Mooi lyk kom teen ‘n prys
In 2016 het Galimoto Media reeds die 2.0 Pure weergawe van die ikoniese F-Pace getoets. Sedertdien het die produk al hoe meer populêr geraak. Volgens NAAMSA doen Jaguar ook nie te sleg in die “meer eksklusiewe” mark nie.
Hierdie is nie so verbasend nie, siende dat Jaguar as vervaardiger ‘n kopskuif gemaak het en begin het om op die kompakte-SUV mark te fokus. Hierdie val presies binne die vraag van meeste Suider-Afrikaners.
Wat maak egter dat die F-Pace so goed verkoop teenoor ander “eksklusiewe” vervaardigers, wat dieselfde mark probeer betree?
Na afloop van ons toets met die 3.0 liter V6 Twin Turbo diesel S weergawe, het ons nie net 1 nie, maar vyf antwoorde op hierdie vraag gekry:
- Iets vir die oog
Eerstens is die F-Pace ‘n onmiddelike trekpleister. Gebou met die lyn en lig struktuur van die F-type, word die F-Pace nie maklik misgekyk op straat nie. Natuurlik speel die algehele grootte van 1.6m (hoogte) en 4.7m (lengte) ook ‘n rol, maar die F-Pace is ook ikonies in ontwerp. Orals word koppe twee keer gedraai en word die motor aandagtig bekyk by enige robot/stop straat.
Binne is die F-pace net so ‘n juweel met fyn beplande leer afwerksel. Die voertuig sit gemaklik in beide die eerste en tweede ry en noukerige aandag is spandeer aan klein dingetjies soos om die outomatiese ratkaspaneel, wat uit die sentrale konsole oprys elke keer as die motor aangeskakel word.
- Beenspasie
Drie volwassenes sal gemaklik agter kan sit (2.175m algehele breedte), met genoeg beenspasie vir persone tot 1.9m in lengte.
Dit is iets waarmee baie ander vervaardigers tekort skiet in hierdie segment.
- Spoed
Weens die sport-ideologie, is die F-Pace se 3.0l V6 ook nie stadig nie. Skakel dit oor na Sport en 0-100km/h sal afgehandel word in 6.3 sekondes. Hierdie is meer as 1.4 sek minder as die vinnigste bakkie op die mark, en parallel met baie van die huidige Sports-luikrug motors.
Bring dieselfde petrol eweknie in en ‘n resultaat van 5.5 sekondes word gelewer.
Natuurlik omdat hierdie ‘n V6 Diesel is, word die volle 221kW (by 4,000opm) en 700Nm (@ 1,500opm) teen baie lae revolusies gekry en die momentum word behou.
- Brandstof
Die diesel weergawe gee ‘n uitmuntende 6-liter per 100km. In ag genome dat die F-Pace ‘n 66 liter tenk bevat, raak petrol beamptes ook baie opgewonde om so nou en dan ‘n F-Pace op te merk.
Hierdie is natuurlik ook te danke aan die goeie aerodinamiese bakwerk struktuur.
- Hoogte van Grond
Die F-Pace is 4-wiel trek, maar sal nie sommer 4×4 vernuf kan uitoefen nie. Met 213mm van die grond af, sit die F-Pace hoog genoeg om daardie voorste verkeer te sien of dalk die kar maklik uit te ken in enige parkeer terein.
Die F-Pace, alhoewel innoverend en uitmuntend in terme van kwaliteit, spoed en beeldskoonheid mag dalk klein krakies bevat. Die opmerklikste hiervan is as volg:
- Harde vering
‘n Sportiewe DNA kan ook nagevolge insluit en dit is beslis nie anders met die F-Pace nie. In elk van die verstellings (Eco, Normaal, Sport en grondpad/sneeu) is die vering (Dubbele Aliminium voorste mikvering) baie hard. Natuurlik is dit belangrik vir ‘n ligter sportsmotor om meer rats te wees, maar in ‘n 2.5 ton voertuig, speel suspensie-gemak ‘n groot rol.
Alhoewel sisteme soos “Torque vectoring” in plek is, is die belangrikste van harde vering dat traksie op die grond beïnvloed word. Die tweede gevolg is dat daar nie net ‘n sak in die gat sal wees weens die koste van die F-Pace nie, maar ook die weeklikste besoek aan die Chiropraktisein.
‘n Harde vering en lae profielband kombinasie help ook natuurlik padgeraas aan (alhoewel windgeraas min is).
- Prakties
Afwerking in die F-Pace lyk heel goed op eerste oog opslag, maar raak redelik onplesierig, hoe meer tyd in die F-Pace spandeer word. Die eerste hiervan is die beklemtoonde 508-liter kattebak spasie. Hierdie mag dalk groot klink, maar ‘n volledig grootte spaarwiel maak dat die syfers op papier effens misleidend is. Finale afwerking hier is minimalisties, wat die idee skep dat dit op die laaste minuut gedoen is.
‘n Materiaal omhulsel steek natuurlik die spaarwiel mooi weg, maar veroorsaak dat geen vol grootte koelboks of reistas effektief kan inpas nie.
‘n Tekort aan ‘n effektiewe informasiestelsel (wat sukkel om te koppel aan enige Android en selfs Apple-produk met tye), verhitte sitplekke en ‘n effektiewe ratkas vir relatiewe lae spoed, skep die indruk dat die vervaardiger haastig was om die produk in die mark te stoot.
- Prys
Laastens is prys ook ‘n groot kopseer. Teen (vir die model) N$ 1 070 000 is die F-Pace S Diesel nie ‘n goedkoop familielid nie. Dit val wel in die eksklusiewe mark (met opsionele ekstra’s), maar tog is daar soveel ander kompakte SUV’s wat meer bied teen dieselfde prys of selfs minder.
Jaguar is een van die min vervaardigers wat dit reggekry het om een van hul ikoniese sportmotors in ‘n beeldskone kompakte-SUV te omskep. Die F-Pace is sekerlik een van die antreklikste en vinnigste motors tans op die pad, binne en buite. Hierdie mag dalk net die rede wees vir die F-Pace se goeie verkoopstatistiek.
Met hul wortels gegrond in die ontwerp van plat sports-motors, is daar egter nog timmerwerk met die F-Pace. Dit hoef geensins herontwerp te word nie, maar kort enkele verbeteringe om volle potensiaal te bereik.
Ons sien beslis uit na die volgende F-Pace wat die nuus sal breek.
Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media