Padtoets: 2009 Subaru Impreza WRX

Winskoop van die dekade

Daar is nie baie dinge wat ek voor bang is nie, maar die lys het so pas gegroei. Net agter Tequila, kameras langs die pad, spinnekoppe wat groter is as my skoen, en enige gebou wat “tandarts” sê, kom nou ook die Subaru Impreza WRX.

Een van die redes hoekom hy my hande laat sweet en my keel droog maak is dat ek altyd redeneer 200kW (of 275pk) is meer as genoeg in enige motor, en die Impreza WRX se 195kW het my behoorlik laat skrik.

Dit bly die versteekte gevaar agter elke Subaru met ‘n Boxer enjin en fluitende turbo-aanjaer; hulle misbruik die simmetriese vierwielaandrywing om motors met veel meer krag agter hulle te los. Dit raak ook net erger as die pad begin draaieri raak.

Maar kom ons begin liewers van voor af, met die nuwe 4-deur sedan-voorkoms van die Impreza WRX. Die familiemotor resep is nou die nuutste beeld van die Impreza, nadat hy byna elke jaar of so sy luikrug vorm verander het. Dié is nou vir die mal STi weergawes gereserveer.

As jy by die vlerke en gate van ons bloedrooi toetsmotor verby kyk, is die Impreza maar net nog ‘n moderne huurmotor… ‘skuus, familiemotor. Die WRX weergawe se ekstra bakwerk, dik uitlaatpype en donker-grys wiele maak seker dat niemand dié motor se bestuurder vir ‘n verlore toeris sal uitken nie.

Die Impreza WRX is een van daai motors wat dit onmiddelik vir jou duidelik maak dat daar ‘n tier onder sy bakwerk sit. Kyk mooi, hy’t selfs ‘n massiewe gaping in die enjinkap om die kat vars lug te voer. “Daai is beslis nie ‘n regte gaping nie” sê ‘n vriend toe hy die motor raaksien. ‘n Minuut later is hy tjoepstil; net onder die gat sit die ongeduldige lugdruk-verkoeler.

Die binneruim van ‘n Impreza is nogal basies, maar dit is slegs as jy hom met duurder weelde-motors met dieselfde verrigting vergelyk. Hope swart plastiek en ‘n paar silwer aksente kenmerk die kajuit van die Subaru, maar die WRX model spog met aantreklike (en gemaklike) sport sitplekke, en ‘n groot Kenwood aanraak-skerm 6-CD-mp3-navigasie radio eenheid.

Knoppies op die dik stuurwiel kontrolleer dié goeie klankstelsel en ook die spoedbeheer. Die basiesie instrumente het ‘n groot toereteller met ‘n klein spoedmeter regs en temperatuur / brandstofmeters links. Die instrumente het rooi syfers en wit naalde (wat dikwels vinnig beweeg), en die motor se lugreëling word beheer deur drie eenvoudige draaiknoppies.

Die Impreza WRX gebruik nog ‘n “normale” sleutel met knoppies vir sy afstandbeheerde sentraalsluiting en alarm, en die sleutel soek ook ‘n gewone slot –  sonder ‘n start/stop knoppie soos die mode deesdae dikteer. Die 195kW Boxermotor begin sy werk met die horisontaal-gerigte hammer-geluide wat Subaru aanhangers laat kwyl!

Met alledaagse gebruik is dié geluide effens raserig, en veral by konstante spoed op ‘n snelweg kan die dreun van die uitlaatpype ietwat pla. Entoesiaste sal beslis hiervan hou, en enige iemand anders kan die goeie klankstelsel bietjie laat werk.

Nog ‘n plesierige opmerking vir Jan Alleman is die gemaklike veringstelsel. Ek het gedog die WRX sal onmoontlik hard en ongemaklik wees, maar dit was nie die geval nie. Die Impreza bied gemaklike vering vir sy insittendes en sy bak kantel ook bietjie meer om die draaie as wat ek verwag het.

Sy stuurwiel en pedale is lig en maklik om te bedien, en die 5-spoed ratkas het ook skaflike maniere. Die nuwe Subaru is verbasend “leersaam” op stedelike paaie en het meer as genoeg kragreserwes (of kattebak spasie) om teen lae toere winkels toe te ry.

Maar sy tydren-gene wag in spanning, en as jy wil, verander dié motor vinnig in ‘n blitsige jaagduiwel. Kies ‘n laer rat en sit voet neer, en skielik verander die goeie wringkrag (343Nm) in histeries goeie versnelling. Die 265 perdekrag laat ‘n Impreza WRX van nul to honderd in net 5.3 sekondes skiet. Ja, ek bedoel dit, skiet!

Daar is ‘n opmerkbare turbo-gaping, maar as die aanjaer eers druk opgebou het, is bestuurder en passasiers op ‘n wilde rit sonder gelyke. Volgende ratte klap insittendes wéér terug in hul sitplekke, vergesel van die Boxer enjin se harde getrommel. Herhaal hierdie aktiwiteite op ‘n pad met skerp draaie en dikwels sal passassiers (en bestuurder) begin kragwoorde gebruik.

Die Impreza WRX skiet om die draaie asof hy op ‘n treinspoor loop, en sal eers met báie hoë snelhede (of harde versnelling) ophou klou. Kom ons stel dit so: as jy in ‘n Subaru Impreza WRX begin gly, het jy dit verdien!

Hierdie asemrowende motor se pryse begin by N$359 000, en sluit ‘n 3 jaar of 100 000 km waarborg met 3 jaar of 63 000km diensplan in. Wees verseker dat jy ten minste dubbel dit sal betaal om soortgelyke verrigting by ‘n ander handelsmerk te kry. Laas keer het ek by Subaru die winskoop van die jaar gevind, hierdie keer is dit die winskoop van die dekade!

Leave a Comment