Padtoets: Ford Kuga 2.0 TDCi Titanium AWD

Kuga bied meer; vra minder

Etlike maande gelede het die Kuga naam redelike blootstelling gekry, maar dalk nie vir die regte redes nie. Ford as vervaardiger het redelik baie deurgemaak sedertdien en slegs 3 maande gelede het die vervaardiger ‘n nuwe “botox” Kuga model bekend gestel.

Dié keer sluit die reeks glad nie die 1.6l probleemkind in nie en kry elk van die 1.5l en 2.0l modelle ‘n turbo by. Ons toetskar was die 2.0l TDCi Titanium (6-gang outomaties) AWD en selfs met hierdie status in die reeks, is die Kuga eintlik heel bekostigbaar in terme van waarde-vir-geld.

Van die oog af lyk die nuwe Kuga eintlik soortgelyk as die ouer weergawe, behalwe vir enkele veranderings rondom die ligte en allooi wiele. Beweeg na die binneruim en die Kuga se nuwe binneruim, Sync3 konnektwiteit-sisteme, asook vele nuwe indrukwekkende veiligheidsisteme, maak die nuwe Kuga ‘n redelike uitskieter.

Ons 2.0l Kuga het ietwat minder (45kW) krag as die Ecoboost ekwiwalent gehad, maar bied 60 meer Nm as die petrol weergawe. Die turbodiesel bied 132kW en 400Nm, die ratkas sag en effektief, met ratwisselings onder 2 500 opm. Plaas dit oor na “Sport” en die revolusies sal uitermaat ‘n bietjie hoër skuif. Verrassend was die feit dat ons nie die brandstof verbruik hoër as 7.4l / 100km kon kry nie (stedelike omgewing en langpad ingesluit). Hierdie syfer is 1.5l laer as wat ons met die nuwe Ford Focus 1.5 Ecoboost gekry het. Soortgelyk is hierdie getal so indrukwekkend, juis omdat dit vele kleiner en ligter kompetisie laat kopkrap.

Alhoewel die Turbodiesel ‘n sportfunksie het, sal dit nie sommer vinnig met die top 0-100km/h syfers meeding nie – ons beste tyd was 9.41 sekondes. Hierdie is egter nie die doel van die diesel variant nie. Die Ecoboost behoort ‘n paar sekondes weg te neem, maar ons mening is dat die turbodiesel effektief, sag en uiters ekonomies is.



Die meeste werk is aan die binneruim gedoen. Met meer spasie (465l kattebak spasie, of 1653l wanneer die sitplekke platgeslaan word) en oorgenoeg been- en kopspasie vir twee 1.9 meter lange persone in die tweede ry, is die Kuga ‘n baie goeie vriend vir daardie naweek Xterra-, of Desember langpad ritte. In die tweede ry kry passasiers selfs hul eie opslaantafels en tweepunt kragprop.

Bring die elektroniese (afstand- en voet-swaai beheerde) kattebak deur in, en die Kuga maak dinge net soveel meer gemaklik wat tyd betref.

In terme van afwerking aan die binneruim, is alle sitplekke (baie gemaklik) asook die stuurwiel met leer bekleedstel oortrek. Die res van die kajuit is met ‘n goeie gehalte harde leer bekleedsel oorgetrek, met gedeeltes plastiek wat so nou en dan ‘n verskyning maak. Bygesê, die plastiek lyk mooi, maar sal na aanloop van tyd moontlik krap. Daar is ook gedeeltes, soos byvoorbeeld rondom die rathefboom, waar die plastiek afwerking krakerig mag wees. Dit dra egter nie by tot enige padgeraas nie en die kajuit is goed geseël om selfs die effense padgeraas van die 19-duim wiele af te weer.

Die gespreks punt van die nuwe Kuga is egter die tegnologiese vooruitgang. Ons model was toegerus met die normale padveiligheids-instrumente soos ABS, EBD, ESP, 7 lugsakke, ISOFIX punte, maar ook bultstilstand-hulp, en ‘n trurat kamera.

Bykomend is natuurlik die handige Sync3 informasie sisteem op die 8” streelpaneel, sowel as navigasie en baie handige en maklike konneksie deur Apple carplay en Android Auto.

In terme van opsionele ekstra’s kan blindekol-hulp, baan-wisselingsbeheer en -hulp, en spoedbeheer ingebring word. Dis egter nie al nie. Die opsionele pakket sluit ook outomatiese parkering in. ‘n Uiters handige ekstra, wat sal kan help om die kar in enige gang- of parallel parkeerspasie in te wurm. Hierdie tegnologie het ons reeds teëgekom by veel duurder vervaardigers.



Laat die Kuga toe om ‘n oop parkeer spasie te vind in ‘n besige terrein, en die Kuga sal aan die bestuurder die nodige inligting bied om die voertuig suksesvol te parkeer. Alhoewel die Kuga self  sal stuur, is dit tog ‘n wyse besluit om die voet naby die rem pedaal te hou. Die Kuga sal instruksies gee om byvoorbeeld ‘n effektiewe 3-punt parkering te maak, maar sal van die bestuurder vereis om van tyd tot tyd te rem. Teen N$20 000 is die ‘ekstra’ pakket glad nie duur nie (in relatiewe terme) en sal ons dit aanbeveel.

Teen ongeveer N$510 000 en 4-wiel trek, was ons heel ingenome met die 2.0l turbodiesel. Dit merk al die boksies, behalwe reguitlyn barstende spoed (soos reeds gesê is hierdie nie die Kuga se eintlike doel nie en sal dit gemaklik enige verkeer steeds kan verbyvat) en finale plastiekafwerkings binne die Kuga. Hierdie is egter ‘n druppel in die emmer in vergelyking met die res van die werkende nuwe produk.

Kuga en Ford het heelwat deurgemaak sedert 18-maande gelede, maar het hulself heel goed van hul taak gekwyt om die nuwe Kuga eintlik ‘n onweerstaanbare kompakte-SUV produk te maak.

*Alle Kuga modelle word nuut verkoop met ‘n 4-jaar/120 000km waarborg, 3-jaar/onbeperkte aantal kilometres padlangse hulp, asook ‘n 5-jaar/ onbeperkte aantal kilometre roes waarborg.

Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media

Leave a Comment