Het BMW se X1 23d Outomaties ‘n X-faktor of nie?
Natuurlik sal daar by die stel van bogenoemde vraag, maak nie saak wat of wie onder bespreking is nie, dadelik gekwalifiseer moet word waarna die X-faktor verwys, amper soos in die wiskundestudieveld. Word daar verwys na ‘n negatiewe of ‘n positiewe waardebepaling? In die geval van BMW se nuutste toevoeging tot sy uitgebreide stal van modelle, kan die antwoord heelwaarskynlik na beide kante toe swaai, afhangende van die van die voornemende koper se behoeftes en sy begroting.
Maar laat daar sommer dadelik met die deur in die huis geval word. Die X1 is ‘n uitstekende voertuig wat aan die fynproewer alles in terme van krag, estetika, padhouvermoë, gerief, buite- en binneafwerking, veiligheidsmaatreëls en die nuutste tegnologie bied. Om van sy hoogstaande klankstelsel nie eers te praat nie.!
Kortom, die BMW X1 bied heel waarskynlik alles en nog meer wat vandag in enige luukse motor aangetref word en wat daar van ‘n motor in hierdie prysklas verwag word. Om net enkele voorbeelde te noem: Wat veiligheid betref bied die X1 ‘n omvattende stel lugkussings voor en agter en die gebruiklike elektroniese bystand vir rem- en padhouvermoë en sensors wat tru-parkering en die gebruik van hoofligte en reënveërs outomaties kontrolleer. Die voorste sitplekke se leerbekleedsel kan elektronies verwarm word en die posisie van die sitplekke kan na gelang van been- en kopruimte verstel word. Kontroles vir die klankstelsel kan op die stuurwiel beheer word en duimspane waarmee die ratwisseling met die hand gedoen kan word is maar net nog een van die vele luukse wat in hierdie puik voertuig aangetref word. Afstandsensors vir parkering help om nie ‘n voorwerp agter, langs die kante en voor uit die pad uit te ry nie en die bestuurders word luidkeels gewaarsku indien daar so ‘n moontlikheid bestaan. Vir die bestuurder wat ietwat rigtingloos is, is daar ‘n navigasiestelstel aanboord.
Maar dan kom die klein jakkalsies ook na vore. Verdere hefboompies, knoppies en ander kontroles is versteek agter ‘n nogal groteske stuurwiel en die voornemende bestuurder benodig ‘n inligtingsessie voor die tyd om nie die verkeerde opsies uit te oefen nie. Maar natuurlik sal dit vir ‘n nuwe eienaar met die verloop van tyd ‘n gegewe word. Die gerief van verhoogde sitplekke tesame met gemaklike kopstukke maak uit aard van die saak ‘n lang reis baie gemakliker maar die uitsigte na agter word daardeur bederf.
Oor die lang teer- en grondpaaie van die Klein Karoo na die skilderagtige De Rust het die X1 hom gedra soos wat mens van ‘n motor in hierdie marksegment verwag. En van grondpad gepraat. Die X1 met sy vierwielaandrywing wat na gelang van omstandigheide kragverspreiding outomaties na die voor- of agterwiele kan verplaas, is ‘n droom vir die grondpad entoesias wat ‘n bietjie opwinding soek. Voeg daarby die onberispelike padhouvermoë en amper brutale kraglewering van die 2.0 liter enjin met sy dubbel turbo-aandrywing en die uitstappie word al hoe meer ‘n (KKNK) fees. Die enjin lewer 150 kW by 4 400 rpm en stel 400 Nm teen 2 000 rpm vry.
Brandstofverbruik was bevredigend tot goed alhoewel die vervaardigers se aanspraak van onder 7l/100km nie heeltemal haalbaar blyk te wees nie. Die beste verbruik, volgens die gerekenasideerde inligting, was 7,5l/100km wat nog steeds uitstekend is vir ‘n sesspoed outomatiese voertuig van meer as 1500 kg. Teen dieselfde agtergrond kan die aanspraak van die vervaardigers van ‘n versnelling van net oor sewe sekondes van 0-100 kmh miskien ook ‘n wenkbrou of twee laat lig. Maar nou ja, aangesien so ‘n toets nie persoonlik gedoen is nie moet die voordeel van die twyfel na BMW gaan – ‘n goeie storie oor ‘n goeie motor mag nie deur kleinlike tegniese feite bederf word nie!
Die X1 is nie werklik ‘n avonturier-4×4 nie en is ook nie bedoel om een te wees nie. En dit mag miskien die voornemende koper wat nou en dan die veldpaaie wil aandurf afsit, maar die X1 teken punte aan teenoor die monstrosieuse volbloed 4×4’s (en laat ons maar name uitlaat) wat in stadsverkeer vir menige bestuurders ‘n nagmerrie is. Hier is ‘n voertuig wat gebou is op die platform van die BMW 3-reeks en wat korter, nouer maar ietwat groter as die sedan is. En dit maak net sin dat die vervaardigers miskien een van hulle groter SUV’s op die rak plaas en met die X1 vervang.
Vir die vrou wat die broek in die huis dra: behalwe vir makliker parkering is daar nog die voordeel dat die X1 nie ‘n spaarwiel het nie maar op ‘n pap band teen 80 km/h gery kan word!
Teen N$468 531, wat met nog ‘n N$100 000 kan toeneem na gelang van ekstras, is die X1 nie goedkoop in vergelyking met sy mededingers nie. Maar gesoute BM liefhebbers sal hulle nie hierdeur laat afsit nie.
BMW bied ‘n 5jaar/100 000km motorplan en ‘n nie-bydraende diens en onderhoudplan aan met die aankoop van een van die verskillende X1 modelle.