Nog verder verfyn
Dit is ‘n gegewe feit dat Namibiers (en Suid-Afrikaners) oor die algemeen nou maar eenmaal gebore agternalopers is, maar darem in die figuurlike sin van die woord. Dit kan gesien word oor die breë spektrum van haas elke aspek van hulle algemene lewenspatroon hetsy sy voorkeur kos, kuns, kleredrag, sport en, dan natuurlik, sy rygoed.
In laasgenoemde geval is daar gewoonlik nog ‘n ander dinamiese dimensie by wat ook ‘n rol speel en dit is natuurlik die sosiale status wat aan ‘n sekere tipe ryding of spesifieke fabrikaat geheg word. Maar ter wille van die vrede sal hier liewer nie spesifiek op hierdie punt uitgebrei word nie en volstaan mens maar liewer.
Met ‘n man se voorkeur ryding, sy vrou, sy godsdiens, sy politiek en gunsteling rugbyspan lol jy nie sommer nie!
Tog wonder mens soms hoeveel van die stedelike 4×4 – en SUV-brigades en ander eienaars van nutsvoertuie werklik die voertuig ooit aanwend vir die doel waarvoor dit gebou is. En dit is miskien net waar die vervaardigers van die Captiva 2.4 LT die gaping gesien het. As die voertuig dan meer vir stedelike doeleindes gebruik word, pas dit dan aan vir hierdie spesifieke omstandighede. Hierdie opgegradeerde Captiva 2.4 LT bied dus nou vir die bewoners van die beton oerwoud ‘n meer beursievriendelike voorwielaandrywing variant as toe hy in 2006 hier vir die eerste keer bekendgestel is.
Hiermee het GM die voorbeeld van ander vervaardigers soos die Toyota Fortuner, Hyundai Santa Fe en KIA Sorento gevolg wat hulle vierwielaandrywingmodelle ook in ‘n tweewielaandrywing variant beskikbaar stel. Die Captiva sal egter vir die groter fynproewers nog steeds ook in ‘n 4×4 beskikbaar wees.
Uiterlik is die mees opvallende kenmerk die nuwe vooraansig waar die bekende strikdas embleem van Chevrolet byna verdwerg word in die middel van twee yslike swart sierroosters wat vir sekere voornemende kopers miskien ietwat intimiderend mag wees. Die kopligtegroep het ook ‘n meer slanke ontwerpvoorkoms en vergoed dus vir ‘n ietwat ru frontale voorkoms. Afmetings en algemene voorkoms bly byna onveranderd met die dak wat nog steeds effens afbuig na agter wat ‘n dinamiese en buitengewone slanke voorkoms aan die Captiva verleen. Die ontwerp van die agterligte bly basies dieselfde.
Ook die binneruim verleen ‘n opgegradeerde atmosfeer met ‘nuwe tipe sitplekmateriaal en verbeterde voorsitplek-beweging. Die Captiva spog ook met ‘n uitstekende CD- en radioklanksisteem met nie minder nie as agt luidsprekers, MP3 versoenbaarheid en ‘n Bluetoothkonneksie. Verstellings is ook aan die ABS-remstelsel gemaak wat die Captiva ‘n beter stopvermoë verskaf terwyl die elektroniese handrem outomaties sluit of ontsluit en die voertuig ‘n paar sekondes “vashou” wanneer teen ‘n bult weggetrek moet word.
Buitengewone gifte en gawes moet altyd met ‘n bietjie agterdog bejeën word en ongelukkig, of miskien gelukkig, is die Captiva nie meer toegerus met ‘n aanboord rekenaarsisteem of hulpparkering in trurat nie en kan mens aanvaar dat dit die nuwe Captiva eintlik teen ‘n baie meer kompeterende prys beskikbaar stel.
Die Captiva 2.4 LT se enjin is ietwat kleiner en aangepas met kraglewering van 123 kW en 230 Nm wat krag via ‘n sesgangratkas na die voorwiele verplaas. Maksimum spoed is 186 km/h en versnelling van 0-100 geskied in ongeveer 10.3 sekondes. VVT tegnologie gee aan die Captiva ‘n uiters ekonomiese brandstof (petrol)verbruik van net onder 12liter/100 km in die stedelike siklus, net onder 9 liter/100 km in die gemengde siklus en ‘n verdienstelike verbruik van onder 8 liter/100 km op die oop pad. Tenkinhoud is 65 liter.
Laai- en pakruimte is meer as genoeg vir die naweke wat die hele gesin plus honde en katte en nog meer moet saam gekarwei word. Wanneer agtersitplekke platgeslaan word bied die Captiva ‘n massiewe meer as 1500 liter pakplek terwyl sleepvermoë van ‘n sleepwa van 1500 kg moontlik is. is.
Veiligheidskenmerke van die Captiva sluit in 4 lugkussings, wat twee kantkussings insluit, elektroniese rembystand en glykontrole wat almal standaardtoerusting is.
Soos sy voorganger is die Captiva ruim, gerieflik en is hantering op beide teer- en grondoppervlak uitstekend. Daar is geen gebrek aan krag nie alhoewel die sesde rat hoofsaaklik bedoel is vir ‘n meer ekonomiese brandstofverbruik op die oop pad.
Die Captiva word verkoop met ‘n 120 000 km of vyfjaar waarborg en ‘n diensplan vir 60 000 km. Diensintervalle is elke 15 000 km / of een jaar.
Die prys van die Captiva 2.4 liter LT begin by N$304 400 wat nie lisensiegelde, registrasie, dokumentasie of afleweringsgelde insluit nie.