Hyundai se wakker Elantra
”Kalm, eenvoudig, prakties, bekostigbaar en familievoertuig.” Hierdie is die vyf gedagtes wat gewoontlik sinoniem is met Hyundai se Elantra. Dit het nog altyd gedien as deeglik ontwerpte, dog praktiese familie voertuig vir die langpad.
Met die koms van die 2017 Elantra Sport word die “kalmte” egter ietwat versteur, maar op ‘n heel aanvaarbare wyse.
In terme van krag word die kalmte ietwat versteur
Die 1.6 Elantra modelle kom uit met 93kW en 155Nm, waar die 2.0 liter weergawe ietwat meer verskaf met 115kW en 195Nm.
Die 1.6 TGDi Elite DCT Sport verskaf egter ‘n merkwaardige 150kW en 265Nm, want natuurlik ‘n heel paar voordele bring.
Waarom is die 1.6 Sport ons keuse in die Elantra reeks?
Met meer krag as al die ander Elantra modelle, is die 1.6 Sport sowat twee sekondes vinniger as die 2-liter. In terme van brandstofverbruik is dit ook 0.5 liter/100 km meer effektief as die 2.0, en het dit minder CO₂ emissies.
Alhoewel dit sowat 50 000 dollar duurder is as die 2L, sal die 1.6 TGDi baie meer ekonomies, sportief en steeds ewe prakties wees.
Steeds eenvoudig, prakties, bekostigbaar en familie vriendelik
Kom ons begin hierdie artikel deur reeds die slotsom aan te spreek. Teen omtrent N$400 000 het Hyundai dit baie goed reggekry om een van hul betroubare Elantra modelle in ‘n “kopswaaiende” (letterlik) en vinniger sedan te verander, sonder om die Elantra se vorige eienskappe weg te neem. Tans is daar ook nie ‘n soortgelyke model teen dieselfde prys op die mark nie.
Die nuwe Sport laat koppe draai. Tot so ‘n mate dat ek “Hyundai bemarking” deur my oop venster aan die bestuurder, weerskante van my op die snelweg moes doen. Die Elantra se lyne laat dit steeds gesofistikeerd lyk, met ‘n bietjie van ‘n ‘twist’. Bietjie soos die Kersfees cocktail, wat ‘n knertsie te veel skop in het, maar steeds aanvaarbaar is vir die ouer garde.
Binne word ons toetsmotor met ‘n rooiwarm leerbekleedsel toegerus, ‘n 8” streelpaneel, USB en 12-Volt funksies, Bloutand, klimaatbeheer en genoeg plek vir vier volwassenes en genoeg kattebakspasie vir almal se naweek toer tasse. Slaan die agterste sitplekke plat en ‘n resies fiets sal gemaklik inpas.
Alhoewel die Elantra Sport baie gerieflik en prakties is, is daar ‘n paar areas vir verbetering. Die eerste hiervan is suspensie. Hierdie is huidiglik een van die uitdagendste debatte vir vervaardigers. Om ‘n sportiewe, dog praktiese voertuig te ontwikkel, is ‘n moeilike balans. Dog is die Elantra se vering, met die kombinasie van die lae profile bande en 17” wiele, dalk ‘n bietjie hard.
Tweedens en in kombinasie met die vorige, is die 7-gang ratkas veel beter as die vorige Veloster weergawe. Tóg is dit steeds hakerig in stedelike verkeer. Dieselfde is nie ter sprake op die langpad nie en die Elantra sal gemaklik en sag deur die ratte versnel om ‘n effektiewe brandstof verbruik van 7.6 liter / 100km (gekombineerd) te lewer.
Die Elantra is bitter vining en sal die 100km/h merk haal in 7.7 sekondes, maar doen so in ‘n ietwat teleurstellende stil wyse. My snelweg-verkeer-Hyundai-bemarking het uitstekend verloop, totdat die vraag ingekom het om die regtervoet so ‘n bietjie swaarder te maak. Nie heeltemal wat mens verwag van ‘n ‘Sport’ pakket nie. ‘n Mikroskopiese petroldruppel op die warm uitlaatpyp so nou en dan sal nie kwaad doen aan die gehoor nie, maar mag dalk die negatiewe inbring van ‘n duurder brandstof verbruik. Kopers van sportweergawes weet egter waarvoor hulle hulself inlaat nie en is meestal gewillig om hierdie ekstra onkoste aan te gaan.
Behalwe vir die normale 4 silinder klank, is die Elantra 1.6 TGDi Elite DCT Sport is goed afgeronde produk. Dit lewer gemak, goeie en veilige binneruim gehalte, goeie brandstofverbruik, sowel as ‘n baie interresante, dog meer gesofistikeerde ontwerp as die vorige Elantra weergawes.
Met ‘n 5-jaar/150 000km waarborg, addisionele 2-jaar/50 000km ratkas waarborg, 5-jaar/90 000km diensplan en ‘n 5-jaar padhulp waarborg, is die Elantra reeks ook glad nie ‘n slegte koop tussen 300 000 en 400 000 nie. Dit mag dalk baie moeilik wees om dieselfde gehalte produk elders te kry teen dieselfde prys.
Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media