Padtoets: Citroën DS5

Terug in die toekoms

Hoe ouer ons word, hoe meer leef en herleef ons die verlede. Dit het vir my weereens duidelik geword met ‘n blomme-kyk rit met die Citroën DS5 Namakwaland toe. Om twee redes, ek is ‘n gebore Namakwalander en op agtien het ek vir ‘n toetsrit agter die die stuur van ‘n Citroën ingeskuif, weliswaar nie ‘n DS nie maar die ID wat uiterlik net soos die legendariese DS gelyk het.

My verwagtings was hoog vir die paar dae wat sou volg. Die resultaat? Namakwaland is nog altyd dieselfde, die Citroën nie meer nie. Maar laasgenoemde is nie ‘n negatiewe opmerking nie!

Die aanvanklike indrukke van die Citroën is dat dinge nie veel verander het nie; die stuurwiel was nog steeds anders as ander motors s’n omdat hy nie heeltemal rond is nie. En soos by die laaste DS modelle van destyds, het die ligte saam met die motor gedraai – iets wat Mercedes dekades later nageaap het. Aan die binnekant was die meeste knoppies en instrumente en handvatsels en instrumente ook alles anders – in tipiese Franse styl. Maar dit is omtrent ook waar die ooreenkomste eindig; die sagte verstelbare hidrouliese suspensie het plek gemaak vir ‘n vering wat eie is aan sportmotors en wat toegeskryf moet word aan die lae-profiel bande van die DS. Maar dit moes ek vooraf geweet het want die betrokke DS was die HDi Sport weergawe. Die lewendige tweeliter turbodieselenjin, gekoppel aan ‘n voorbeeldige sesgang outomatiese ratkas, sorg inderdaad vir lewendige verrigting en uitstekende padhouvermoë. Hoewel ek persoonlik ‘n diesel-aanhanger is, is die konsep van ‘n diesel-sportmotor nog altyd ‘n bietjie vreemd, veral as dit  nog aan ‘n outomatiese ratkas gekoppel is. Maar genoeg hiervan; hoe lyk hy en hoe ry hy?

Waar ek gekom het, het mense kom kyk en vrae kom vra, dikwels tot ongemaklikheid vir wederhelfte wat nie regtig ‘n motormens is nie. Dit alleen is ‘n kompliment vir die nuwe groot Citroën want die stilering is modern, uniek en die mildelike gebruik van chroom laat hom uitstaan tussen ander motors van sy klas juis omdat hy anders is. Die nuwe Fransman is ontwerp vir die individualis en nie vir Janrap en sy maat nie. In Hollywood-terme het dit die status wat die groot Volvo’s in die jare tagtig geniet het.

Binne is daar genoeg ruimte vir vyf grootmense en elektriese-verstelbare sitplekke verseker dat die bestuurder die beste posisie kan vind om gemaklik te bestuur. Vir die groter en langer bestuurders is daar ook ‘n uitskoppaneel in die sitplek om langer bene meer steun te gee. (Net jammer ek het hierdie “ekstra” eers teen die einde van die toets ontdek). Verder is daar alles wat kan oop- en toemaak en die klank en vermaakstelsel is natuurlik uitmuntend. Die analoog horlosie kan nie gemis word nie en daar is ‘n mengsel van beide digitale en analoog instrumente aan boord wat in harmonie saamwerk. Die gebruik van ‘n digitale spoedmeter reg voor die bestuurder is ‘n praktiese ding wat bydra tot padveiligheid; so ook die kontroles wat vanaf die stuurwiel beheer word.

Die hart van die Citroën is die befroefde 2-liter diesel-turbo van Peugeot wat ook in die 3008 en 508 modelle van die moedermaatskappy gevind word. En laat ons nie vergeet nie, Peugeot is saam met Mercedes die pioniers vir die gebruik van dieselenjins in motors. Die reaksie van die enjin is oombliklik en die 340 Nm wringkrag wat teen 2 000 rpm beskikbaar is, in samewerking met die sesgang outomatiese ratkas, is ‘n uitstekende wenkombinasie. By dieselenjins is die DS5 se 120 kW teen 3 750 rpm meer akademies as van praktiese belang. Boonop doen die enjin sy werk baie ekonomies en effektief en het die brandstofverbruik net rondom 6 liter/100 km gaan draai sonder dat daar ‘n poging aangewend was om versigtig-ekonomies te probeeer ry. Dit is prysenswaardig in ‘n tyd van stygende brandstofpryse.

Verrigting oor die algemeen is uitstekend met ‘n versnellingstyd van 10 sekondes van wegtrek tot 100 km/h en ‘n naald wat op meer as 210 km/h sal gaan draai.

Ander joernaliste het al hierdie Citroën se harde, stamperige rit op growwe teer en grondpaaie as ‘n inherente tekortkoming aan die veringstelsel beskryf. Dit was dan ook die ervaring op Namakwaland se grondpaaie. Myns insiens dit is egter nie die sportsuspensie wat die oorsaak vir hierdie eienskappe is nie maar wel die gebruik van die laeprofielbande wat eerder op die renbaan pas as op ‘n gesinsmotor. Hierdie verskynsel kom ook voor by ander motors wat die laeprofiel-mode slaafs navolg. Dit mag Peugeot-Citroën, en talle ander vervaardigers, die moeite loon om meer die behoeftes van die kopers te probeer bepaal as om ‘n niche-mark te probeer skep.

Suid-Afrika is nie Europa of die VSA nie en ons toestande verskil soms dramaties van meer ontwikkelde lande. Onthou maar, slaggate op ons paaie word meer en nie minder nie! En van bande gepraat; is ‘n Citroën nog steeds ‘n Citroën as hy nie met Michelin bande toegerus is nie? Hierdie toetsmotor het bande op gehad waarvan die moedermaatskappy in Duitsland gesetel is!

‘n Laaste opmerking; Citroën het nog altyd ‘n reputasie gehad vir veilige ontwerpe. Die ou DS se lang enjinkap was ontwerp om te knak as dit ‘n voetganger sou tref om die impak te verminder. Op die terugtog van die blommekyk toertjie het ‘n tarentaal voor die DS beland. Met die sagte plastiekdele voor was die enigste bakskade ‘n klein diamantvormige klein paneeltjie wat in die slag gebly het; die tarentaal het oorleef! Geen wonder hy het 5/5 gekry vir Europese veiligheidstoetse nie.

Wie is die waarskynlike koper van die DS5 HDi 160 Sport AT (om sy volle titel te gee) teen N$399 900? Heel moontlik die seun of kleinseun van ‘n DS-eienaar uit die jare sewentig wat oor genoeg geld beskik om weg te breek van die nuwe mode om Duitse statusmodelle aan te skaf om in tel te wees by die ekonomiese en politieke elite. En wat kry hy op die koop toe? ‘n Diensplan van 5 jaar of 100 000 km.

Leave a Comment