Padtoets: 2011 Nissan Qashqai

Nissan Qashqai nou opgekikker!

Soos die geval met Volkswagen se Touareg het Nissan ook sy Qashqai na ‘n nomadiese stam  vernoem met die verskil dat eersgenoemde na ‘n Saharagroep verwys terwyl Nissan se Qashqai (uitgespreek “Kashkai”) na ‘n nomadiese stam in die suidweste van Iran verwys.

En om met die deur in die huis te val, die verandering aan die uiters gewilde vorige Qashqai model is inderdaad grootliks kosmeties maar ook is daar vir nog meer ruimte in die nuwe modelle gemaak.  En dan is dit mos darem inderdaad so dat ‘n bietjie meer van ‘n lekkerte nog lekkerder is, te veel van ‘n goeie ding kan tog wel nog beter wees – soos die geval met Nissan se verbeteringe aan die nuwe Qashqai modelle en veral die Qashqai+2 wat nou ruimte bied vir ‘n derde ry sitplekke.

Met die bekendstelling van die eerste Qashqai enkele jare gelede het Nissan die kans gewaag om hierdie voertuig as ‘n moderne alternatief vir die ou tradisionele luikrugvoertuig aan te bied.  Die globale verkoopsyfer van meer as 500 000 eenhede sedertdien vertel die volle suksesverhaal van die Nissan Qashqai.  En op die oomblik blyk dit dat daar ook ongekende belangstelling vir die nuwer opgesmukte model in die vorm van die Qashqai+2 is en wat nou in die mark met die Opel Zafira en die Volkswagen Touran gaan kompeteer.

Ruimtegewys spog die Quashqai+2 met 211mm meer in lengte en die wielbasis is met 135mm vermeerder.  Hoewel dit nie na astronomiese syfers klink nie is dit tog genoeg om voorsiening te maak vir die ekstra ry van agtersitplekke – bygesê vir twee mense van verkieslik beskeie proporsionele afmetings!  Maar bygesê, daar is haas geen sogenaamde sewesitplek veeldoelige voertuig op die mark waar die agterste twee sitplekke hoofsaaklik vir kinders bedoel is nie.  Die effens verhoogde en vergrote bakwerk (38mm) maak voorsiening vir genoeg kop- en beenruimte terwyl die bagasieruimte nou 55 liters ekstra ruimte bied.  Totale bagasieruimte is 450 liters en met die agterste sitplekke platgeslaan bied dit ‘n massiewe 1520 liters pakruimte.

Nissan se ingenieurs het ook voorsiening gemaak vir makliker toegang tot die agterste gedeelte van die Qashqai+2 deurdat die middelste ry sitplekke 240mm vorentoe kan gly om sodoende saam met die langer agter deure so ‘n maneuver baie vergemaklik.  Al die vyf agterste sitplekke kan individueel platslaan terwyl die middelste een as armrus kan dien met twee glashouers, ‘n gerieflike stoorruimte en ‘n 12volt elektriese prop.

Met die kosmetiese opkikkering het Nissan daarin geslaag om die Qashqai ‘n dinamiese voorkoms te besorg.  Die smaller verkoelerrooster, nuwe hooflampe, meer hoekige buffer en heeltemal nuwe ontwerp van die groep agterligte wat nou ‘n smaller en horisontale voorkoms het gee aan die Qashqai ‘n uiters sportiewe en aggressiewe voorkoms.  Die vergrote wielruimtes word letterlik volgestaan deur 18” allooiwiele.  Hoewel hierdie veranderinge nie werklik van radikale omvang is nie (die familietrekke met die Murano byvoorbeeld is nog sigbaar) het Nissan wegbeweeg van die tradisionele vierkantige boksvoorkoms van SUV’s en laat dit die “nuwe” Qashqai tog werklik uitstaan.

Miskien die mees opvallendste kenmerk van die 2liter modelle is die yslike groot glasdak wat Nissan daarop aanspraak laat maak dat dit die grootste glasdak in enige motorvoertuig is!  Van binne af gee dit die persepsie van ruimte en lig en uit die middelste sitplek ‘n amper 180 grade uitsig op die hemele bo jou kop!

Afwerking in die binneruim van die Qashqai skep ‘n geregverdigde voorkoms van luuksheid en die herontwerpte instrumente paneel huisves al die moderne funksies wat in ‘n voertuig van hierdie prysklas verwag word.  Vanaf ‘n uitstekende radio/CD klankstelsel tot gerekenariseerde inligting wat met knoppies op die stuurwiel beheer kan word, reënsensors wat die veërs aktiveer en verbeterde geluidisolasie dra alles by tot ‘n genotvolle rit met die Quashqai.

As familiemotor beantwoord die Nissan Qashqai aan die hoogste vereistes van veiligheidskenmerke wat ‘n uitgebreide reeks lugkussings voor en aan die kante sowel as ABS-remme insluit.

Behalwe die Qashqai+2 wat net oor die N$300 000 merk is, is daar ook twee 1.6 modelle  en twee 2.0 liter modelle beskikbaar.  Die 1.6 Visia en 1.6 Acenta lewer beide kraglewering van 81 kW by 6000rpm en 154 Nm by 4400rpm en kos onderskeidelik N$233 200 en N$254 300 wat BTW insluit.

Die 2.0 Acenta is die enigste van die vier modelle wat ‘n sesgangratkas het teenoor ‘n vyfgang van die ander maar al die modelle is toegerus met ‘n handratkas.  Die 2.0 liter modelle met dieselfde name se pryse is N$289 900 en N$303 600 onderskeidelik.  Brandstofverbruik is ongeveer 7l/100 by die 1.6 en net oor die 8l/100 by die 2.0 liter modelle.

Nissan waarborg al sy Qashqai modelle vir 3 jaar/100 000km met ‘n diensplan 3 jaar/90 000 km.  Diensintervalle is elke 15 000 km.

Leave a Comment