Padtoets: 2018 Suzuki 1.2 GL

Die goedkoop wenner

Onlangs genooi na die nuwe Suzuki Swift se bekendstelling in Durban, was ons aangenaam verras met die nuwe Suzuki Swift. Steeds bekend as een van die voorlopers in die goedkoper voertuig mark, bied die Swift nou meer teen ‘n beter prys. Met ‘n prys onder die R190 000 merk, is die Swift ‘n goeie alternatief vir alle ouderdoms groepe.

Die eerste Swift het my oog gevang tydens die Junior Wêreld Rally Kampioenskap in 2007, met Per-Gunnar Andersson en Guy Wilks aan die stuur. Wie sal ooit die skreeuende S1600 kan vergeet soos dit deur die kronkels van die Spaanse paaie gery het?

Gesien as die onoorwonne klein kragbuks, het hierde voertuig geweldig baie aandag getrek in Europa. Suzuki het in 2008 die grense van Suid-Afrika betree en hoewel die Jimny baie kopers aangelok het, het die Swift vinnig ‘n gewilde opsie geword onder veral studente en jong werkendes. Vandag het die Swift die vervaardiger se naam tot nuwe hoogtes gebring, met Suzuki wat nuwe NAAMSA rekords op ‘n maandelikse basis herskryf. Daar is ‘n eenvoudige en goeie rede vir hierdie sukses.

Tien jaar, 19 000 eenhede en drie generasies later, is die Swift nou meer gewild as ooit tevore en beloof dit om nog meer sukses te behaal met die nuwe model. Die sukses is op ‘n globale vlak ook, met meer as ses miljoen eenhede wat in dieselfde tyd verkoop is.



Wat is nuut?

Hoewel die nuwe Swift vir baie na dieselfde voertuig mag lyk, is daar ‘n redelike verskil vanaf die vorige generasie. Hierdie is goed waargeneem deur ‘n huidige Swift eienaar. Nie net het die voertuig meer spasie nie, maar lewer dit ook meer krag in lae revolusies, met die stuur wat ook meer akkuraat en presies is.

Die nuwe Swift is 10 mm korter en 40mm breer; en sy wielbasis is nou 20 mm grootter. Verder is die nuwe Swift 95kg ligter. Hierdie dra by tot die akkurate stuur- en algehele hantering van die voertuig. Daar is ook meer kopspasie vir elk van die insittendes, met die sitplekke wat effe nader aan die grond geleë is. Kattebakspasie is vermeerder met 58 liter na 268 liter.

In terme van die enjin het niks verander nie, met die 1.2 (vier sylinder) wat steeds volhou met ‘n uitstekende brandstofverbruik bó 5.0 liter / 100km. Hierdie enjin skop 61kW of 113Nm uit, en die enigste kritiek is die tekort aan ‘n turbo. Die 1.2 mag effe sukkel sodra dit die platorand oorsteek na sentraal Namibië of Gauteng.

Hoewel ons nog net die geleentheid gehad het om die vyf-spoed handrat te toets, is daar ook ‘n 1.2 GL AMT weergawe. Tot en met hede is ons ondervinding met AMT ratkaste nie baie positief nie, maar hierdie is net as gevolg van een spesifieke voertuig. Suzuki het dit bekend gemaak dat hierdie AMT geensins dieselfde sal wees nie.

Binne is die Swift gemaklik en goed afgewerk, met die sportiewe stuurwiel wat heel eerste die aandag trek. Die sentrale kontrolepaneel is ook met vyf-grade na regs gedraai om dit makliker vir die bestuurder te maak en nie hul oë vir té lank van die pad af te neem nie.

Die kajuit is gemaklik, met min wind- en enjin geraas wat dit tot binne die kajuit maak. Die voertuig is effe hard geveer, maar gemaklik genoeg om lekker in die stedelike paaie rond te ry.

Verder het ons GL model ook elektriese vensters, lugversorging, kragstuur (met veelvoudige beheer), USB en bloutand ingesluit.

In terme van veiligheid, kom alle Swift modelle standaard met twee lugsakke, ABS, EBD en ISOFix punte.

Die nuwe Swift reeks is ook uitstekend geprys, elk van die drie modelle val onder die R190 000 merk. Dit sluit ook ‘n vyf-jaar / 200 000km waarborg en twee-jaar / 30 000km diensplan in.

Swift 1.2 GA (Handrat)              R159 900
Swift 1.2 GL (Handrat)              R175 900
Swift 1.2 GL (AMT)                     R189 900



Die nuwe Swift reeks is uitstekend geprys en bied baie goeie waarde vir geld. Nie net is dit gemaklik, brandstof effektief en ‘n wenner in die stad nie, maar bied dit ook uitstekende ryvernuf en spasie.

Die nuwe Swift is as’t ware ‘n voertuig vir alle generasies. Hou maar daardie NAAMSA syfers dop! Hierdie Swift gaan goed verkoop.

Teks: Franco Theron 
Foto’s: Galimoto Media 

Leave a Comment