Bekendstelling: Volkswagen Amarok Enkelkajuit

‘n Wolf in Skaapsklere

Baie jare gelede was ‘n goeie vriend van my skakelbeampte by Volkswagen in Duitsland en het my met groot entoesiasme vertel van hulle 4×4 voertuig wat ‘n jaar of vier later bekendgestel sou word. Dit het toe geblyk die Touareg te wees en het ek die besonderse voorreg gehad om die eerste Suid-Afrikaner te wees om die Touareg op Volkswagen se veldterrein te bestuur. Daarna het die Touareg hier aangekom en vir hom ‘n nismark uitgeslaan.

Die Amarok wat nou al meer as ‘n jaar op die mark is, wat begin het met die dubbelkajuit werk-en-vakansievoertuig reeks, het ook al klaar sy merk gemaak op die plaaslike toneel; die eerste “regte” Duitse bakkie soos ons hulle tradisioneel ken en daarmee saam groot geword het. Ja, die nimlike plaasbakkie wat met nagmaaltyd die dorp se strate oorgeneem het. Met die onlangse (internasionale) bekendstelling van die enkelkajuitmodel by die Visrivier in die Oos-Kaap, is daar nog ‘n stukkie Suid-Afrikaanse geskiedenis in wording en ding Volkswagen nou in die regte “werksbakkie” segment mee. (Vergeet maar eers van die Golfbakkie – wat nie regtig ooit ‘n Karoo-plaasbakkie was nie).

Op die oog af, lyk die moderne Amarok, wat sy naam ontleen aan ‘n Indiaanse woord wat “wolf” beteken, ontleen, indrukwekkend: moderne stilering wat deur sy bonkige voorkoms ‘n sterk indruk maak en toegerus met ‘n relatief klein maar ekonomiese 2-liter turbodieselenjin. Laasgenoemde kom in twee weergawes; die “mak” weergawe wat 90 kW ontwikkel teen 3 750 rpm en die dubbelturbo model wat 120 kW uitskop teen 4 000 rpm. Maar later iets meer oor die enjins en verrigting.

Die binneruim, sitplekke en toerusting is, soos verwag kan word, van topgehalte soos dit ‘n Volkswagen produk betaam. En natuurlik is al die veiligheidstoerusting ingesluit soos ABS-remme en lugsakke as standaardtoerusting behalwe die intree-werkesel wat nie vir die passasier ‘n lugsak het nie; ook nie elektries-verstelbare buitespieëls nie en ook nie ‘n ingeboude radio nie. Maar die res van die reeks het alles wat elektronies kan oop- en toemaak en is kragstuur natuurlik standaard oor die hele reeks. En gelukkig is die stuurwiel verstelbaar vir hoogte en diepte sodat relatief korterige mannetjies soos ek ook gemaklik kan sit en voel ek is gemaklik in volle beheer van die ryperd!

Die rit van die Amarok op goeie teerpad, sonder vrag, was nie stamperig nie. Halfpad is daar egter sementsakke opgelaai om die voertuig onder werksomstandighede te toets en die gevolgtrekking was dat hoe swaarder hy gelaai is, hoe beter raak die rit. Laasgenoemde was dan ook ‘n voordeel toe daar op egte 4×4 terrein inbeweeg is en die vering kon toon wat die wiel- en as-artikulasie oor dongas heen in staat is. Op hierdie gebied hang hy uit met die hardebaarde in die bedryf. Ook wat vragdra vermoëns betref . Dit was ook interessant om die Duitse 4X4 joernaliste se reaksies waar te neem; wat vir ons gewone (slegte) plaaspaaie was, was vir hulle ware 4X4 uitdagings! (Dis lekker om ‘n slag internasionaal suksesvol te wees met party van ons mense wat nie so lekker regkom in internasionale sportsoorte nie!).

Gepraat van die Duitsers; tydens die besprekings het verskeie joernaliste hulle uitgespreek oor die “klein” 2 liter enjin en die beperkte bandwydte waarin die maksimum Nm beskikbaar is; dit terwyl daar ook ‘n variasie van ander Volkswagen turbodiesels beskikbaar is. In beide die 90 kW en 120 kW modelle is die bandwydte slegs 500 rpm. Op 4X4 terrein, en met die regte rat in die sesgangratkas geskakel, kan die rewolusies optimaal benut word en skrik die Amarok vir niks nie. In hierdie opsig is die Amarok dus ‘n regte veldwolf. Die vraag bestaan egter of hy met ‘n perdesleepwa agter hom op die oop pad dieselfde verrigting gaan toon, is ‘n perd van ‘n ander kleur.

Die positiewe kant van die 2-liter turbodiesel is dat hy ekonomies te werk gaan as die sesgang ratkas korrek ingespan word en kan daar ‘n algehele brandstofverbruik van 7,6 l/100 km met die 90 kW weergawe verwag word en 7,9 met die 120 kW bakkie. Op die lange duur kan hierdie eienskap die Amarok ‘n wenner maak en die knoop deurhaak.

Volgens Volkswagen van Suid-Afrika is die 90 kW modelle in staat tot ‘n maksimum snelheid van 160 km/h en versnel hy van 0-100 km in minder as 14 sekondes; vir die 120 kW modelle is dit 180 km/h en versnel hy van 0-100 km/h in minder as 11 sekondes. Nie sleg nie!

Verdere goeie nuus is dat die Amarok net elke 15 000 km ‘n draai by die garage te maak om versien te word. Verder word hy gedek deur 3 jaar of 100 000 km waarborg, en belangrik, ‘n diensplan vir 5 jaar of 90 000 km diensplan. Vir die manne langs die kus en die soutbedryf is die 6 jaar waarborg teen roes net so belangrik.

Wat kos hierdie Indiaanse wolf? Die intree 2×4 model verkoop teen N$205 500 en pryse wissel na gelang van die toerusting, enjin en beskikbaarheid van 4X4 aandrywing sodat die topmodel die koper N$335 000 gaan kos. Maar dan is al die “ekstras” by die prys ingesluit en het hy ‘n “klaargemaakte” bakkie!

Leave a Comment