Ford se Transit Custom Sport veel meer as net ‘n bus met vinnige strepe
Top Gear aanhangers mag dalk die episode onthou, waar Jeremy Clarkson die destydse Ford Transit getoets het en verwys het na die bank rowe in die 60’s en 70’s. Die Transit was gesien as die perfekte voertuig vir hierdie misdade, siende dat dit relatief rats was vir sy grootte, en natuurlik spasie gehad het om als in te gooi. Vroeg in 2025, het Ford weer hul Transit en Tourneo reeks opgedateer; die keer met die toevoeging van ‘n “sport” model.
Mik Ford dalk weer vir dieselfde sukses van die 60 / 70’s, of is die sportiewe konsep ingebring om Takelot pakkies vinniger af te lewer?

Wat is die Transit Custom Sport?
Hierdie sportiewe Transit val in die “Custom” reeks, wat uit twee modelle bestaan; naamlik die basis model, wat teen R761 000 gaan, terwyl die Sport model vir R938 000 gaan. Behalwe vir die sportiewe strepe, LED hoofligte, swart 17-duim wiele, sowel as die sportiewe bakpanele (en drukvlerk), hou die Custom Sport model ook ander opgedateerde funksies in, om die R177 000 prysverskil te regverdig.

Hoewel kleiner as die “normale” Transit, is hierdie sportiewe Transit ratser, en meer ekonomies, terwyl die binneruim ook propvol verbruikersvriendelike tegnologie is. Die Custom Sport kan selfs 5.8m3 (2602 mm lengte en 1392mm breedte) laai en 1023kg dra. Die sydeure is ook selfs elektronies en kan met die afstandbeheer hanteer word.

Die grootste verskil word gesien in die binneruim
Behalwe vir die sportiewe bekleeding aan die buitekant, is die binneruim ook nou baie gemakliker vir die twee insittendes. Soortgelyk aan die bakwerk, kry die material sitplekke ook twee blou strepe by, sowel as ‘n verhittings funksie, en elektroniese verstelling sowel as lumbale ondersteuning.

Waar die Sport model ook met die basis model verskil, is die 13-duim raakskerm, met Ford se SYNC 4 sisteem, sowel as draadlose Apple CarPlay en Android Auto. Bykomend is daar ook ‘n 12-duim instrument paneel agter die stuur. Laastens is daar ook ‘n handvol USB-A en USB-C poorte.

En die enjin?
Die Basis Transit Custom word toegerus met ‘n ‘n 2.0L diesel enjin, wat 100kW en 360Nm verrig en gebruik maak van ‘n 6-spoed hanrat. Die Transit Custom Sport is nie net kleiner en ratser nie, maar word ook toegerus met ‘n kragtiger 2.0L diesel enjin, wat 125kW en 390Nm uitskop.

Bykomend word die basis Transit se ratkas ook vervang met ‘n 8-spoed outomatiese ratkas, wat seepglad verander. Die Custom Sport kry selfs ‘n elektroniese handrem en outomatiese stop / start funksionaliteit by.

Siende dat die Sport kleiner is as die basis model, is dit ook 0.2L ligter op brandstof (altesaam 8.0L per 100km).

Laasgenoemde, het die Custom Sport model ook 5 enjin funksies, naamlik “normal, eco, sport, glipperig, en grondpad”. Die basis model het net drie.

Veiligheid
Die Custom Sport word ook toegerus met meer veiligheid en kry onderandere ‘n outomatiese banddruk sensor en waarskuwing sisteem, ongeluks verhoeding sisteem, spoed beheer, baan verwisselings bystand, pad teken herkenning, trurat kamera en bystand, stabiliteits beheer, en ‘n blindekol monitor.

Is die Custom Sport die moeite werd?
Met eerste oogopslag het ons ietwat kop gekrap oor hierdie model. Waarom ‘n paneelwae sportief maak?

Hoe meer ons egter die voertuig getoets het, is daar agtergekom dat die Custom Sport eintlik veel meer gemaklik, prakties, en rats is. Hoewel die basis model veronderstel is om grootter en langer te wees, is die Custom sport se dimensies eintlik voldoende.

Soortgelyk is die Custom Sport nie net kragtiger en vinniger as die basis model nie, maar ook veel meer prakties en ingestel op praktiese en spoedige dienslewering. Van die outomatiese ratkas tot die stop / start, en handrem, is die Custom Sport veel meer ingestel op spoedige, maar veiliger dienslewering, siende dat aflewerings beamptes meestal ‘n paar take het om tegelyketyd te voltooi.

Die “Sport” embleem mag dalk meer gepas wees vir ‘n minibus, wat mense Vervoer, soos Ford se Tourneo. Kyk egter verby die sportiewe bakwerk en strepe op die Transit Custom Sport, en die operasioneel-gerigte tegnologie in die Sport, maak nogals sin.

*Die Transit Custom Sport word met ‘n 6-jaar / 90 000km diensplan, 4-jaar / 120 000km waarborg, 4-jaar pad bystand, en ‘n 5-jaar anti-roes waarborg verkoop. Die diensplan kan ook opsioneel vermeerder word na 8-jaar / 165 000km, terwyl die waarborg self na 7-jaar / 200 000km vermeerder kan word. Pad bystand kan ook tot 6-jaar verleng word.