Padtoets: 2020 VW Amarok Dark Label

Gedurende Desember van 2019 het ons die geleentheid gehad om die Volkswagen Amarok Canyon vir ‘n maand deur die passe te plaas. Gerieflik genoeg is die Canyon gebruik om te help met ‘n verhuisings-proses asook ‘n kort vakansie deur die grondpaaie van die Suid-Kaap. Die Canyon het ‘n geweldige leemte gelaat nadat dit weggeneem is in vroeg Januarie. Nou, ses maande later, is die Amarok Dark Label aan ons gegee vir ‘n week.



Waar die Canyon verkoop word teen ‘n prys van R799 900, word die Dark Label teen R709 700 in die mark gesit. Waarom dan hierdie groot prys-verskil as beide voertuie ‘n tydelike en spesiale Amarok is?

Beide kom met ‘n 3-jaar / 100 000km waarborg asook ‘n 5-jaar / 90 000km diensplan; en 4-Motion. Beide is spesiaal geklee, met die Canyon wat ‘n helder oranje kleed dra en die Dark Label, wel, in ‘n donker-grys omhulsel met swart lyne. Selfs die 18-duim allooi-wiele is swart.

Beide die Canyon en Dark Label was tydens ons toets-periodes gebruik om sleepwaens te trek en swaar meubels te verhuis. Natuurlik het die Amarok nog altyd hier die voordeel gehad. ‘n Wye bak-ontwerp mag dalk vir vele oorweldigend wees, maar help egter baie met die trek van ‘n breë sleepwa.

Waar die Canyon se V6 turbo-diesel 165kW en 550Nm verskaf, het die Black Label se 4-silinder, 2.0 liter Bi-Turbo diesel 132kW en 400Nm om te bied. Behalwe vir die 0-100k/h verskil van 10.44 sekondes (Dark Label) en 7.33 sekondes (Canyon), word die groot 3.0 liter V6 gemis met die trek van swaar meubels.

Die Dark Label is goed genoeg, maar kom altyd tweede as dit opgemeet word teen die 3-liter. Die V6 is in werklikheid veel meer egalig, met of sonder enige sleepvrag. Krag is onmiddelik daar, waar die 2.0 liter Bi-Turbo egter ietwat langer vat om enigsens op die aanvraag van versnelling, onmiddelike krag te bied.

Genoeg van die opweging teen die Canyon. Laat ons kyk na die Dark Label in sy eie reg.

Hoewel die Dark Label ‘n spesiale uitgawe van die 2-liter, 4-silinder Amarok is, is dit geensins gefokus op enige addisionele kraglewering nie, maar eerder net die stylering van die voertuig.

Behalwe vir die grys en swart afwerkings, sowel as die 18-duim aliminium wiele, kry insittendes ruim been en kop spasie in byde die eerste en tweede rye. Die voorste sitplekke kan verhit word, met nog funksies soos klimaat-beheer, ‘n multi-funksionele stuurwiel, ‘n streel-paneel met Apple CarPlay en Android Auto sowel as 12v en USB punte, maak hierdie veel meer as net n “bakkie”.

Natuurlik kom die Dark Label ook met ABS met EBD, EBA (elektroniese rem-bystand), traksie-beheer, bult-bystand, 4-wiel trek, sowel as parkering-sensors, ‘n trurat-kamera, 4 lugsakke en elektroniese banddruk meetings.

Met die koppeling van ‘n sleepwa neem Volkswagen se sisteem dit onmiddelik op om sodoende bystand te bied vir die addisionele vrag.

Ten slotte is die Dark Label net so gemaklik soos die Canyon op beide die grond- en teer pad.

Die enigste kritiek (nes met die Canyon) is dat daar geen hak plekke vir toue aan die bokant van die laaibak is nie. Hierdie hakpunte is egter net onder in die laaibak en maak dit ietwat gekompliseerd om groot meubels of ‘n normale vrag vas te span.

Terwyl ons gesukkel het om die 80l tenk (met al ons vele ekskursies) leeg te kry, moet ons bieg dat die V6 van die Canyon koning kraai in nie net die Volkswagen kamp nie, maar oor die algemeen in die bakkie segment.

Daar is min “bakkies” wat tans by Volkswagen se egalige en praktiese V6 kan byhou. Terwyl hierdie ‘n bitter goeie verkoopspunt vir Volkswagen is, plaas dit die Dark Label effens na die donker hoekie en uit die kollig.

Leave a Comment