Padtoets: 2018 Volvo XC40 T5

Volvo XC40 mik bo klas gewig

Veiligheid, gemak, spasie en gebalanseerde ryvernuf. Dit is begrippe waarmee die splinternuwe Volvo XC40 goed opgesom kan word. Tydens die loods van die model in April het ons dit al bevestig en na ‘n week met die voertuig, kan ons dit nét beaam. Die XC40 is ‘n voertuig wat goed bo sy eie gewig slaan en meer bied as wat verwag word.



Nog vóór die XC40 in Suid Afrika geloods is, het dit alreeds die titel van motor van die jaar in Europa (2018) gewen. Dus sou die XC40 met groot afwagting ‘n swaar gewig op sy skouers moes dra; en watter ander lande as Suid Afrika en Namibie is dan beter om in die klein ‘Sportsnut voertuig klas’ (van hier af verwys as SUV) te kompeteer?

Hoewel die T5 (petrol) en D4 (diesel) reeds in Suider Afrika geloods is, kan die goedkoper (handrat en voorwiel aangedrewe variante) T3 later in 2018 verwag word. Van wat die T5 en D4 alreeds aan ons bewys het, is die afwagting vir die T3 nog groter en dink ons dat hierdie voertuig ‘n besliste sterk mededinger in die intree-vlak klein SUV segment sal wees.

Ons T5 model vir die week het baie aandag getrek en met goeie rede. Nie net is dit een van die klasleiers in terme van kattebak- en beenspasie nie, maar is dit ook die veiligste voertuig (met die xc90 se tegnologie) in dié klas.

Die XC40 reeks het die perfekte kombinasie getref. Nie net is dit ‘n klein SUV sonder ‘n identiteits kompleks nie, maar dien dit as ‘n voertuig wat ‘generasie vriendelik’ is. Met verskeie stylerings pakkette, kan die XC40 se binne- en buiteruim gekoop word na die behoeftes en smaak van die koper. Dus is dit ‘n voertuig gepas vir enigiemand  tussen die ouderdomme van 18 en 85. Met Volvo se veiligheids standaarde kan die ouderdom egter verhoog word na 95 jaar.

Gepraat hiervan, die XC40 bied baie van die top-klas XC90 model se veiligheids standaarde in ‘n kleiner  en meer bekostgbare pakket.  Dit sluit voorkomende ongeluksbeheer in, waar die voertuig vanself rem indien dit gevaar situasies rondom die voertuig sien en die bestuurder nie betyds reaggeer nie. Hierdie is selfs van toepassing in die nag. Dit sluit baanverwisseling in, waar die voertuig aandui of dit veilig is om van baan te verwissel, of wanneer daar ‘n aankomende voertuig is.

Verder waarsku die XC40 nie net nie, dit help ook om die motor binne ‘n spesifieke baan te hou met stelselmatige en subtiele stuur regulering. Die XC40 help ook om padtekens langs die pad op te neem en die bestuurder te waarsku.

Met 360-grade kamera’s en ‘n handige self-parkeerstelsel, is dit ook baie maklik om die XC40 in knap spasies te parkeer.

‘n Opsionele ekstra is ook die bestuurshulp, met ‘n ‘spoed regulerings’ funksie, waar die voertuig self stelselmatig die spoed sal aanpas, na aanleiding van wat voor die voertuig in die pad gebeur.



Ons T5 model (soos elk van die ander T5 modelle) is natuurlik die kragtigste enjin in die reeks, maar sal ook ietwat swaarder wees op brandstof as die D4 en T3 (teen 7.5 liter per 100 km). Die voertuig skop 185 kW en 350Nm uit, terwyl ‘n agt spoed ratkas die revolusies en enjin klank baie laag hou.

Binne is dit ook toegerus met ‘n uitstekende 9-duim Sensus Connect ‘streelpaneel’, wat beoog om bestuurs veiligheid en gemak te verbeter. Hierdie mag dalk iets wees om aan gewoond te raak, maar is baie maklik om te beheer na die eerste paar probeerslae.

Beenspasie in die agterruim is oorgenoeg, met die tweede ry sitplekke wat elektronies kan afslaan om inkopies in te laai.

Ja, teen R649 700 is ons T5 Geartronic AWD R-Design dalk ietwat duur, maar nie as dit in konteks van die mededingers oorweeg word nie. In die eksklusiewe (klein) SUV mark is die XC40 in geheel die goedkoper opsie. Ons top model se prys eindig waar baie van die mededingers se pryse begin.

Vergelyk dit teenoor die (meer) middelklas klein SUV mark en die duurste XC40 is sowat R80 000 meer. Bring die diesel D4 Geartronic AWD R-Design in en die prys val met nóg  R10 500. Hoewel ons nog nie die D4 modelle deeglik getoets het nie, is hierdie ons keuse, na aanleiding van ons kort loods-toets.

Hoewel die T3 ‘n baie belangrike en (moontlike) klas leier in die goedkoper mark sal wees, is die T5 baie naby aan daardie titel in die meer eksklusiewe mark. Ons sal moet wag vir die einde van 2018, maar die XC40 model reeks, na ons mening, mag dalk ‘n baie sterk aanspraakmaker wees op die Namibiese en Suid-Afrikaanse motor van die jaar titel.

Pryse:

  • T3 Manual Momentum R 489 500
  • T3 Manual Inscription R 521 300
  • T3 Manual R-Design R 528 400

*The T3 will be launched later in 2018

  • D4 Geartronic AWD Momentum R 600 300
  • T5 Geartronic AWD Momentum R610 900
  • D4 Geartronic AWD Inscription R632 100
  • D4 Geartronic AWD R-Design R 639 200
  • T5 Geartronic AWD Inscription R 642 600
  • T5 Geartronic AWD R-Design R649 700

Elke XC40 kom standaard met ‘n 5-jaar / 100 000 km waarborg en ‘n 5-jaar / onbeperkte afstand diensplan, sowel as padhulp en sluit die Skytrax ‘tracker’ eenheid in.

Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media

Leave a Comment