Die beeldskone sussie
Sommige dinge sal nooit verander nie, en die Volkswagen Scirocco is klaarblyklik een van hulle. Ek onthou die eerste weergawe van VW se twee-deur spogmotor nog goed, omdat die ma van een van my skoolvriende ‘n silwer 1980 Scirocco in Windhoek gery het. Waarskynlik nog steeds.
Die formule vir die nuutste generasie het nie verander nie, slegs sy vorm en tegnologie is opgekikker. Die Scirocco is nog steeds ‘n mooier 2-deur weergawe van die Golf, en bied modieuse kopers ‘n aantreklike keuse in die Golf segment.
Ek bedoel nie dat die Golf 6 enigstens lelik is nie; maar sy beeldskone sussie met haar kwaai gesiggie, elegante lyne, en wye heupe laat altyd meer koppe draai. Ek was voorspelbaar opgewinde toe ek ons toetsmotor in die Kaap gaan haal het, en op pad daarheen het ek gewonder watter kleur rokkie sy sal dra.
Nie dat dit rêrig saak maak nie; die Scirocco lyk fantasties in enige van die tien beskikbare kleure. Ek hou nie baie van wit motors nie (lorries en bakkies is wit) maar selfs die verveligste kleur ooit kon die Scirocco se beeld nie beskadig nie.
Miskien moet ek maar ophou tik oor die aantreklikheid van die voertuig, maar ek glo dit sal een van sy grootste verkoopspunte wees. Geen kinders? Scirocco. Stylvolle tegno-aanhanger? Scirocco. Stoksielalleen op ‘n Saterdagaand? Scirocco.
Agter die stuurwiel van die nuwe coupé lyk dinge ook effens anders; mens sit laer in die leer sportsitplekke as in ‘n GTi. Gekombinier met die klein vensters en lae daklyn is die Scirocco beslis meer ongemaklik om in te klim as ‘n Golf. Die agterste sitplekke kan twee volwassenes dra, maar weerens is daar nie baie ruimte oor nie.
My twee grootste klagtes oor die Scirocco se binneruim was sy stuurwiel en instrumente. Eersgenoemde het besluit om sy satelliet-knoppies (vir klank, rekenaar, of spoedbeheer) by die huis te vergeet (Volkswagen vra ekstra vir vir hierdie speelgoed) en ek dink dat dit in ‘n motor van dié klas (en prys) nie aanvaarbaar is nie.
Die instrumente is nie onaantreklik of moeilik om te lees nie, maar in vergelyking met die vars wit-en-rooi van ‘n GTi lyk hulle effens vervelig. Die sentrale ritrekenaar is ook ietwat outyds en het my herinner aan dié van Audis ‘n paar jaar gelede.
Maar genoeg gekla! Scirocco se instrumentepaneel en ander beheerstelsels is modern, en reeds bekende items uit die Golf 6 / GTi reeks. Ons toetsmotor was toegerus met ‘n groot 6-CD / radio klankstelsel met aanraakskerm en “Dynaudio” luidsprekers (N$13 230), wat nog meer beïndrukkende klanke as die normale stelsel in die Golf produseer.
Die ruite en spieëls is natuurlik elektries verstelbaar; die stuurwiel en voorste sitplekke beweeg ook in alle rigtings. Verder bied Scirocco klimaatbeheer, kragstuur, ‘n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer, ‘n halwe dosyn lugsakke, 12V-sok, AUX- sok, ‘n verkoelde paneelkissie, en hoogte-verstelbare hoofligte.
Sy versameling van veiligheidstoerusting sluit in ABS, ASR, EBD, ESP, EDTC, EDL, en HHA. Ja, ek moes VW se webwerf besoek vir ‘n verduideliking. Die eerste vier sisteme is bedoel om jou op die pad te hou (en glo my, hulle wérk!), die volgende twee beheer die enjin se wringkrag en die ewenaar se kragverdeling, en die laaste meneer help jou om by ‘n bult weg te trek.
Nes die GTi toetsmotor het ons Scirocco ook die 6-spoed DSG dubbel-koppelaar ratkas benut wat ook “Launch Control” bied om jou vriende te beïndruk. Mens kan die ratkas in volle outomaties gebruik (D), of self skakel, of hom in Sport-stelling sit. Twee spane agter die stuurwiel gee dan die indruk dat jy ‘n Formule-1 renjaer is.
Terwyl die nuwe GTi ‘n klein hupstoot gekry het met ‘n 155 kW / 210pk kragbron, benut die Scirocco nog ‘n ouer (147kW / 200pk) weergawe van die 2-liter gelid-4 turbo-aangejaagde petrol-enjin. Ek kon geen opmerkbare verskil tussen die twee motors se verrigting vind nie, die Scirocco versnel in 7.1 sekondes tot 100km/h en behaal uiteindelik 233 km/h. Sy gemiddelde verbruik lê by 7.6 l/100km.
Soos die GTi is sy enjin se 280 Nm wringkrag ‘n heerlike manier om teen laer toere te versnel, en hy stuur ook ‘n vinnige klapgeluid by die uitlaatpype uit as jy ‘n hoër rat kies. Albei enjins het ‘n rooi sone van 6 200 toere/min gewys, maar by harde versnelling graag ook 6 800 toegelaat. Weereens was dit nie altyd nodig nie, en die Scirocco se vermoë op ‘n snelweg is óók hoogs indrukwekkend. En onwettig.
Scirocco se veringstelsel is uniek teenoor die Golf reeks en bied jou ‘n keuse tussen Comfort, Normal, en Sport. Die drie stellings doen presies wat hulle belowe, en veral Sport gee die voertuig die eienskappe wat die meeste petrolkoppe na verlang.
Ingesluit in die Scirocco se prys is ‘n 3-jaar 120 000 km waarborg en ‘n 5-jaar 90 000 km diensplan. Die 2.0 TSi handrat model kos N$322 000, en die DSG model N$336 500. ‘n 1.4 TSi handrat model is ook beskikbaar teen slegs N$282 000.