Langtermyntoets: Isuzu KB250 X-Rider 2×4

Om ‘n langtermyngebruik artikel oor ‘n voertuig te skryf, is ietwat anders as ons gewone “een-week” rubrieke. Anders as om net krities na ‘n voertuig te kyk, word hierdie geleende voertuig soos ‘n tydelike besitting. Een waarmee daar ‘n band gevorm kan word.

Die Isuzu KB250 X-Rider (2×4) het ons ‘besitting’ geword tydens ‘n tydperk van ‘n maand en ‘n half. Siende dat hierdie bakkie ‘n verskeidenheid take verrig het, soos om kersbome, meubels en mense heen en weer te vervoer oor die feesgety, het ons gedink die naam “Rudolf die rooineus Isuzu” was heel gepas. Dit was uiteraard ‘n goeie werksvoertuig, iets wat sterk in die vervaardiger se doel ingeskryf is.

Ná ‘n baie suksesvolle tydperk in 2016, waarin die X-Rider as ‘n tydelike reeks verkoop is, is daar besluit om hierdie as ‘n permanente reeks te vestig. Ons 4×2 model het dan 100kW en 320 Nm uitgeskop vanuit die 2.5 turbodiesel enjin.



Gepaard met dit laat die 18-duim allooi wiele, ‘n swart buffer (met misligte), alluminium sytrappe, en ‘n sportiewe swart voorgesig die bakkie redelik uitstaan in die verkeer. Moet natuurlik ook nie van die “X-Rider” embleem en die opvallende rooi Isuzu tekens vergeet nie. Hierdie KB staan uit – blink en skoon.

Binne is die voertuig natuurlik uitgerus met leer sitplekke (met rooi stiksels), ‘n radio met bloutand (Bluetooth) en USB, sowel as ‘n 12-volt punt in die voorste kompartement. Die bakkie is ietwat oudtyds in terme van tegnologie, meet geen “streel paneel” of effektiewe klimaatbeheer nie. Tweedens is die Bluetooth konnektiwiteit ook ‘n probleem.

Die spasie in die agterste ry sitplekke maak egter hiervoor op. In geen toets-bakkie tot dusver, het ons dieselfde spasie gesien nie en kon selfs ons 2 meter lange redakteur heel gemaklik agter sit.

Brandstof ekonomie is natuurlik een van die uitstaande positiewe punte van die KB250. Ons 4×2 het ‘n gemiddelde brandstof verbruik van sowat 7.5 liter per 100km gegee. Hierdie is ‘n uitstekende syfer, siende dat ons meestal in stedelike verkeer rondgery het.

Hiermee gepaardgaande, moet dit ook erken word dat die Isuzu (weens die bekwame werksetiek) nie eintlik ‘n gesinsvoertuig is nie. Die gebruik van dié voertuig as noodmotor om ‘n swanger vrou, óf die moeder van ‘n pasgebore baba te vervoer en ‘n sagte rit te verwag, word nie aanbeveel nie.

Hierdie het ons baie vining opgelet met die rondryery van bejaarde familielede na Kerspartytjies. Ongelukkig moes my passasiers met bewende stemme ‘n gesprek probeer voer.

Tweedens het die Isuzu ook nie veel krag nie en is dit ietwat lui teen die bulte op. Moet ook nie met die KB 4×2 verwag om enige grondpad slote uit te ry nie. Met die afname in krag en min traksie, is die 4×2 nie die beste opsie nie. Met 224mm grond hoogte, sal die Isuzu wel matige grondpaaie kan handhaaf.

Teen R407 800 is die 5-spoed (handrat) weergawe nie ‘n slegte koop nie, inaggenome van die funksies in die binneruim. Daar is nie tans ‘n ander bakkie op die mark wat dieselfde prys handhaaf met al die funksies nie.

Krag is egter die nadeel en vir R20 000 meer kan ‘n dubbelkajuit bakkie, met ‘n kleiner enjin, maar meer krag lewering (385 Nm) aangekoop word. Hierdie bakkies sal wel minder gerief aan die binnekant hê, maar sal die nodige werk kan verrig. Vir werksverrigting kan die 4×2 ongeweer 1050kg dra en 2.1 ton sleep.

In kort is die Isuzu uitstekend in terme van waarde vir geld, maar daar moet egter nie verwag word dat hierdie bakkie die gemaklikste sal wees of die swaarste werksverrigting kan vermag nie. Beenruimte is kolossaal, met ‘n brandstofverbruik wat ook nie die bank breek nie.

Ons het ook met verloop van tyd die gedreun van die ‘differensiaal’ en bande teen hoë spoed gehoor. Hierdie het redelik prominent geraak teen enigiets vinniger as 70km/h.

‘n Verdere raakpunt is die beweging van die voertuig in knap ruimtes. Met so ‘n groot voertuig, sal ‘n trurat kamera baie handig wees.

Die KB 250 X-rider word ook met ‘n 5 jaar/90 000km diensplan en ‘n 5 jaar/120 000km waarborg verkoop. Hierdie is ‘n redelike goeie diensplan, inaggenome dat Isuzu befaam is vir hul langtermyn kwaliteit.

As alternatiewe opsie, met ‘n klein bietjie meer krag, asook ‘n vier-deur bakkie, kan die Isuzu KB 250 4×4 Dubbelkajuit LE teen R455 000 aangekoop word. Ietwat duurder, maar met meer traksie en krag, is hierdie dalk die beter besluit.

Teks: Franco Theron en Norman Nieder-Heitmann
Fotos: Galimoto Media

Leave a Comment