‘n Wolf in skaapsklere
Jeep, met hul herkenbare 7-groef verkoelerrooster, sowel as uitmuntende prestasie op enige onbekende en ietwat buite-bereikbare grondoppervlak vir die normale familie-sedan, staan nog altyd bekend vir hul gemak, bestuursvernuf en 4×4 vermoëns.
Uit ‘n persoonlike oogpunt het ek nog altyd, sedert my studentelewe, gesmag na die ou Jeep Cherokee model.
Dit was simplisties, groot en tog ook ‘n voertuig waarmee jy ‘n status kon skep en op enige plek kon uitkom en die nag in jou ryding spandeer. Daar was egter ‘n negatiewe konnotasie, wat ek na aanleiding van ander se geprekke, gevorm het. Alhoewel hierdie jeep bekend gestaan het as ‘n uitmuntende 4×4, sou sy groot brandstofkeelgat en ‘n reputasie om te bedel vir duursame onderdele ‘n student soos ek binne etlike maande vining bankrot gemaak het. Ek moes hierdie droom vir eers laat vaar, alhoewel die idee van ‘n ou en bokserige Jeep Cherokee steeds aanloklik was.
Daar was uit die aard van die saak ‘n oomblik van paniek toe die nuwe, ronder en meer elegante Cherokee bekend gestel is in Mei 2014. Skielik het dit geblyk asof die plastiek verpakking ‘n baie sagter voorkoms aan die eens, rowwe blik voertuig sou gee. Vir twee jaar, moet ek bieg, het ek met hierdie bevooroordeelde persepsie geleef.
Die geleentheid het egter oor my pad gekom om Jeep se nuwe Cherokee vir ‘n naweek te toets op die uitgestreke teerpad tussen Stellenbosch en McGregor, sowel as ‘n grondpad by Robertson. Hierdie geleentheid sou ek nie wou laat verbyglip nie, allermins; die nuwe topmodel se naam is immers die “Trailhawk”. Nie die tipe voertuig wat ‘n troetelnaampie soos ‘Duifie’ sou kry nie. Ek moes die geleentheid aangryp om te sien of hierdie voertuig my die gevoel sou gee van die ou en rowwe model.
Met die eerste ontmoeting, kom hierdie “Trailhawk” aggressief voor, alhoewel meer gevorm en met ander lyne as sy pre-2014 voorgangers. Dadelik opvallend is dat hierdie voertuig heelwat hoër staan – 25mm hoër – as sy voorganger of enige ander Cherokee, met 17 duim aluminium wiele. Die kenmerkende sewe luggate is ook meer na vore geskuif.
Die mees opvallende kenmerk is natuurlik die nuwe en radikale verandering in die LED-hoofligte se vernoude voorkoms. Dit, gepaard met die opsionele swart strook op die enjinkap, is definitief nie die vooraansig van ‘n ‘blommekind’ nie, maar eerder ‘n aanduiding van ‘n rebelse geaardheid. ‘n Verdere bewys hiervan is natuurlik die twee uitlaatpype aan weerskante agter, ‘n voorsmakie van die brullende 3.2l v6 enjin onder daardie voorste swart strook.
Die afstandbeheerkontole, wat die tradisionele sleutel vervang, wys onmiddelik dat hierdie wa ryk is aan tegnologie en basies net elektroniese komponente het. Die agterste ‘kattebak’- deur lig vanself op met die druk van ‘n knoppie op die afstandbeheer.
Heelwat spasie word in die agterruim gelos en met die afslaan van die agterste passasiersitplekke, kan jy maklik jou branderplank en / of bergfiets inlaai vir daarna namiddaguitstappie om van vandag se besige lewensstyl te ontsnap. Ek moet bieg, tydens die naweek het ek dit nogal geniet om my hande-arbeid te verlig en my bure te verras met die Trailhawk se elektroniese werksverrigting.
Die bestuurder se posissie agter die stuur kan natuurlik ook elektronies verstel word en ‘n selfoon of tablet word maklik aan die Trailhawk se stelsel gekoppel. Reg rondom die kar is daar USB en 12 volt geriewe vir die herlaai van jou potensiële draagbare yskas of sonpaneel. Ek het in die bestuurstoel gaan sit met die verwagting dat die sitplek gordel my vanself sal vasmaak, maar die bestuurder het steeds die vryheid om hulself vas te gordel asook die stuurwielhoogte te stel!
Natuurlik voldoen die Trailhawk ook aan die sensor-norm van hedendaagse voertuie en gee dit ‘n duidelike waarskuwing indien iets naby die voertuig kom. Persoonlik sal ek almal sterk aanraai om verkieslik vas te gordel, mooi te kyk wat rondom die kar aangaan en sodoende seker te maak dat hul langpadvennoot, ‘n stil en sagsprekende persoon is. Ek het die fout gemaak om my weg in ‘n dig beboste area te probeer vind. Dit terwyl my passasier, asook die sitplekgordelsensor, almal kompeteer het om gehoor te word.
Van groot belang is die agterruit se verkleinde grootte, veral wanneer die sy-spieëls se buiging in ag geneem word. Die agterruit lyk stylvol, maar is ietwat klein en eintlik ‘n ornament. Tweedens kan die syspieëls misleidend wees, siende dat die glas hierin gebuig is om die bestuurder meer te laat sien. Ironies genoeg vorm hierdie ‘n baie groot blindekol en kan dit lei tot die besluit om na die geskril van die sensor te luister.
