Padtoets: 2018 Alfa Romeo Stelvio 2.0T Super Q4

Padtoets: 2018 Alfa Romeo Stelvio 2.0T Super Q4

Die kompakte SUV-mark (Sportsnutsvoertuig) raak ál hoe meer versadig met elke vervaardiger wat deesdae probeer om hul stempel af te druk. Alfa Romeo is ook een van die nuutste vervaardigers wat hierdie mark probeer betree met hul nuwe ‘luukse’ SUV.

Vernoem na die ikoniese pas op die grens tussen Italië en Switzerland, probeer die Stelvio om die gevoel te skep van genotvolle bestuursplesier. Hoewel SUV’s ook nou op die mark al meer ‘verbruikersvriendelik’ en veiliger word, kan ons nie help om te dink dat ons einste toetseenheid nie ten volle die paal gehaal het nie.



Ons toetseenheid was geprys teen R817 900 (met ‘n drie jaar / 100 000km waarborg en ses jaar / 100 000km diensplan) en val dus mooi in die prysklas van kompetisie soos die Audi Q5, BMW X3, Mercedes GLC en die Lexus NX300 F-Sport.

Nóg beter is dat die Stelvio se 2.0 liter petrol weergawe ‘n goeie 206kW en 400Nm uitskop. Genoeg om as een van die top turbopetrol SUV’s in die mark mee te ding. Tweedens is dit nogals aantreklik met elegante en geronde lyne rondom die kar. Natuurlik behoort dit ook veel beter te lyk sodra die 18-duim en hoë-profiel bande verruil word vir lae-profiel bande.

Ongelukkig is die suspensie alreeds hard met die 18-duim wiele en behoort dit die chiropraktisein ryker te maak met die aankoop van 19- of selfs 20-duim wiele.

Binne is die Stelvio ook baie luuks met gemaklike en goed beklede leer sitplekke, ‘n 8.8-duim streelpaneel en natuurlik vele standaard funksies soos outomatiese reënsensors, ‘n trurat kamera, elektroniese kant-spieëltjies, USB (voor en agter), Bloutand en klimaatbeheer. Funksies wat wel hier tekortkom is elektronies-beheerde en verhitte sitplekke.

Daar is ook oorgenoeg kop- en beenspasie, met ‘n kattebak wat baie ruimte bied.

Oor die afgelope paar maande het ons met baie mededingers in die mark gery, wat effens nadelig vir die Stelvio was in terme van gemak en padvernuf. In terme van die “Sport” en “nut” is die Stelvio egter ‘n baie praktiese aankoop, met hope krag. Dit is nie baie stadig van die lyn af nie (alhoewel ons nie die 0-100km/h tyd kon toets nie weens meganiese probleme). Met ‘n agt-spoed outomatiese ratkas is die Stelvio ook baie sag op die pad met baie min pad- en enjingeraas wat by die kajuit inkom.

Die nadeel kom egter in met die bestuursinteraksie, iets waarin die Duitse mededingers redelik goed vaar. Die stuur van die Stelvio is uiters presies met ‘n klein beweging van die stuur wat ‘n groot invloed kan hê op die oop pad.

Die verhouding tussen die skerpheid van die stuur en dié van die voetpedale is egter nie baie sterk nie, met die brandstof- en rempedale, wat eers ‘n goeie druk benodig om aan die lewe te kom. Die rempedaal het baie speling voor dit skielik en vining rem.

Elk van hierdie dra by tot die algehele gevoel en interaksie met die voertuig.

Krediet moet egter aan Alfa Romeo gegee word vir die skep van so ‘n praktiese SUV met die eerste probeerslag. Die Stelvio kan beslis baie kompeterend in die luukse SUV mark wees, mits dit na die bestuursinteraksie kyk.

Teks: Franco Theron 
Foto’s: Galimoto Media 



Leave a Comment