Mahindra doen op die oomblik baie goed. Terwyl almal behep is met Sjinese voertuie, is die Indiese vervaardiger stilweg besig om koppe te laat swaai. Mahindra se Pik Up bakkie doen uitstekend goed, met hul 25 000ste eenheid, wat pas (Februarie 2025) plaaslik aanmekaar gesit is.

Die eksponensiële styg in voertuig pryse, maak vervaardigers soos Mahindra, Suzuki, en ander Sjinese voertuie meer aanloklik.

Manindra se nuwe XUV 3XO is ’n goeie bewys hiervan. Die plaasvervanger van die ouer XUV300 is uitstekend geprys; tussen R254 999 en R400 000. Dit bied uitstekende waarde vir geld in ’n mark, waar die verbruiker net meer gemelk word.

Die XUV 3XO is ongeveer dieselfde lengte as ’n Nissan Magnite en Renault Kiger, maar wel ietwat langer as Suzuki se nuwe Swift. Die prys van die 3XO kan wel in vergelyking tot die Suzuki Fronx / Toyota Starlet Cross gestel word.

Die XUV 3XO het ’n massiewe 8 variante, waarvan ons AX7L die duurste hiervan was (R404 999). Drie van die XUV 3XO kom met ’n handrat terwyl die meerderheid van die modelle in outomaties (6-spoed) uitkom, siende dat die mark meer neig na outomatiese voertuie in die segment.

Die XUV 3XO lyk nie net modern nie, maar het ’n ryvlakhoogte van 201mm. Hoewel dit egter net 2-wiel aangedrewe is, maak dit die XUV 3XO redelik handig op meeste grondpaaie.

Elk van die XUV 3XO modelle word aangedryf deur ‘n 1.2L (3 silinder) petrol enjin, wat 82kW en 200Nm verrig, heelwat meer as die Swift en natuurlik die Kiger, maar wel minder as die Magnite. Dus het ons gevind dat die XUV 3XO veel gemakliker die Helderberg styltes uitry as die ander opsies.

Die XUV 3XO is propvol standaard funksies, met die intreevlak MX2, wat uitkom met LED hoof- en agterligte, 6 lugsakke, elektroniese stabiliteits beheer, ISOFIX ankers, 16-duim staal wiele, ’n sleutellose start / stop sisteem, elektriese venseters, lugversorging in die tweede ry, ’n USB-A en USB-C punte, voor- en agter, trurat sensors, ‘n 9-duim informasie sisteem, en “Volg my huistoe” hoofligte.

Vir ’n voertuig geprys teen slegs R254 999 is hierdie ’n bitter goeie waarde aanbod.

Ons outomatiese AX7L model het verder met ‘n 360-grade kamera sisteem, elektroniese parkering rem, panoramiese sondak, Harman Kardon klanksisteem, leer sitplekke en stuurwiel, 17-duim diamant gesnyde allooi wielse, LED misligte, dubbele klimaat beheer, automatiese hoofligte, 6 luidsprekers, draadlose foon konneksie, trurat kamera, ‘n 26cm raakskerm, sowel as ’n vinnige 65W USB-C laaipunt.

Beslis waarde vir geld, maar hoe bestuur dit?
Die XUV 3X) se 1.2L enjin druk genoeg krag uit om nie uit stoom te hardloop teen bulte nie. Dus dink ons die Mahindra sal beter vaar op die plato hoogtes van Johannesburg, waar die ander modelle in die segment dalk ’n moeiliker tyd mag hê.

Die ratkas is ook nie ’n AMT òf ’n CVT nie en dus beter op die ore, Die ratkas het wel van tyd-tot-tyd gesukkel om die regte rat te vind teen styl opdraendes.

Daar moet egter in ag geneem word dat die voertuig in die ekonomiese verstelling was, wat die ratkas effe luier maak. Verder het bestuurders ook ’n keuse tussen “Comfort” en “Sport”. Mahindra beskryf dit wel net as die “Zip, Zap, Zoom” verstellings.

Ons enigste ander negatiewe opmerking, was Mahindra se stop-start sisteem, wat die enjin afskakel tydens stilstand. Terwyl die sisteem normaalweg veronderstel is om weer die enjin aan te skakel, sukkel Mahindra se sisteme hiermee. Dus het ons maar net die stop/start funksie met elke rit afgeskakel.

Die kajuit van die 3XO is wel baie gemaklik en ruim, terwyl padgeraas minimaal is. Selfs in die Kaapse toordokter (wind) is die 3XO vas op die pad.

Die enigste ander opmerking is dat die 1.2T enjin ietwat swaarder is op brandstof (7L/100km) as die Suzuki Swift ekwivalent, wat 6.1L/100km lewer.

Prys:
Die XUV 3XO is uitstekend geprys, met agt verskillende modelle, wat elk met ‘n 5-jaar/100 000km waarborg en 3-jaar/55 000km diensplan (5-jaar / 100 000km vir die AX modelle) kom.
- XUV 3XO 1.2T MX2 handrat – R254 999
- XUV 3XO 1.2T MX2 outomaties – R274 999
- XUV 3XO 1.2T MX3 handrat – R274 999
- XUV 3XO 1.2T MX3 outomaties – R294 999
- XUV 3XO 1.2T AX5 handrat – R319 999
- XUV 3XO 1.2T AX5 outomaties – R344 999
- XUV 3XO 1.2T AX5L outomaties – R374 999
- XUV 3XO 1.2T AX7L outomaties – R404 999
