Bekendstelling: Toyota Yaris Zen

Toyota Yaris Zen: Nie “Zef” nie!

Die manne van Toyota Suid-Afrika het met die bekendstelling van die nuwe Yaris Zen beklemtoon dat hierdie nuwe, bekostigbare model se naamgewing verband hou met die filosofiese term “Verligting” (Enlightenment) en rasionaliteit. Maar die verligtheid hou ook verband met moderne Oosterse kontemporêre kuns wat beslis nie “Zef” is nie.

Kopers het dan ook die keuse om een van verskeie plakkers met Oosterse motiewe (Decals) op die motor te laat aanbring. Of eenvoudig weg te laat!

Die nuwe Yaris Zen is ‘n goedkoper weergawe van die Yaris wat die legendariese Tazz in 2005 vervang het. Maar hoewel goedkoper, is hy beslis nie ‘n afskeepkind nie en is die meeste van die belangrikste toerusting behou. Hy is dus ‘n waardige mededinger in die intree-reeks voertuie waar die warm gevegte plaasvind.

Die Yaris Zen is nie die goedkoopste in hierdie hoogs-kompeterende speelveld nie maar die veld word gelyk gemaak deur die feit dat by sy koopprys ‘n omvattende 4 jaar / 60 000 km diensplan en ’n 3 jaar / 100 000 km waarborg ingesluit is. En dit is waarvan mense hou wat hulle begroting moet dophou en gaan waarskynlik die Zen se voorsprong wees bó sy mededingers.

Onder die enjinkap is daar nie veranda nie, die naamtipes – Zen1 en Zen3 – dui op die enjingrootte; die drie-silinder 1 liter of vier-silinder 1,3 liter. En dan is hy natuurlik ook beskikbaar in luikrug en sedan weergawes sodat die nuwe reeks voortaan uit tien modelle bestaan met net een oorlewende uit die bestaande Yaris-reeks, die T3 Plus. Aandrywing geskied deur ‘n ratkas met 5 ratte vorentoe en ook ‘n outomatiese viergang-ratkas, laasgenoemde slegs beskikbaar op die 1,3 liter modelle in beide luikrug en sedan weergawes.

Die belangrikste verskille tussen die luikrug en die sedan lê in die instrumentasie; die buksie het digitale instrumentasie (sentraal geplaas) en die sedan gebruik die gewone naald om sy snelheid aan te dui. En dan is daar natuurlik die kattebak wat effens aan die skraps kant is as dit met die sedan se werklik ruim pakruimte vergelyk word. Laasgenoemde eienskap sal beslis as ‘n familiemotor verkies word terwyl jonges en ongetroudes die buks gaan kies.

Beide die 998cc driesilinder enjin en die groter viersilinder 1 298 cc enjins, met vierklep tegnologie per silinder, bied genoeg krag en versnelling mits die ratkas vryelik gebruik word. Die kleintjie bied ‘n genoegsame 51 kW teen 6 000 rpm en stel 93 Nm vry teen ‘n skaflike 3 600 rpm. Dit stel hom in staat om 155 km/h te haal en kan die deursnee eienaar ‘n ekonomiese 5,4 l/ 100 km verwag.

ie 1,3, met dubbele nokaste en outomatiese tydreëling, ontwikkel 63 kW teen 6 000 rpm en stel 121 Nm beskikbaar teen 4 400 rpm. Dit laat ‘n snelheid van 170 km/h toe en kan tussen 6 en 6,5 liter per 100 km verwag word vir beide handrat en outomatiese modelle.

Die toerusting en afwerking van die Zen buitengewoon goed vir ‘n intreemodel, alle modelle is toegerus met twee lugsakke, ’n voltal driepunt-sitplekgordels, elektriese kragstuur met hoogteverstelling vir die stuurwiel (reikwydte kan op beter toegeruste modelle verstel word) en ABS-remme met EBD en BAS. Luikrug-Yarisse bied ook 60:40 kantelling van die agterste sitplekke. Die Zen3-modelle bied ook elektriese vensters en elektries verstelbare kantspieëls, terwyl die Plus-modelle met Bluetooth-koppeling vir selfone toegerus is, so ook meer luidsprekers.

Op die pad is daar ‘n goeie balans tusen ‘n ferm en normale vering om hom ‘n sporrtiewe karakter te gee en voel die bestuurder altyd in beheer van die motor. Voor word McPherson-mikstutte gebruik en agter ’n wringstaaf en kronkelveer-stelsel. Alle modelle, behalwe die topmodelle, is met met 14” staal vellings toegerus. (Die “ouer” Yaris T3 Plus het groter 185/60 profiel bande op 15” allooivellings; die prys van hierdie model is effens aangepas en kos nou N$173 600).

Die pryse van die nuwe Yaris Zen-reeks wissel tussen N$126 300 vir die Zen1 luikrug tot N$172 700 vir die Zen3 Plus met sy outomatiese ratkas. Iewers tussenin gaan die deursnee jong intreekoper, of een wat op aftree, ‘n Yaris vind wat aan sy behoeftes voldoen. Goeie raad is natuurlik om die naaste handelaar te gaan besoek vir ‘n toetsrit!

Leave a Comment