Hierdie bring my by die volgende punt. Van die oomblik dat jy besluit om met jou linkerhand die voertuig aan te skakel en uiteindelik die voertuig tot stilstand te bring, of dalk stop omdat die petrol opraak – watter een ook al eerste kom – voel hierdie voertuig soos ‘n swewende lugstraler.
‘n Kombinasie van pad- en enjingeraas-uitsluiting, ‘n nege-spoed outomatiese ratkas en natuurlik ‘n innovasie om traksie aan wiele te bied wat dit op enige gegewe oomblik die nodigste het, kan hierdie voertuig verwar word met ‘n luukse straler.
Hierdie dra by tot die feit dat die nuwe Cherokee ook tot 30% meer ekonomies is; volgens Jeep tot 10 l/100km. In die stad het ons gevind dat hierdie tot 13,5 l/100km kan styg, maar met die langpad voor jou, en met ‘n stabiele regtervoet, kan die Jeep met gemak onder 2000 rpm toer en dus tussen so min as 6 l/100km verbruik.
Die Trailhwak, soos meeste van sy nuwe broers, het vier verstellings. Siende dat ons aan die einde van een van die kwaaiste El-Nino verskynsels nóg is, kon ek nie die geleentheid kry om die “Sand/Mud” en “Snow” te toets nie. Ek het ook verkies om nie die “Rock” funksie te gebruik nie, siende dat dit nie nodig was om in 4-laestrek te gaan nie.
Die voertuig was wel meestal in “Auto” gelos waar die sisteem self antisipeer wanneer 4-wiel moet inskop; meer veiligheid bied in terme van briek-hulp, asook om wringkrag na die wiele te stuur wat die meeste aanvraag sou hê op enige gegewe stadium. Hierdie het veral gehelp met die oorgang tussen teer-, grond- en klippad. Die stelsel kon die suspensie vanself stel en die grondoppervlakte voorspel.
My Saterdagmiddag, buite ‘n stil plattelandse dorpie en tydens die hoof namiddag-Superrugby- wedstryde, is nog meer opgehelder toe ek die geleentheid kon kry om die “sport” funksie uit te toets. Met hierdie funksie kan die “Trailhawk” steeds dieselfde topspoed handhaaf as in “Auto”, maar met meer akkurrate ratwisseling, meer prominente enjinklank en harder vering, sal jy definitief vinniger by daardie topspoed kan uitkom.
Twee kardinale waarskuwings is egter dat die harde vering die kar ietwat stywer maak om die voertuig vinniger te maak. Tweedens word die traksiebeheer outomaties afgeskakel en kan jy verwag om die bande meer te laat gly, maar ook nie te veel nie. Die ESC word gereguleer en die krag word met ‘n 40/60% verspreiding na die voor- en agterbande afsonderlik gestuur.
Ek moet egter byvoeg word dat ek nie op een enkele stadium buite beheer gevoel het met hierdie voertuig nie, ongeag van die grondoppervlakte of potensiële gevaarsituasie. ‘n Akkurate en klein draaisirkel, ligte stuurwiel en remme, wat aanpas soos wat situasies opduik, verseker ‘n gemaklike rit vir die bestuurder en ‘n gemaklike en wiegende slaapgerief vir die passasiers!
Met Jeep se nuwe 4×4, 5-sitplek voertuig, is my verwagtinge definitief oortref. Steeds elegant, dog rof, gemaklik en gesofistikeerd, bied hierdie voertuig definitiewe bestuursgerief vir elke tipe bestuurder. Met die 9-spoed ratkas verskil die voertuig definitief van sy ouer broers en is dit ekonomies genoeg om bedags na die werkplek te bestuur en met die opsie om gereeld in die natuur te ontsnap. Die prys van ongeveer N$610 000 is vir alledaagse gebruik ietwat straf, maar as brandstofekonomie, ‘n 6 jaar/100 000 km diensplan, ‘n sukkelende SA ekonomie en ‘n vergelyking met enige Mercedes GLA, Audi Q-reeks, Volkswagen Tiguan/Touareg of BMW X-reeks teen mekaar afgespeel word, kan hierdie prys definitief nie as uitspattig gesien word nie.
Finale indruk: ‘n wolf in skaapsklere!
Performance:
0-10km/h: 0,34 seconds
0-20km/h: 0,85 seconds
0-30km/h: 1,48 seconds
0-40km/h: 2,09 seconds
0-50km/h: 2,73 seconds
0-60km/h: 3,57 seconds
0-70km/h: 4,49 seconds
0-80km/h: 5,43 seconds
0-90km/h: 6,54 seconds
0-100km/h: 7,95 seconds
0-110km/h: 9,44 seconds
0-120km/h: 10,94 seconds
0-130km/h: 12,53 seconds
0-140km/h: 15,08 seconds
0-100m: 6,69 seconds @ 91,03km/h
0-200m: 10,18 seconds @ 115,05km/h
0-300m: 13,07 seconds @ 132,29km/h
0-400m: 15,69 seconds @ 141,97km/h
===============================
0-10mph: 0,60 seconds
0-20mph: 1,61 seconds
0-30mph: 2,63 seconds
0-40mph: 3,96 seconds
0-50mph: 5,48 seconds
0-60mph: 7,46 seconds
0-70mph: 9,82 seconds
0-80mph: 12,31 seconds
0-90mph: 16,51 seconds
0-100mph: 21,74 seconds
1/4 mile: 15,75 seconds @ 88,40mph
==============================
Maximum acceleration G-force: 0.68G
Altitude: 65m
All data captured by Racelogic® Performance Box