Chery se Cross nou nog ‘n opsie in die Tiggo reeks.
Chery is een van die nuwe Sjinese vervaardigers wat besig is om die Suider-Afrikaanse mark om te dompel. Die vervaardiger is nou al vir die afgelope paar maande in die top-10 van algehele voertuig verkope, met Februarie van die jaar (2025) wat hulle in sewende plek geplaas het, net agter die gevestigde naam Isuzu. Nou, met ’n splinternuwe kompakte SUV naamlik Cross, is Chery nog meer gereed om die mark aan te vat.

Chery se plaaslike netwerk is ook besig om sterker te groei met meer en meer handelaars oor die land, sowel as meer modelle. Die Tiggo Cross is die nuutste hiervan, wat tussen die 4 Pro, sowel as die 7 Pro inkom. Na verwagtinge sal daar nog ’n paar Tiggo modelle in 2025 aanland, waarvan die 9 Pro een van die nuwelinge sal wees.

Ietwat langer as die Tiggo 4 Pro, is die Tiggo Cross ietwat grootter as Volkswagen se T-Roc en net korter as Toyota se Corolla Cross.
Met twee model spesifikasies, naamlik die “Comfort” en die Elite, is ons die laasgenoemde gegee om te toets. Die Elite is presies R50 000 meer as die Comfort en word teen R449 900 verkoop. ‘n 5-jaar/ 60 000km diensplan, 5-jaar / 150 000km waarborg, en ‘n 10 jaar / 1 miljoen km waarborg word aan die eerste eienaar gebied.

Vir hierdie prys kan kopers ‘n 18-duim stel wiele, ’n sondak, 360-grade kamera, aanpasbare spoed-beheer, 7 lugsakke, ‘n 10.25 duim instrument-paneel (agter die stuur), sowel as ‘n 10.25 duim informasie raakskerm verwag.
Die Elite model kry selfs verskillende bestuurs funksies soos “Eco” en “Normal”.

Dus is die R50 000 verskil tussen die “Comfort” en die “Elite” nie te oogwaterend nie, veral as daar ingereken word dat die Elite een meer lugsak, meer veiligheid (soos ‘n 360 grade kamera, en baan-wisselings-hulp) en verskillende bestuurs-funksies het.

Soos met alle Sjinese voertuie is die waarde aanbod van die Tiggo Cross uitstekend, veral teen hierdie prys.
Die enjin in beide modelle is ook goed gepas, met 108kW en 210Nm wat verrig word deur ‘n 1.5L turbo-petrol 4-silinder enjin. Vir ’n redelike kompakte SUV soos hierdie, is die enjin perfek.

Waar die probleem egter inkom, is met die 6-spoed outomatiese ratkas. Soos met meeste ander Tiggo (en Sjinese) produkte, is hierdie ’n DCT ratkas, wat selde perfek is. Met meeste van Chery se produkte is dit beter om in die “Normal” funksie te bly, eerder as “Eco”, waar die ratkas effe onbesluitloos kan wees en óf die voorwiele sal laat gly, óf traag sal wees om weg te trek vannaf stilstand. Ry teen ’n steil bult op in “Eco” en die ratkas is heeltemal onbesluitloos tussen op- of af-rat.

Verder is hierdie enjin en ratkas kombinasie redelik swaar op brandstof, met die verbruik wat naby aan die 9.0L / 100km merk draai. Weereens is ons egter hier van mening dat die DCT ratkas die sondebok mag wees, en nie die enjin self nie.

Behalwe vir die DCT ratkas, is die Tiggo Cross ‘n goeie opsie vir diegene wat na ’n kompakte en moderne familie voertuig soek. Dit het oorgenoeg been- en kop spasie in die tweede ry, met die kattebak wat ook groot genoeg is om twee medium rolwiel tasse in te laai.

Die Tiggo Cross is perfek geprys vir die Suider-Afrikaanse mark, en bied uitstekende waarde vir geld. Sou Cherry die DCT probleem kon verbeter, maak die Chery Tiggo Cross heeltemal sin.
