Iets vir die Wilde Weste
Tot onlangs was die Toyota Fortuner by verre die land se mees gewilde 4X4 nutswa waarmee daar op enige pad en plek gery kon word met groot gemak. Dit boonop teen ‘n bekostigbare prys as alles in ag geneem word.
Hierdie eersteplek van Toyota word nou egter ernstig bedreig deur die Chevrolet Trailblazer, wat soos die Toyota, sy oorsprong in die Verre-Ooste het. Die Trailblazer word in Rayong, Thailand, gebou. Net vir die interessantheidshalwe; al die Chevrolets wat in Duitsland aangebied word het almal hulle oorsprong in die Verre-Ooste, met Suid-Korea as die belangrikste verskaffer. En moet nie China vergeet met sy General Motors aanlegte en waar General Motors hulle grootste markafset geniet.
Ons toetsvoertuig, die 4X4 outomatiese dieselweergawe het op presies die regte oomblik by ons aangekom; die afgelope maand of wat moet ek ‘n “moon boot” oor die weg gekom het ná ‘n Achilles spier geskeur het en weer geheg moes word. Ook was daar ‘n lang vooruitbeplande toertjie na die meer afgeleë plekke in die Klein Karoo en Prins Albert.
Die Trailblazer is ‘n groot voertuig in ons verwysingsraamwerk maar nie so groot soos waaraan die Amerikaners gewoond is nie. Ruimte binne is onbeperk en daar is die voordeel van drie rye sitplekke wat vir jonger gesinne meer as genoeg ruimte bied, plus nog so ‘n bietjie ekstra. Ook is die kajuit ontwerp vir groot Amerikaners en het die spasiëring van die rem en petrolpedale genoeg ruimte gelaat vir die groot “moon boot” om met gemak in en uit te klim. Verder is die (elektriesbeheerde) bestuursitplek volledig verstelbaar om aan te pas by omtrent enige grootte bestuurder.
Soos te wagte is al die jongste kommunikasie en klanktoerusting daar, van Bluetooth tot musiekmedia en rekenaarskerm met rekenaar daarby om brandstofverbruik, reikwydte en ander inligting te bekom. Natuurlik ook die veiligheidstoerusting soos ABS en lugsakke en elektroniese beheerstelsel om bestuurderfoute uit te skakel. Die 4X4 aandryfstelsel word deur middel van ‘n sentrale draaiknop beheer en daar kan in die ry verskillende modusse gekies word.
Die Trailblazer is ‘n swaardiensvoertuig en maak gebruik van die klassieke (Isuzu) onderstel waarop die bakwerk vasgebout word. Die hart van die voertuig is die tweede generasie Duramax turbo-diesel enjin wat 144 kW teen 3 800 rpm ontwikkel en nie minder nie as 500 Nm wringkrag teen 2 000 rpm vrystel nie. Hierdie verrigting stel hom is staat om ‘n 10-voor ploeg te trek as die plaastrekker die slag nie wil werk nie. Met hierdie verrigting kan ‘n groot karavaan of boot ook lag-lag getrek word. En dit met ‘n 4-silinder enjin!
Die Chev beskik oor groot wiele met genoeg rubber om die ergste stampe uit die pad te haal. Die rit is egter effens stamperig en as ‘n rug sensitief is, mag daar effense probleme vir passasiers met sulke probleme wag. Vir sulkes gaan die Captiva, teen ‘n heelwat laer prys, miskien ‘n beter keuse wees. ‘n Pluspunt van die Captiva diesel is egter ‘n baie suinige brandstofverbruik wat as 10 liter/100 km aangegee word en op die Klein Karoo trippie baie na aan die werklike verbruik was.
Die stilering van die Trailblazer is moontlik meer modern as die van sommige mededingers maar dit bly natuurlik ‘n baie persoonlike en subjektiewe oordeel. Wanneer vroue ‘n keuse by die koop van hierdie soort voertuig het, sal dit sekerlik een van die belangrikste oorwegings wees!
General Motors beweer dat die Trailblazer aan die hoogste kwaliteitstoetse onderwerp word voordat die voertuie na Suid-Afrika verskeep word; ons het hoegenaamd geen rede gehad om hierdie aanspraak te bevraagteken nie. Die indruk oor slegte sinkplaatpaaie het heeltyd die indruk gewek dat hierdie grondpadvreter solied gebou is.
Die Trailblazer word verkoop met ‘n standaard 5-jaar / 120 000 km waarborg en diensplan vir 5 jaar of 60 000 km. Wat gaaf is van die voertuig is dat diensintervalle slegs elke 15 000 geskied en dus besoeke aan die handelaar, wat soms nie so naby is nie, tot ‘n minimum beperk.
En wat kos die voorreg om so handige vuurwa in die stal te trek? ‘n Tjek vir N$506 400 sal die ding doen. Maar as die voorkoms meer belangrik is, en daar nie regtig in die bos gery gaan word nie, is die tweewieltrek Trailblazer 2.5D LT met handrat teen N$386 500 ‘n aanloklike keuse!