Padtoets: 2009 Dodge Journey CRD

Die veelsydige alternatief

Die Dodge Journey moet eintlik ‘n reuse sukses wees, nie net in sy tuisland, die VSA nie. Nes ons Namibiërs het die meeste mense wêreldwyd die SUV / sportnutsvoertuig of 4×4 se doeleindes heeltemal verkeerd vertolk en het hulle die koop van so ‘n groot spogmotor met redes soos veiligheid en spasie probeer verdedig.

Verkeerd. As u vier-by-vier normaalweg méér as teerpad onder sy voete kry, het u die regte voertuig gekoop. Wel gedaan. Maar as die groot bul nooit meer as ‘n inkopiewinkel moet verower nie, wat is die punt van so ‘n voertuig?

Ja, hy’s groot en ja, hy sal (meestal) beter vaar teen ander voertuie as dit by ‘n botsing kom. Maar onthou die ou spreekwoorde – voorkoming is beter as genesing. Groot, swaar, vierwiel-aangedrewe voertuie sal makliker ‘n ongeluk veroorsaak as ‘n gewone sedan of stasiewa.

Maar dit is tog te lekker om met ‘n bietjie té veel voertuig deur die dorp te beweeg, en dit is waar die kêrels van Dodge toegeslaan het. Die Journey is nie ‘n vervelige mini-bus nie, maar ook nie ‘n sinlose vierwielmonster nie.

Ruil die dorstige SUV met sy sagte vering en ultra-rubber in vir die Dodge en jy hoef nie ontrekkingssimptome te vrees nie. Dit is ‘n massiewe voertuig, minus die hoë swaartepunt en onnodige vierwiel-masjienerie. Dit is briljant, maar slegs die Dodge manne weet dit. En ek, natuurlik.

Ek’s ernstig – as u van die “veilige” gevoel in ‘n 4×4 hou, sal die Journey u nie teleurstel nie. Boonop sit mens ook hoër as in ‘n gewone voertuig, en geniet soortgelyke spasie en geriewe soos in ‘n groot sportnutsvoertuig. En almal wat hom sien is verbaas om te leer dat die voertuig nie vierwiel-aandrywing het nie. “Rêrig? Maar hy’s so groot…”

Plaaslik is die Dodge Journey met twee enjins beskikbaar – ‘n 2.7 liter V6 petrol, en ‘n 2 liter turbodiesel. Die eersgenoemde 136kW (185pk) V6 is in twee weergawes van die voertuig te kry: die luukse “SXT” en ‘n meer sportiewe “RT”. Die 2.0 CRD turbodiesel kragbron kan slegs met die “RT” pakket gekoop word.

Laas jaar het ek al die 2.7 petrol SXT Journey getoets, en vinnig met die klein V6 maats gemaak. Sy effens klein silinders sukkel ‘n bietjie met die groot en swaar Journey, maar dit gee mens net ‘n slegte verskoning om die wonderlik-harde V6 klanke te hoor. Die enjin moet hard gewerk word in die Journey, en dit het ongelukkig ook ‘n slegte invloed op sy brandstofverbruik.

Dus was ek nuuskurig om die 2.0 CRD turbo-diesel te toets, nie net omdat hy meer wringkrag het as die relatiewe “klein” V6 nie, maar ook omdat hy beloftes maak van beter verbruiksyfers. Die turbodiesel kragbron wys ‘n opmerkbare krag-gaping as mens wegtrek, maar sodra die turbo-aanjaer druk opbou is daar meer as genoeg wringkrag beskikbaar.

Die vier-silinder 103kW (140pk) 2-liter turbo-diesel is ook nie skaam vir toere nie, sy kragontwikkeling is glad en ononderbroke tot by 4 500 /min. Sy maksimum wringkrag van 310Nm maak sy verskyning by ‘n aangenaam lae 1 750 toere, en tesame met die Getrag dubbel-koppelaar outomatiese ratkas lewer dit kalm en aangename verrigting.

Die Journey se padvermoë en hantering is ook verrassend goed; hy’s nie ‘n harde sportmotor nie, maar ook nie ‘n sagte vier-by-vier nie. Sy veringstelsel is gemaklik en die bak kantel ietwat om skerp draaie, maar met groot wiele en ‘n dosyn elektroniese hulpmiddels sal die voertuig verrassend goeie hantering bied voordat die rekenaarstelsels hul verskyning maak.

Die voertuig mik meer vir jong (en groot) families, en dit word absoluut duidelik in sy 5+2 sitplek binneruim. Dodge leen ‘n paar elemente van Chrysler en Jeep, die instrumentepaneel lyk ‘n bietjie soos die van ou Amerikaanse mini-busse, en die verskillende materiale is meer aanvaarbaar as indrukwekkend.

Ek het baie van sy twee-kleur leersitplekke gehou, wat almal op verskillende maniere vou of verdwyn. Volwassenes sal vinnig begin kla in die agterste twee sitplekke, maar hulle bied meer as genoeg spasie vir kinders.

Die moontlike kombinasies van sit- en/of laaiplek is buitengewoon. Dus het die Journey ‘n baie veelsydige binneruim, en die harde plastiek-oppervlakke sal vir ouers van klein kinders ‘n wonderlike eienskap wees. Ja, sommige oppervlakke lyk goedkoop maar hulle is effektief en diensbaar.

Groot knoppies en bedien-elemente uit die Chrysler/Jeep inkopiewa voltooi ‘n eenvoudige ontwerp met die uitsondering van die Journey se 6-CD/DVD-navigasie/bluetooth Infinity klankstelsel. Die dubbel-DIN beheerstelsel het tientalle knoppies en funksies, en enige nuwe eienaar sal goed doen as hy of sy die sisteem goed leer ken voordat enige ritte begin word.

Die klank van die radio, CD, DVD, ipod of ander musiekspeler is fantasties; Ma en/of Pa sal beslis die volume-knoppie misbruik op pad terug van die skool. Hulle sal N$287 900 vir die basiese V6 model moet opdok, en tot N$394 900 vir die CRD RT model.

Leave a Comment