorgestelde en kan die Amaze met geen moeite gestuur word. Die vyfspoed handrat is ook seepglad en verg minimale moeite. Op die oop pad kan enigiets tussen 2 500 – en 3 500 opm verwag word vir ‘n spoed tussen 100 en 120km/h.

Die ander nadeel is natuurlik die soliede as aan die agterkant. Hierdie kan wel koste-effektief wees, maar kan nadelig wees, sou die kar oorlaai word en dalk te vining rondom draaie geslinger word.Hierdie tegniese spesifikasie in ag genome, het die Amaze wel goed hanteer, selfs met ‘n voertuig vol naweek bagasie en vier persone.

Waar die Amaze egter wel sukkel in sy “Amazingness” is teen steil bulte. Ons neem aan dat dit dieselfde geval sal wees sodra die lug dunner raak oor Vanrhynspas. Met so ‘n klein enjin kan daar nie verwag word dat die Amaze enige bult in vyfde of selfs derde rat sal kan uitklim nie. Hierdie is die enigste nadeel wat die enjin betref.

Die binneruim se voordele is ook natuurlik meer as die nadele, met net die twee-kleurskema van die sitplekke, wat nie goed pas met die dubbel kleurskema van die deurpanele nie.  Ons sou in hierdie geval die materiaal sitplekke verkies (teen geen ekstra koste en standaard).

Ons is verder verras (Amaze) deur die gehalte van die klanksisteem, sowel as die effektiwiteit van die USB en Bloutand (Bluetooth) konnektiwiteit. Nog ‘n punt waar die Amaze beslis uitstaan bó die kompetisie.

Met 420 liter laaiplek is die Amaze ook wel goed toegerus vir vier persone se bagasie. Terselfdertyd kon ons twee agterste passasiers ook gemaklik sit. 

Veiligheid in die Amaze behels twee lugsakke voor, sowel as ABS en EBD.

Ter opsommig kan ons sê dat ons baie van die Amaze gehou het. Dit bied ‘n algehele goeie pakket met goeie grondvlak hoogte vir daardie nie onwensde grondpaaie. Dit bied ruim kapasiteit, goeie tegnologiese konnektiwiteit, sowel as uitstekende brandstofverbruik.

Indien jy opsoek is na ‘n vakansie-huur voertuig vir die volgende Suidkaap roete, of selfs net ‘n ekonomiese voertuig vir die daaglikse verkeer, moet nie veel verder as die Amaze soek nie. Dit kos immers minder as R200 000.

Die nuwe Amaze kan in die volgende drie weergawes aangekoop word:

  • Amaze 1.2 Trend Handrat – R 179 900
  • Amaze 1.2 Comfort Handrat – R 193 900
  • Amaze 1.2 Comfort CVT – R 208 900

Elk van die Amaze modelle kan aangekoop word met ‘n vyf-jaar / 200 000km waarborg, twee-jaar / 30 000km diensplan en ‘n drie-jaar AA padhulp pakket.

Leave a Comment