Padtoets: Kia Sorento

KIA se nuwe (en verbeterde) Sorento bei̎ndruk

KIA se uiters gewilde en suksesvolle Sorento spog nou met etlike verdere verbeterings wat veral die bakontwerp, aandrywing, brandstofverbruik, beter hantering, meer rygerief en uitstekende veiligheidskenmerke betref.

Wat die buite ligte betref is die Sorento nou toegerus met nuut ontwerpte LED-hoofligte sowel as truligte waarvan die posisionering ook verander is, vertikaal geplaaste misligte en nuwe voor- sowel as agterbuffers.

Wat verbeteringe aan die binneruim van die AWD-model betref, spog die Sorrento met ‘n nuwe LCD-verligte instrumentegroep wat ‘n sentraal geplaasde 8-duim vertoonskerm om sodoende trubewegins te vergemaklik, insluit.  Wat veral vir buitelugliefhebbers van belang sal wees is die nuutontwerpte sondak van die Sorento wat tot agtertoe kan oopskuif.  Die in leerafgewerkte swart bekleedsel verleen aan die Sorrento die indruk van ‘n luukse binneruim wat nou ook meer sagte oppervlaktes insluit.  Alle modelle is as standaard ook toegerus met ‘n elektronies beheerde bestuursitplek verstelling wat tot soveel as ses verskillende bestuursposisies insluit.  Saam met die voorste  passasiersitplek kan dit ook verhit en geventileer word.  Die veiligheidskamera wat agter gemonteer is, ‘n “Stop/Start” knop met ‘n afstandbeheerde sluitmeganisme en ‘n Bluetooth handevrysisteem is ook standaard toerusting by alle Sorrento modelle.

Ryhoogte van die Sorento is met 10 mm verlaag wat beteken dat die vloer van die binneruim ook verlaag is en sodoende 30 mm en 9 mm meer beenruimte aan die tweede ry (by die FWD-model) en derde ry passasiers (AWD-model) onderskeidelik verleen.  Die verlies aan grondhoogte sal sekerlik vergoed word deur die 19-duim allooivellings van die AWD-model.

Tydens die bestuur van die nuwe Sorento het een kenmerk duidelik en dadelik opgeval en dit was die buitengewone minimale  binneruimgeraas.  Kan dan ook nie anders nie as mens die statistieke wat KIA Sorento in hierdie verband vrygestel het in ag neem.  Vibrasie deur die kajuitvloer is met 5% en deur die stuurwiel met 4% verminder.  Geraasvlakke gedurende luiering is vanaf 46db tot 43db en kajuitgeraaas teen ‘n spoed van 110 km/h vanaf 65db na 63db verminder.  Dit moet Sorrento sekerlik die stilste voertuig in sy klas maak.

KIA het sy R2.2 TCI elektronies veranderbare turbo-aangedrewe dieselenjin wat 146.9 kW lewer onveranderd behou maar die 2.2-liter enjin is nou ook toegerus met ‘n nuwe gassirkulasie uitlaatstelsel wat aansienlik vermindering van uitlaatgasse teweeg bring en ook beter brandstofverbruik lewer.  Die enjin lewer maksimum wringkrag van 436 Nm tussen 1800 – 2500 rpm terwyl die Sorento in staat is tot ‘n indrukwekkende versnelling van 0 – 100 km/h in slegs 9.9 sekondes in die geval van AWD-model.  KIA se ingenieurs maak aanspraak op ‘n topsnelheid van 190 km/h.

Die Sorento is toegerus met ‘n sesspoed outomatiese ratkas wat aan kopers die opsie van ‘n 2WD of ‘n AWD paket bied.  Die buitengewone hoë ratverhouding in sesde rat gee aan die Sorento ‘n uitstekende brandstofverbruik van ongeveer 8 liter per 100 km op buite stedelike gebruik terwyl die lae ratverhoudings in eerste rat die voertuig uiters geskik maak wanneer rowwer terrein aangepak wil word.  In die geval van die AWD-model word 100% krag vir aandrywing na die voorwiele verplaas wanneer op die oop pad bestuur word.  Indie geval van gladde en rowwe bestuurstoestande word 50% van die krag na die agterwiele verplaas as ‘n voorwiel greep op die oppervlak sou verloor.  Die bestuurder het ook nog altyd die keuse om van die “Lock Mode” gebruik te maak om sodoende gelyke kragverspreiding na al vier wiele te verplaas.

Die “FlexSteer” bestuurstelsel van die Sorento bied aan die bestuurder drie keuses van verstelling aan die bestuursproses naamlik Normal, Sport en Comfort wat die gemak waarmee die stuurwiel gedraai en beheer kan word behels.  Die Comfort modus maak dit ideaal in stadsverkeer terwyl die Sport modus meer opwinding aan die avontuurlustige op die oop pad sal bied.

Soos verwag kan word is die Sorento toegerus met ‘n lang lys van aktiewe en passiewe veiligheidskenmerke.  Dit sluit onder meer in:   Ses lugsakke, Elektroniese Stabiliteitsbeheer, HAC (wegtrek ondersteuning teen ‘n skuinste), CBC (Hoekremkontrole) ABS (anti-remsluitkontrole), EBD (elektroniese remkragverspreiding), TC (traksiekontrole), ROP (rolbeskerming) aktiewe kopruste  en ISOFIX hegting vir kinderstoeltjies.

Die toetsvoertuig, wat in die geval die AWD was, se brandstoftenk het ‘n 70 liter kapasiteit terwyl die bagasieruimte agter die derde ry sitplekke 258 liter vanaf die vloer tot die dak beslaan.  Sou die tweede ry sitplekke platgeslaan word bied die Sorento 1 047 liter pakruimte terwyl die algehele ruimte agter die voorste sitplekke ‘n indrukwekkende 2 052 liter bied.   Die KIA bied werklik alles wat van ‘n SUV verlang word – bestuursgenot, krag, luukse afwerking, gevorderde tegnologie, veiligheid, ekonomiese brandstofverbruik – en gaan beslis die aandag trek in sy spesifieke marksegment.

Die prys van die AWD is net onder N$480 000 en dié van die model met tweewielaandrywing net onder N$400 000.

Met die aankoop van die Sorento bied KIA ‘n vyfjaar / 150 000 km waarborg, ‘n vyfjaar/100 000 onderhoudsplan en ‘n driejaar padbystandsplan.

Leave a Comment