GWM se Florid gaan sy stem dik maak in die motormark
‘n Wyse eerder as ‘n aggressiewe benadering om ‘n punt te bewys was nog altyd deur die eeue ‘n kenmerk van die Chinese samelewing. Anders as in die Weste, waar elke individu gewoonlik ten alle koste sy mening en opinie op die wyer samelewing wil laat geld, sal daar altyd in die Chinese kultuur ‘n oplossing probeer vind word wat die groter saak tot almal se bevrediging sal probeer oplos.
Wanneer Oos en Wes in hierdie opsig opinies ruil, laat dit gewoonlik die Westerling in ‘n staat van twyfel of hy of sy nou werklik die punt gemaak het wat hy of sy wou maak en watter waarde aan die “oplossing” geheg kan word. Vandaar dan ook die Chinese gesegde “mag jy in interessante tye lewe” wat deur die Westerling dubbelsinnig as ‘n seën óf vloek vertolk kan word!
Met die toetrede van die Chinese tot die Suid-Afrikaanse motormark ‘n paar jaar gelede kon hierdie gesegde net sowel destyds op die plaaslike motormark van toepassing gemaak word. Want die motormark het wel sedertdien, en is nog steeds besig, om interessante tye te beleef. Deel hiervan is die impak wat Chinese voertuie besig is om op die plaaslike en internasionale motormark te maak en reeds al gemaak het.
In hierdie opsig is GWM, of te wel Great Wall Motors, (hoe dan anders?) beslis die markleiers hier te lande in soverre dit Chinese voertuie betref. En die Florid gaan beslis instrumenteel wees en ‘n leidende rol in hierdie verband speel. Great Wall Motors is die grootste motorvervaardiger in private besit (hoewel die Party in China dalk ook as privaat geklassifiseer kan word!) in China met ‘n vervaardigingskapasiteit van 800 000 eenhede per jaar. Op hede word sowat 400 000 eenhede vervaardig waarvan slegs 40 000 uitgevoer word. Die res word deur die plaaslike Chinese mark opgeslurp. GWM se mikpunt is 2 miljoen eenhede teen 2015 en om hierdie mikpunt te bereik is 2 biljoen rand in aanlegte belê.
Dit is ongetwyfeld GWM se Florid wat op hierdie stadium ‘n nuwe dimensie aan Chinese voertuie plaaslik verleen. Slaan mens die betekenis van die woord “florid” na dui dit op “swierig, opsigtig, bloesend”, ‘n beskrywing wat op haas elke terrein van motorwees op die GWM Florid van toepassing gemaak kan word. Daar is geen twyfel nie dat die Florid ‘n ommekeer gaan bewerkstellig in die beskouing van baie voornemende en huidige motoreienaars wat miskien tot dusver skepties was oor Chinese voertuie.
Alhoewel daar deur sodanige skeptici aangevoer sal word dat die Florid se afwerking van die instrumentepaneel en die vooraansig baie aan Toyota se Yaris herinner, is dit geen geldige punt as dit kom by die waarde vir geld nie – siende dat die aankoop van ‘n motor die grootste belegging vir die individu is naas ‘n eiendom.
Om tot die kern van die Florid te kom. Waarvan praat ons? Ons praat van heel waarskynlik die beste belegging, as mens die aankoop van ‘n motor as ‘n belegging kan beskou, wat die voornemende aankoper van ‘n voertuig, hetsy vir die kleiner familie of die individu, kan maak met die aankoop van ‘n GWM Florid. Teen ‘n aankoopprys van slegs N$109 900 bied die Florid die volgende standaard eienskappe:
Lugreëling, afstandbeheerde sluitmeganisme, radio/CD-speler, kragstuur, elektries beheerde vensters en kantspieëls, verstelbare stuurwielhoogte, twee lugsakke voor, ABS- en BED-remondersteuning, radarwaarskuwing vir naby voorwerpe in trurat, beheermeganismes vir die klanksisteem op die stuurwiel en ‘n waarborg van 3 jaar/100 000km. Hande op vir ‘n beter koop!
Die 1500cc petrolinspuitingenjin lewer 77kw teen 6000rpm en 138Nm teen 4200rpm en is verbasend gewillig om 100 km/h binne ‘n bietjie meer as 12 sekondes af te draf. Die maksimumspoed is ‘n verdienstelike 162 km/h terwyl die Florid uiters suinig op brandstof is met slegs 7,6 liter verbruik vir elke 100 km.
Die Florid se naaste mededingers is die Chery J1 1,3 en die Renault Sandero 1,6. Die Florid oortref beide in kraglewering, maksimum spoed en brandstofverbruik sowel as veiligheidsaspekte, byvoorbeeld, ASB-remme wat die Renault nie bied nie – teen N$10 000 meer. Die Mac-Pherson veringondersteuning sorg dat die Florid rygenot bied en min bakrol in draaie ondervind.
Die Florid is nie perfek nie, (watter voertuig is?), maar daar is geen twyfel nie dat hierdie voertuig ‘n impak op veral die eerstekopermark gaan maak en dat daar beswaarlik ‘n beter-waarde-vir-geld kopie op die oomblik in die plaaslike voertuigmark is. Met die beskikbaarstelling van die GWM Florid slaag hierdie Chinese vervaardiger daarin om die Suid-Afrikaanse kopersmark deeglik te laat kennis neem van hulle mededingheid in die plaaslike mark.