Oor die jare heen het ons almal ‘n persepsie van BMWs ontwikkel; vinnige en sportiewe sedans en coupés met ongeëwenaarde padhouvermoë. Toe die BMW-1-reeks, met sy luikrug ontwerp, ’n paar jaar gelede op die toneel verskyn het, het dit nogal ‘n tyd geneem om gewoond aan te raak.
Dit voel soos nou-die-dag wat ons as familie na ‘n kerkkamp afgesit het met van die eerste 1-reeks BMWs wat pas-tevore bekend gestel was. Die spesifieke BMW was ‘n 130i. Die meeste van die kampeerders het hier vir die eerste keer die kattebaklose BMW gesien en nader gestaan om te bekyk. Die vraag van die meeste nuuskieriges was of BMW dan nou met klein Mazda en Ford luikrug-modelle meeding met ‘n klein 1,3 liter enjin! Maar met ‘n heelwat hoër prys.
Natuurlik het hulle hul fout agtergekom met die terugkeer huis toe; sonder om wintie te wees het ek verskeie van die kampgenote verbygesteek en kon hulle beslis sien dat daar ‘n BMW reguit-sessilinder onder die enjinkap is en nie ‘n klein 1,3 cc viersilindertjie nie.
Intussen het BMW die 1-reeks uitgebrei en van die vorige modelle weggelaat. Die huidige reeks sluit die tradisionele luikrug-bakvorm in maar daar het intussen ook coupés, cabriolets en ook ‘n viertrek klein X1 bygekom; en nog meer modelle sal later op die plaaslike mark bekendgestel word.
Ons het onlangs weer kennis gemaak met die BMW 1-reeks “intreemodel”, die vyfdeur 116 i met ‘n handrat. En hierdie keer was ons voorbereid om minder te verwag van die kleiner enjin met minder krag. Maar dit was hoegenaamd nie ‘n minderwaardige ervaring nie! Wat egter ‘n verrassing was, was dat die motor inderdaad met ‘n 1,6 liter toegerus was; voorheen het BMW sy intreemodelle ook as bv. ‘n 316 bemark hoewel die enjin inderdaad ‘n 1,8 liter onder die kap gehad het.
Vir die gelukkiges onder ons wat al duisende en duisende kilometers met ander BMW motors lang afstande teen hoë snelhede kon aflê, stel die 116i stel op geen manier teleur nie; die motor klou soos ‘n neet om draaie, die tradisionele agterwielaandrywing met sy onafhanklike multiskakel agtervering bly steeds die norm waaraan ander mededingers word en die wakker enjin gekoppel aan ‘n sesgangratkas is die resep vir ‘n wenner in die luikrugklas.
Boonop vind die luikrugontwerp by veral jonger mense, wat nie so sterk met die sedanvoorkoms identifiseer nie, steeds groter aanhang. Vir studente wat dit kan bekostig, en veral jong professionele mense sonder gesinne, is die 1-reeks beslis ‘n teikenmark. Iets om na te strewe.
Die nuwe 1-reeks (vanaf 2011) is langer, die asafstand groter, die spoorwydte breër en belangrik, die kattebak se ruimte het toegeneem van 330 na 360 liter; met die agtersitplekke platgeslaan neem die spasie toe om 1 200 liter bagasie te kan huisves. Daar is nou ook méér stoorruimtes in die kajuit en ook plek vir koeldrankhouers – laasgenoemde ‘n moet vir jongmense.
Maar die belangrikste vir hierdie jonges is die aanpasbaarheid van die radio- klankstelsel vir Apple iPhones, Facebook en Twitter. Goed en sleg; laasgenoemde as aandag-aftrekkers. Maar daarvoor vergoed al die elektroniese stelsels om bestuurders se foute tot die minimum te beperk. Noem die stelsel op, bv. ABS en al die ander afkortings, en hulle is daar.
Die aantreklikheid van die 1-reeks is wat onder die enjinkap lê: die 1 589 cc turbo-aangejaagde enjin met elektroniese wisselbare dubbele klepbeheer wat 100 kW teen ‘n rustige 4 400 rpm ontwikkel en 220 Nm vrystel tussen 1 350 en 4 300 rpm. Aan wringkrag is daar geen tekort nie en kan bulte uitgeseil word sonder om ratte te verwissel.
Boonop stel dit hom in staat om van 0-100 te versnel in 8,5 sekondes en die naald by 210 km/h te laat draai. BMW maak daarop aanspraak dat dit tot ‘n gemiddelde verbruik van minder as 6 liter/100 km. Hierdie syfer sal natuurlik wissel na gelang van die eienaar se bestuurstyl.
BMW was een van die pioniers van die diensplanne in die land en het waarskynlik bygedra tot die gewildheid en goeie verkope van alle nuwe BMW modelle oor die afgelope dekade of twee. Die 1-reeks raak dus ‘n nog meer gesogte kopie met sy 5-jaar of 100 000 km.
En wat kos hierdie aanloklike, jongmensmotor? Die koper, of sy of haar pa, sal N$269 526 moet uithaal vir hierdie vreugdevolle windhondbuksie.