Padtoets: Mini Countryman Cooper S

Die Mini perspektief

My laaste ontmoeting met ‘n Mini strek terug na einde 2016 en laat ‘n glimlag op my gesig elke keer as ek daaraan dink. Die Mini Cooper S (afslaankap) was een van my gunsteling voertuie om die jaar te toets, bloot omdat ek soos Mark Wahlberg op die stel van “The Italian Job” gevoel het elke keer as ek my regtervoet aan gravitasie oorgee. In die ‘Sport’ funksie was hierdie kar ook nie sommer die normale ‘stil’ sluiper nie, maar eerder die aandag-soekende, geweerskoot-rasende, klein stadsverkenner.

Met nóg ‘n Cooper S in die oprit, was die verwagting dieselfde. Ek wou weer daardie rasper uitlaatstel en die skielike versnelling voel en hoor. Hierdie keer was dit die beurt van die Countryman. Die lywiger weergawe van die Mini en die dop, waarmee Nasser Al-Attiyah, Stephane Peterhansel en Nani Roma al 4 Dakar tydrenne gewen het.

Die Countryman tref die mark met ‘n intree prys van R430 324 en eindig met die duurste model, die John Cooper Works 4-wiel trek outomatiese ratkas, teen R636 972. Met ‘n 0-100 km/h tyd van 6.5sek., ‘n klappende uitlaatstel wat enige Kellogg’s Rice Crispy advertensie se droom sou wees en dan natuurlik daardie klank van die ‘afvalhekkie’  (weens die gebrek aan ‘n Afrikaanse word vir “wastegate”).

Noudat ek hieraan terugdink kan ek net myself skop dat ek nie permanent in die ‘Sport” funksie gery het nie. Deel van my werksfunksie was egter om hierdie Mini deur die ekonomiese stappe te sit en wel, dit het ook nie ‘n slegte resultaat gelewer nie met ‘n gekombineerde siklus van 7.5 l/100km. Die “Eco” mode versag natuurlik die enjin heelwat soos dit deur die 8-spoed ratkas wissel onder 2000 opm.

Lae-profiel bande met 19” JCW wiele gee natuurlik ‘n dubbele probleem. Eerstens word die rygemak effens gekniehalter en is dit redelik hard. Tweedens word padlawaai redelik maklik opgetel en mag dit dalk die volume van die gesprekke binne die voertuig verhoog na ‘inkopiesentrum’ status.

Hoër van die grond af en met ‘n algehele hoogte van 1557mm kan die wind nogals maklik rondom die kar gehoor word teen 120km/h. Die ekstra grootte verskaf darem nie net negatiewes nie en bring ‘n bagasieruimte van 450 liter (1390 liter met die agterste sitplekke afgeslaan) voor.

Hierdie is presies waarna meeste van die Suider-Afrikaanse publiek soek, ‘n voertuig wat nie noodwendig 4-wiel trek is nie (die countryman is 4-wiel trek), maar wat wel ‘n bietjie hoër staan.

Een van die definitiewe voordele van die voertuig is natuurlik tegnologiese veiligheid. Direk uit BMW se fabrieke, is hierdie Countryman instaat daartoe om in die ‘spoedbeheer’ funksie binne die lyne te bly, sowel as om ‘n veilige volgafstand te hou van die voorste verkeer. Hierdie is sensors, wat natuurlik die spoed van die voorste kar meet en dan die Mini se eie spoed daarvolgens reguleer. Die enigste kwessie hieraan verbonde is dat dit nie enige verkeer van sy-inkomende bane kan meet nie. Hierdie stelsel is dus uitstekend om te gebruik op die langpad, maar dit word nie aanbeveel in die nabye stedelike omgewing nie.

Die BMW X1: Gebou op dieselfde platform, maar duurder en meer gesofistikeerd

Die Countryman is natuurlik baie naby aan die BMW X1 en is gebou op dieselfde onderstel. Die Countryman is natuurlik effe duur, as dit vergelyk word met ander Mini modelle, maar is wel steeds goedkoper as die x1 se soortgelyke variante.

In terme van die binneruim is die Countryman ook ietwat meer stylvol met die ikoniese lig ‘halo’ rondom die streelpaneel (infotainment sisteem); dit kan met verskillende kleure toegerus word en  die Mini het ook natuurlik ‘n panoramiese sondak wat oopskuif.

Weens die feit dat die Countryman ook nader aan die grond is as die X1, is dit ook beter om te hanteer en ‘n redelik prettige afêre. Wel, natuurlik maak die grootte van die Countryman dit ietwat lomper as die kleiner Mini’s, maar verskaf dit steeds genoeg pret met ‘n goeie greep op die pad weens die 4-wiel trek. Die stuur is ook skerp en vining.

In geheel is die Countryman Cooper S ‘n redelik prettige kar. Blindekolle is egter ‘n probleem met betrekking tot die A-pilaar en klein agterruit, en ‘n trurat kamera sal baie nuttig wees vir die voertuig.

Die Kopskuif

Aanvanklik het ek gesukkel om die Countryman te plaas. Dit is nie ‘n 4×4 nie, is hard op die pad met daardie lae profielbande en mag dalk nie heeltemal ooreenstem met die naam; “Mini” nie.

Soos ek egter tyd met die voertuig spandeer het, het dit in my hart begin inkruip. Ja, dit is ‘n groter voertuig en ietwat lomper as ander Mini’s, maar hierdie is egter die kopskuif wat Mini graag wil bevorder. Nie net is dit ‘n praktiese en veilige voertuig nie, maar verskaf dit ook ontsaglike pret en goeie padhouvermoë teen ‘n uitendelike goeie relatiewe brandstofverbruik.

Kyk anders na hierdie voertuig en Mini mag dalk net die spyker op die kop geslaan het!

Welgedaan.

Teks: Franco Theron
Foto’s: Galimoto Media

Leave a Comment