Die nuwe klein SUV koning
Volvo het nie net in 2017 die Europese Motor van die Jaar toekenning gewen nie, maar ook nou ‘n voertuig gemaak wat as “cool” beskryf kan word. Volvo se nuwe XC40 is nie net visueel treffend en een van die mees tegnologies gevorderde voertuie op die mark nie, maar ook nou meer ‘generasie’ vriendelik vir enige ouderdoms groep met verskeie kleurskemas en binneruim styleringspakkette. Waar anders dan om die jeugdigheid van die nuwe XC40 uit te beeld as by ‘n Matriek- (Graad 12) afskeid?
Die XC40 is deur die paartjie verkies bo die opsie van ‘n 45-jarige klassieke sedan (v8 enjin) en ‘n witwarm luikrug. In retrospek word Volvo reeds hier ‘n regmerkie gegee in terme van jeugdigheid. Tweedens was die uitstaanpunte van hierdie voertuig natuurlik die ligblou afwerking, met spierwit dak, syspieeltjies en dikspeek allooiwiele.
Die model het ook unieke Volvo hoof- en agterligte en sterk aerodinamiese lyne regoor die voertuig.
Ons D4 toetsmodel (twee liter, vier sylinder turbodiesel) het glad nie gesukkel met kraglewering nie, siende dat dit 400Nm (@ 1750 – 2500 opm) se wringrag en 140kW (@4000opm) gehad het. Neem dit op die oop pad en die D4 is nie net geweldig stil nie, maar lewer ook ‘n dieselverbruik van 5.6 liter / 100km. Dit is ook grootliks te danke aan die agt-spoed outomatiese ratkas, wat nie nodig het om veel hoër as 1750 opm te gaan om te verander nie. Soos ons reeds getoets het, is hierdie geweldig baie ligter as die petrol variant.
Die roomkleurige binneruim van ons toets voertuig het egter baie meer Volvo gelyk as die buitekant, met dieselfde stylering wat ons begroet het. Leer bekleedte sitplekke en stuurwiel, koordlose selfoon laaigeriewe, gepaard met die ikoniese tablet grootte (loodregte) streelpaneel (nege duim) is ook eie aan die Volvo ontwerp filosofie. Dan kan daar ook natuurlik ‘n hele artikel op sy eie geskryf word oor die goeie klank kwaliteit van die Harman Kardon klank sisteem.
Hierdie kom gepaard met ‘n panoramiese sondak, verhitte sitplekke en klimaatbeheer.
In terme van spasie kom die XC40 met 460 liter se bagasieruim, sowel as ‘n vals vloer, wat in segmente opgedeel kan word, afhangende van die hoeveelheid bagasie vir die kattebak. Die tweede ry sitplekke kan ook elektronies platval en die stoorspasie laat vermeerder na 1336 liter.
Die XC40 is sag op die pad, veral as daar in ag geneem word dat 19-duim wiele die voertuig aandryf. Binne is die voertuig ook uiters stil met min windgeraas. Die stuuraksie is baie presies, wat die voertuig dalk ietwat mag laat rondbeweeg in die Kaapse winde (dit sal egter verbeter soos ‘n persoon gewoond raak aan die voertuig).
Soos reeds genoem in ons bekendstellings artikel (https://www.namwheels.com/new-volvo-xc40-hops-into-southern-african-market/) is die veiligheid van hierdie voertuig uitmuntend. Nie net rem die voertuig vansself indien dit gevaar raaksien nie (voetgangers, fietsryers en groot diere), maar het dit ook ‘n baie sagter en subtiele manier van waarskuwing.
Ander veiligheids tegnologieë sluit ook in stedelike veiligheidsbystand, padteken identifisering, trurat waarskuwings, ‘n 360 grade (lug) digitaliserings kamera, bestuurdershulp, blindekol informasie sisteem vir kruisverkeer, self in- en uit parkering, sowel as waarskuwings en bystand as daar van die pad af gery word.
Die voertuig het ook ‘slim’ lugsakke, wat ontplooi en opgeblaas word, afhangende die intensiteit van die impak.
Treffend en beeldskoon soos die XC60 en XC90 kan wees, het die XC40 redelike aanklank by ons gevind. Nie net is die XC40 goedkoper as die ander twee modelle nie, maar het dit oorgenoeg praktiese spasie aan die binneruim vir so ‘n klein voertuig, met ‘n goeie ryvlak hoogte (211 mm) en gemaklike ratsheid deur die stedelike oerwoud.
Die XC40 behou daardie uitstekende veilgheidsstandaarde en bied merkwaardige eksklusiwiteit, terwyl dit steeds ‘n geur van jeugdigheid en vrolikheid na vore bring.
Die XC40 is beslis deel van die (en dalk diē) wenresep vir Volvo in geheel. Dit voertuig het uitmundende karakter, terwyl dit terselfdertyd ook ‘n ‘bestuurders’ voertuig is.
Welgedaan Volvo!
Pryse:
- T3 Manual Momentum R 489 500
- T3 Manual Inscription R 521 300
- T3 Manual R-Design R 528 400
- D4 Geartronic AWD Momentum R 600 300
- T5 Geartronic AWD Momentum R 610 900
- D4 Geartronic AWD Inscription R 632 100
- D4 Geartronic AWD R-Design R 639 200
- T5 Geartronic AWD Inscription R 642 600
- T5 Geartronic AWD R-Design R 649 700
Elk van die XC40 modelle word verkoop met ‘n vyf-jaar / 100 000km waarborg en diensplan, sowel as ‘n vyf-jaar / onbeperkde hoeveelheid km pad bystand.
Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media